Gecollar en getie

Dis Vrydag 12 April 2024 en die hele Kaapstad is in rep en roer, selfs premier, Allan Winde, vertel opgewonde oor die radio van die rariteit dat twee van die wêreld se mees befaamde passasierskepe, die Queen Mary 2 en die Queen Victoria, tegelykertyd vasgemeer is in die Kaapse hawe. Nie net sorg dit vir groot kykgenot nie, maar die hele hawegebied is ‘n geroesemoes van verkeer, want Kaapstad is een van die opklimplekke vir almal wêreldoor wat meegangers op ‘n wêreldtoer op een van die grotes wil wees.

Ons is geboek op die Queen Victoria en vir 17 dae gaan dit ons nuwe blyplek wees. Maar eers is daar ietwat van ‘n drama, want die skip kan nie in die hawe inkom nie, ‘n ander kleiner skip beset haar parkeerplek (en kan nie uitvaar nie a.g.v sterk wind) en sy moet buite die hawe anker gooi. Vir die passasiers aan boord is dit ‘n reuse teleurstelling, want baie van hulle het twee dae eksursies na plekke so ver soos Aquilla buite Worcester geboek vir ‘n wildsafari.

Met ons te boorde gaan, kry elkeen ‘n tipe instapkaart wat jou nuwe kredietkaart vir die res van die vaart word – dit sluit van jou kajuit oop en jy kan hom swipe vir enige aankope en ekstra drankies of etes aan boord. Maklik (maar ook gevaarlik, gelukkig met ‘n finansiële rekenmeester aan my sy, word daar daagliks recon gehou van ons spandering) . Ons kajuit is op dek 4 – nommer 4187, op die agterstewe van die boot met ‘n lieflike balkon en twee lêstoele. Die kajuit is ruim met net so ‘n ruim bed en ‘n knus rusbank met ook meer as genoeg pakplek en ‘n doenlike badkamer. Op die televisie swiep ‘n wêreldkaart elke nou en dan oor die skerm wat jou presies wys waar jy vaar. En jy is geensins verlore as jy wil weet van al die aktiwiteite wat daagliks aan boord aangebied word nie. Saans saam met ‘n heerlike sjokoladetjie vir elk, kry ons ‘n pragtige gedrukte “koerant” met al die nuus vir die volgende dag. Dit word ons bybel.

Ons is veronderstel om Vrydagaand uit te vaar en ons sien die sleepbote nader kom, net om weer te verdwyn in die donkerte. Uiteindelik, Saterdagoggend, met opstaantyd, vaar ons statig die hawe uit. Almal staan op hul balkonne, koffiebekers in die hand en wuif Kaapstad tot siens. Ons vaar verby Robben Eiland, dan diepsee toe met land wat gou gou net ‘n skim op die horison word.

Ek hou van verrassings en het met rede nie te veel navorsing oor die Queen Victoria gedoen nie, maar ek was tog skrikkerig dat die skip die ene “glitz en glamour” sou wees; iets wat my nou nie eintlik aanstaan nie. Maar toe glad nie, die skip doen die kapstein se woord as “the elegant Queen Victoria”, goed gestand. Die portale en wenteltrappe gedemp swierig met pragtige kunswerke oral; van die biblioteek tot kroeë asook die verskeie restaurante statig geklee met wit gestyfde tafeldoeke en servette; die Queens-room, wat instaan vir “afternoon tea” tot “ballroom dancing” saans, die ene styl met sy imposante kandelaar. Die goedtoegeruste Royal Court-teater indrukwekkend met kantbokse en dik fluweelgordyne. Daar sou ons vele pragproduksies geniet.

Die stylvolheid op die boot strek nie net tot by die dekor nie, die gaste moet ook meedoen; saans na ses raak die boot ‘n elegante venue met ‘n spesifieke aantrekkode: op gala-aande word daar opgedress in swart pak, strikdas en aandrokke terwyl ander aande weer “smart attire” is waar jy steeds stylvol moet aantrek, maar pak en das is nie werklik nodig nie. En is daar nou vir jou opgedress hoor – die Britte hou van hul glinsterrokke en stolas met passende juwele (met die afklim van die boot het ek ewe skielik die koffers en koffers bagasie verstaan).

So het dit gewerk: opgedress in jou aandpak en aandrok is daar stylvol aangesit in een of ander restaurant vir ‘n vyfgang-ete (jou tafel word spesiaal vir jou gereserveer) en daarna gaan woon jy die teaterproduksie van die dag by, of aangebied deur die skip se vermaakspan of andersins spesiale groepe. Daarna, as jy daarna voel, kan jy ‘n drankie geniet in een van die kroee of sommer net ontspan in die Queens room met nog vermaak.

Saterdag 13 April is my verjaarsdag wat toe saamval met ‘n gala-aand. Ons is geboek in die Verandah, as gaste van die senior skeepsdokter, dr Philna Dippenaar. Van meet af is alles net so spesiaal met strelende vioolmusiek by die ingang van die restaurant; ons kry ‘n spesiale tafel in die hoek naby die groot vensters waar ons die sonsondergang kan beskou. En op die koop toe word ons bedien deur ‘n Suid-Afrikaanse kelner. As lusmaker geniet ons bolletjies soet panbrood (amper soos mosbolletjies), daarna ‘n garnaalkelkie en vars slaai as voorgereg. Die hoofgereg ‘n heerlike “steakbord” vir die tafel met filet, riboog en potgebraaide stukkies beesrib, perfek gaargemaak, saam met al die nodige bykosse. Ter afsluiting kan ons kies tussen romerige kaaskoek en dieppan-appeltert met nog ‘n verrassing, ‘n koek spesiaal gebak vir my verjaarsdag. Vir meer bederf kan mens nie vra nie. Ek gaan slaap gelukkig en tevrede met die skip wat mens letterlik aan die slaap wieg.

POTGEBRAAIDE BEESRIB
Beesvleis is heerlik as dit eenvoudig berei word met minimum bestanddele.
 
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 10 min
Gaarmaak: sowat 1 – 1 1/2 uur
 
1 kg beesrib, in stukke gesaag
Sout en peper
60 ml (1/4 k) olyfolie
1 lourierblaar
12 knoffelhuisies, geskil
Warm beesvleisaftreksel of selfs ‘n bietjie rooiwyn soos nodig
 
Plaas die vleis in ‘n swaarboom-kastrol. Geur goed met sout en peper en vryf oraloor in met olyfolie. Voeg die lourierblaar en knoffel by en laat staan ‘n halfuur by kamertemperatuur.
Verbruin die vleis saam met die knoffel in die kastrol oor matige hitte. Draai die vleis gereeld om. Verwyder die knoffel sodra dit goudbruin is.
Gaan voort om die vleis verder te verbruin tot dit heerlik sag is, voeg ‘n klein bietjie beesvleisaftreksel en wyn by soos nodig (nie te veel nie) en bedek van tyd tot tyd sodat die vleis sag kan stoombraai, maar steeds heerlik bruingebraai bly.
Voeg die knoffel weer by, sit die deksel op, verwyder van die hitte en laat staan 20 minute sodat ‘n heerlike pansous kan vorm. Sit die vleis voor saam met die pansappe, en bykosse soos geroomde spinasie en pampoen asook gebraaide uieringe  
 
DIEPPAN-APPELTERT
Hierdie is ‘n kombinasie van resepte wat ek in my Bakboek-wenresepte opgespoor het.

Maak 1 appeltert
Bereiding: 30min
Baktyd: sowat 30 min
 
KORS
625 ml (1½ k) bruismeel
Knippie fyn kaneel
60 ml (¼ k) bruinsuiker
200 g yskoue botter, in stukkies gesny
2 eiergele
Yswater soos nodig
VULSEL
30 ml (2 e) botter
4 appels. ontstronk, geskil en in skywe gesny
80 ml (⅓ k) korente (opsioneel)
80 ml (⅓ k) gouestroop of heuning of bruinsuiker
10 ml (2 t) fyn kaneel
45 ml (3 e) mielieblom
60 ml (¼ k) water
Paar druppels amandelgeursel indien verkies
5 ml (1 t) vanieljegeursel
5 ml (1 t) gerasperde suurlemoenskil
Eiergeel en melk vir bo-oor verf
 

Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer die bodem en kante van ‘n 20 cm-losboom koekpan en stuif met meel.
1 KORS 1 Sif die meel en kaneel saam, voeg die suiker by en vryf die botter in. Meng die eiergele by met ‘n slaplemmes en net genoeg yswater by tot ‘n sagte deeg gevorm het. Druk aanmekaar en verkoel so 10 min
2 Rol in ‘n rolletjie en sny in skyfies. Gebruik driekwart van die skyfies en pak die skyfies op die bodem en teen die kante van die pan en druk met jou vingerpunte om ‘n egalige kors te vorm. Verkoel weer so 15 minute en bak dan blind (met waspapier en bone gevul) tot die kors net gaar maar nie bruingebak is nie, sowat 15—20 miniute
3 VULSEL  Plaas die botter, appelskyfies, krente (indien gebruik), gouestroop, heuning of suiker saam met die kaneel in ‘n kastrol en laat prut tot die appels net sag is.
4 Meng die mieliebom en water en roer by, verhit tot dit effe verdik. Geur met amandelgeursel, indien verkies en vanieljegeursel en voeg ook die suurlemoenskil by. Laat afkoel.
5 Skep in die voorbereide kors.
6 Rol die res van die deeg in ‘n ronde sirkel, effe groter as die pan. (sny vorms uit van die orige deeg) en plaas bo-oor die appels, druk die kante effe in. Verf met eiergeelmengsel, plak die vorms bo-op die deegsirkel vas, verf ook.
7 Bak die appeltert tot die bolaag goudbruin en gaar is, sowat 20—30 min .
8 Sit die appeltert warm of koud voor saam met vla of roomys.
 
GEBAKTE KAASKOEK
 Hierdie lekker ryk kaaskoek kom ook uit my bak-wenresepte.
 
Maak 1 groot koek
Bereiding: 30 min
Baktyd: 45 min
 
KORS
125 g botter
60 ml (¼ k) witsuiker
1 eier
500 ml (2 k) koekmeel
7 ml (1½ t) bakpoeier
VULSEL
4 houers (230 g elk) roomkaas of geroomde maaskaas of helte-helfte
375 ml (1½ k) suiker
250 ml (1 k) room
10 ml (2 t) vanieljegeursel
Gerasperde skil van 1 suurlemoen
Sap van 1½ suurlemoene
2 ekstra-groot eiers
VOORSIT
Bessie-compote
 
Voorverhit die oond tot 200°C.
Smeer ‘n 25 cm-veerklamppan liggies met botter of spuit met kossproei. Stuif met meel
1KORS KIits die botter en suiker saam, klits die eier by. Sif die meel en bakpoeier saam en roer by die meelmengsel in tot ‘n redelik stywe deeg vorm. Druk op die bodem en teen die kante van die pan vas.
2 VULSEL Klits al die vulselbestanddele saam tot net gemeng en giet in die kors.
3 Bak 45 minute, die koek sal nog nie heeltemal gestol wees nie. Maak die oonddeur oop en laat afkoel in die oond. Plaas in die yskas tot stewig.
4 Sit voor saam met ‘n bessie-compote.

    Leave a comment