Net na ontbyt Sondagoggend kom die boodskap van die kaptein, Evans Hoyt, dat ons nie Walvisbaai gaan aandoen nie – ons het te veel tyd verloor met die laat vertrek uit Kaapstad en vaar nou direk na een van die Kanariese eilande, Tenerife, toe. Vir ons nogals ‘n teleurstelling, want ons is gek na Namibië en het nogals uitgesien na ‘n blitsbesoek selfs miskien aan Swakopmund. Die boot stop wel buitekant die hawe om kunstenaars op te laai wat op die boot kom optree.


Dis 10 dae op see en gee ons nou behoorlik tyd om die skip van voor tot agter te verken. Ons werk ook vir ons ‘n tipe dagrooster uit om die meeste te maak van die wonderlike warm weer en kalm waters. Gewoonlik het ons die vorige aand die skipkoerant deurgewerk om te sien wat alles die volgende dag op die program is – vir ons was die belangrikste om te sien watter stuk die aand in die teater op die planke is.

Soggens meld ek so net na 7 aan by die goedtoegeruste gimnasium waar mens of saam met ‘n instrukteur kan oefen of andersins doen ek my eie ding op die vele masjiene terwyl jy oor die voorste dek van die skip uitkyk. Na ‘n vinnige stort, verkas ek na die Lido-eetsaal waar daar ‘n heerlike spread uitgepak is. Tussen die klassieke ontbyte van spek, eiers, omelette en wors is daar heelwat heilsamer opsies om uit te kies, selfs ook ‘n afdeling met glutenvrye keuses – daar is heelwat vars vrugte, Griekse en ander jogurts, die heerlikste gekookte hawermoutpap, granola, compotes en baie neute; gerookte salm en makriel met piekels saam met ‘n verskeidenheid kase en waferbeskuitjies. Ek het ook vir my ‘n pakkie van Carmién se splinternuwe Gut tea ingepak en maak gereeld ‘n koppie. Ons maak ook ons waterbottels vol yskoue water waarmee ons dan dek toe verkas of sommer net daar by ons kajuit op die balkon in die son baai.


Kort voor lank is dit al weer tyd vir middagete en meeste van die tyd kies ons iets ligs – daar is altyd soesji en ek bou baie keer vir my ‘n heerlike slaai met al die vars bestanddele wat daar beskikbaar is. Daar is ook ‘n stasie waar jy vir jou die lekkerste pizza kan bestel.

Namiddae het ons gewoonlik op een van die oop dekke rondom die skip gestroll, tafeltennis of tennis op die boonste dek gespeel (nette keer dat die bal nie see in bons nie) of sommer verder op die balkon ontspan en uitgekyk oor die wye oseaan, partykeer het ‘n seevoël of twee ons vergesel, ander kere het ons selfs die waterspuit van ‘n walvis gewaar en skole klein dolfyntjies het gereeld rondom die boot baljaar.
Net na 3 smiddae kon mens gaan High Tea in die Queens Room met skons, aarbeikonfyt en room en propperse fyn komkommertoebroodjies – in styl voorgesit in silwer. Maar dié het ons gewoonlik ‘n skip gegee sodat ons aandete behoorlik kon geniet. ‘n Lekker namiddagbederf vir my was om in die biblioteek te gaan sit en lees. Mens sal jou eintlik verbaas hoe vinnig die tyd vlieg, al dink jy jy doen nie eintlik veel nie. Ek het ook nog nooit so baie keer op ‘n dag deur die stort gegaan en van klere verwissel nie, dis drukkend warm en swemklere word nie in die eetsale toegelaat nie.



Vis en seekos is daar in alle gedaantes op die skip: van gebraaide garnale, gebraaide vis en tjips, paella en tunasteaks tot ‘n spesiale verrassing van kreefstert-thermidor wat ons een aand in ons kajuit geniet.
Op Donderdag, 18 April vaar ons oor die ewenaar en dit gaan gepaard met ‘n spesiale seremonie by een van die swembaddens waar koning Neptune en koningin Neptuna die nuwe bootvaarders inlyf as waardige matrose oa met die soen van ‘n rou vis en doop met “slime” waarna jy geen ander opsie het as om in die swembad te spring om van die onwelriekende “slime” (wat eintlik oorskiet uit die kombuis is) te probeer ontslae raak nie.

Toe ons die aand by ons kajuit kom, wag ons sertifikaat dat ons “has crossed THE LINE that divides North from South”. Nou is ons volwaardige seevaarders op die seeroete van die beroemde seevaarder, Columbus en ons sien daarna uit om aan wal te gaan by die Karibiese eiland, Tenerife.
TUNA-STEAKS
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 10 min
Gaarmaak: sowat 2—3 minute (vir steak); aartappels: 15–20 min
4 tuna-steaks
Sap van ‘n groot suurlemoen
125 ml (½ k) witwyn
4 huisies knoffel, fyngedruk
Sout en peper na smaak
Olie vir braai
Bietjie room
1 ui, in blokkies gesny
3—4 aartappels, geskil en in skyfies gesny en net saggekook
1 Plaas die tuna in ‘n glasbak en giet die suurlemoensap en witwyn oor, voeg die die knoffel by. Marineer ‘n halfuur. Dreineer en verhit ‘n bietjie olie in ‘n warm pan. Geur die visporsies met sout en peper en braai in die verhitte olie tot alkant net bruin en nog goed pienk van binne. Verwyder uit die pan, giet bietjie room in die pan, geur met sout en peper en verhit tot dit effe verdik.
2 AARTAPPEL – Berei terwyl die vis marineer. Braai die ui in ‘n pan bietjie olie tot sag en voeg die aartappel by, braai liggies en druk effe fyn indien verkies saam met ‘n klontjie botter.
3 Skep ‘n hopie aartappel op die bord, plaas die tuna-steak bo-op en giet bietjie van die sous oor.
OONDGEBRAAIDE KNOFFEL-STEURGARNALE
Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak 15—20 min
30—36 steurgarnale met of sonder kop, dermpie verwyder
100 ml botter
100 ml olyfolie
15 ml (1 e) suurlemoensap
60 ml (1/4 k) stingeluie, gekap
30 ml (2 e) fyngedrukte knoffel
45 ml (3 e) fyngekapte pietersielie
1 suurlemoen, gehalveer
Skakel die element van die oond aand.
Verhit die botter en olyfolie in ‘n groot oondpan, groot genoeg sodat die garnale in ‘n enkellaag daarin kan pas.
Voeg die suurlemoensap, stingeluie en knoffel by.
Voeg die garnale by en meng totdat dit goed met die oliemengsel bedek is. Sprei uit in ‘n enkellaag in die pan.
Plaas 12 cm van die element in die oond en roostersowat 5 minute aan elke kant of tot net gaar en die vleis wit verkleur en die dope mooi pienk is – nie te lank nie!.
Braai die suurlemoen vinnig in ‘n bietjie olie in ‘n pan tot efe verbruin
Skep op ‘n dienbord, giet die pansappe oor en sprinkel die pietersielie oor.
Sit voor met gebraaide suurlemoenhalwes.
KREEFSTERT-THERMIDOR
‘n Resep wat ek opgediep het uit befaamde kos- en seekoskenner, Lannice Snyman se boek, Vars uit die see.
Genoeg vir 2 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: sowat 30 min
2 kreefsterte, skoongemaak en oopgesny, behou stert
15 ml (1 e) olie
15 ml (1 e) botter
30 ml (2 e) gekapte stingeluie
15 ml (1 e) brandewyn
Dik witsous gemaak van 30 ml (2 e) botter, 30 ml (2 e) koekmeel en 180 ml (3/4 k) melk
60 ml (¼ k) room
15 ml (1 e) gekapte pietersielie
3 ml (½ t) aangemaakte mosterd
Knippie paprika
45 ml (3 e) parmesaankaas
Geroosterde broodkrummels
1 Verhit die olie en helte van die botter in ‘n groot vlak oondpan en braai die kreefsterte met die gesnyde kant na onder vir 5 minute. Draai om, bedek die pan en bak in oond by 180°C vir sowat 15 minute tot deurgebak en die vleis mooi wit is. Verwyder die vleis uit die dop en sny is stukke. Giet die pansappe deur ‘n sif.
2 Roerbraai die stingeluie in res van die botter tot sag. Voeg brandewyn by en prut 5 min.
3 Meng die salotte met die witsous, room pietersielie, mosterd, paprika, helfte van die kaas en pansappe. Kook tot dit effe verdik en voeg die kreefvleis by.
Skep in die kreefstertdoppe, meng die res van die parmesaankaas met broodkrummels en sprinkel oor. Bak by 200°C. vir sowat 5 minute tot die krummels mooi bruin is. Sit warm voor saam met suurlemoenskyfies.
Wenk: Indien bevrore kreef gebruik word, moet die kreef eers ontdooi word en dan vir 1 minuut in kookwater gedoop word.
