Eet Mediterreens

Op ons onvergeetlike seevaart op die Queen Victoria was die etes uit die boonste rakke en is ons baie keer vergas op spesiale tema-aande met die heerlikste kosse wat voorgesit is. Gedagtig aan die wêreldwye gewildheid van Mediterreense styl kosse was dit vir my geen verrassing toe dit gereeld deel van die spyskaart was nie. Ons het by verskeie geleenthede gesmul aan platbrood, foccacia en ‘n antipasto-bord; falafels, pappardelle pasta met ragu, risotto, eiervrug parmigiana, lamskenkels en hoender-parmigiana (sien post oor tamatiestowe vir soortgelyke resep). Hier is my weergawe van resepte vir wat ons op die boot geproe het vir platbrood; eiervrug parmigiana en lamskenkels.

PLATBROOD
Heerlik om vooraf aan te peusel. Jy kan die bolaag na goeddunke verander.

Maak 2—3 platbrode
Voorbereiding: 30 min
Baktyd: 7—9 min

BROOD
300 g (500 ml ) klipgemaalde witbroodmeel
10 ml (2 t) kitsgis
5 ml (1 t) suiker
2,5 ml (1/2 t) sout
200 ml (3/4 k) louwarm water
15 ml (1 e) olyfolie
BOLAAG
Gerasperde mozzarella-kaas
Dun repies rooi en groen soetrissie
Skyfies wit knopie- en bruinsampioene
Skyfies ui

1 Meng die meel, gis, suiker en sout saam in ‘n groot bak. Meng die water en olie, voeg by en meng goed met ‘n lepel tot dit bymekaar kom. Meng verder met skoon hande tot ‘n deeg vorm, knie dan goed tot baie glad en elasties – 5—7 minute. Vorm in ‘n bol en plaas in ‘n geoliede bak, bedek en laat rys op ‘n warm plek tot dubbel die volume, sowat 30 minute.
2 Voorverhit die oond tot 230°C.
3 Plaas die deeg op ‘n meelbestrooide oppervlak en verdeel in twee tot drie bolle. Rol elkeen in ‘n sirkel- of ovaal vorm en so dun as moontlik.
4 Plaas die deegsirkels op ‘n groot bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is en sprinkel bietjie olyfolie en soutvlokkies oor elk.
5 Sprinkel ruimskoots kaas oor, pak die res van die bolaag-bestanddele bo-op en bak 7—9 minute tot goudbruin en pofferig op plekke.

SMULSAGTE LAMSKENKELS
Die knoffel word ongeskil bygevoeg. Druk die knoffel uit die huisies en smeer oor die vleis as jy dit eet.

Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 1h20 min

4 heel lamskenkels
10 ml (2 t) olyfolie
20 ml (4 t) balsamieke asyn
‘n paar takkies vars roosmaryn
10 heel knoffelhuisies, ongeskil
4 heel klein uitjies
1 blik (400 g) heel tamaties
Sout en vars gemaalde swartpeper
Fynaartappel of polenta om mee voor te sit

1 Besprinkel die lamskenkels met olyfolie, asyn en voeg die roosmaryn en knoffel by. Marineer oornag in die yskas.
2 Verbruin die skenkels in ‘n bietjie olyfolie in ‘n pot tot mooi goudbruin.
3 Voeg die marinade asook die res van die bestanddele by en geur met sout en peper.
4 Verhit en laat kook, verlaag dan die hitte, plaas die deksel op en laat prut sowat 1 uur 20 minute of tot die vleis sag, maar nie van die bene afval nie.
5 Sit voor op fynaartappel of polenta en skep die souserigheid rondom.

EIERVRUG PARMIGIANA
Skywe gebraaide eiervrug word afgewissel met kaas en ‘n tamatiesous met bo-oor ‘n geurige kaassous. Die eiervrugskywe word gesout sodat dit minder olie kan absorbeer. Dié gereg kan as ‘n porsie vir een persoon in ‘n stapeltjie voorgesit word (soos op die foto) of andersins in ‘n bak berei word as ‘n familie-gereg.

Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 30 min
Baktyd 30 min

750 g eiervrug, in 1 cm skywe gesny (ongeskil)
sout
olyfolie
1 ui, gekap
2 knoffelhuisies, fyngedruk
1 kg tamaties, ontvel en in stukke gesny
1 blik (400 g) tamaties
1 sakkie tamatiepasta
5 ml (1 t) gekapte vars oregano
Slout en peper
200 g mozzarella-kaas, in skywe gesny
250 ml (1 k) klaarbereide dik witsous
Vars gerasperde parmesaankaas

Voorverhit die oond tot 180°C.
1 Sout die eiervrugskywe, plaas in ‘n vergiettes en laat staan sowat 20 minute. Spoel af en druk droog.
2 Braai in verhitte olie in ‘n pan tot lekker bruin buite-om en sag. Skep uit.
3 Verhit nog ‘n bietjie olie in ‘n kastrol en braai die ui en knoffel daarin tot sag, voeg die vars tamaties, blik tamaties en tamatiepasta by, voeg die oregano by en geur met sout en peper. Bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat prut tot die tamaties lekker sag en geurig is.
4 Vir enkelgereg: pak 4 stapels eiervrug, tamatiesous en skywe mozzarella-kaas op ‘n groot gesmeerde bakplaat of oondvaste borde en giet die witsous oor. Sprinkel parmessankaas oor en bak in die oond vir sowat 10—15 min tot die gereg lekker warm en die kaas net-net gesmelt is.

Leave a comment