Mediterreense Tamatiestowe

Ek hou daarvan om geregte te maak wat op ‘n verskeidenheid maniere ingespan kan word in my kookarsenaal. Hierdie tamatiestowe is een van hulle en daar gaan haas nie ‘n dag verby dat daar nie ‘n pot tamatiestowe op my stoof staan en prut nie. Dis die maklikste manier denkbaar om groente aan jou huismense voor te sit sonder dat hulle weet hulle eet eintlik groente (dis nou vir die alomteenwoordiges wat nou nie juis groente as kos beskou nie) Ekself is so versot daarop dat ek sommer ‘n bakkie vol sal uitskep en net so vir ete verorber, want sien mens kan maar goed weglê hieraan aangesien die stowe wemel van die sogenaamde vry groentes, wat nie juis gaan tel as jy porsies of kilojoules in berekening moet bring nie, sobyso, is dit sommer heerlike dieetkos.

Hierdie geurige tamatiesous met sy tipiese Mediterreense bestanddele is baie veelsydig. Buiten dat ek beesvleis daarin gaarstowe gebruik ek dieselfde sous om oor hoenderstukke of -schnitzels te giet wat ek dan in die oond bak of ek stowe lamskenkels daarin sag tot salige lipaflek-lekkerte. Enige stowevleis is ‘n wenner, nie alleen is dit meer bekostigbaar nie, maar is propvol geur en voedsaamheid. Ek hou veral van die bindweefselstukkies wat so lekker taaierig gaar word. Gepraat van daardie bindweefsel – dis propvol kollageen wat help om jou gebeente en gewrigte sterk te hou en natuurlik te help dat jou vel glad en soepel bly. Ek maak net altyd seker om meeste vet vooraf af te sny, anders kan jy gou ‘n olierige dis hê.

Met hoender verwyder ek bv helfte van die hoenderstukke se vel en behou die ander, want dis daar waar die kollageen sit. Met vark, behou ek ook die swoerd, maar sny die vet af. Die gaar velletjies swoerd haal ek uit die vleis en kap dit fyn op, dan meng ek dit weer by die vleismengsel in.

Ek geniet bucatini, oftewel hol spaghetti wat van 100-persent-durummeel gemaak word en ‘n laer glikemiese indeks as gewone broodmeel het, by die vleisskottels of net so saam met die tamatiestowe, maar jy kan ook polenta of geel mieliemeel voorsit.

Hierdie resep, asook ‘n resep vir die allerlekkerste tamatiebredie, nog by Cass Abrahams geleer, is te kry in my nuutste boek, Lekker en Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid. Gaan kyk op Carmién se webtuiste of andersins te kry in boekwinkels soos Bargain Books.

TAMATIESTOWE EN BEESVLEISRAFELVLEIS
Genoeg vir 6—8 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 11/2—2 ure

RAFELVLEIS
45 ml (3 e) olie
Sowat 1k g stowebeesvleisblokkies met min vet (jy kan varkstowevleis ook gebruik)
Sout en peper
1 pak (200 g) maer bladspekvleis, in stukkies gesny
TAMATIESOUS
6 knoffelhuisies, fyngekap
3 uie, fyn gekap
1—2 eiervrugte, in klein blokkies opgesny
4 wortels, geskil en gerasper of ‘n handvol fyngekerfde spinasieblare of halwe kop broccoli, in klein blommetjies gebreek
4 stele seldery, gekap (opsioneel)
250 ml (1 k) rooiwyn of groen rooibostee
45 ml (3 e) appelasyn
2–3 blikke (400 g elk) tamaties en ui (met geen preserveermiddels) of andersins 1 kg vars Roma-tamaties, in stukke gesny
1 sakkie (50 g) tamatiepasta
Paar songedroogde tamaties in vinaigrette
Knippie suiker
Handvol gekapte basilieblare
Gerasperde skil van 1 suurlemoen
Paar swart olywe
VOORSIT
500 g bucatini hol 100-persent-durum-spaghetti, gaargekook
Mozzarella- of parmesaankaas
Basilieblare vir afronding

1 Verhit die olie in ‘n groot kastrol of selfs drukpot.
2 RAFELVLEIS Geur die vleisstukkies met sout en peper en braai saam met die spekvleis indien gebruik tot bruin en gaar. Skep uit.
3 TAMATIESOUS Braai die groente vir die tamatiesous in dieselfde kastrol tot sag. Voeg die vleis weer by.
3 Voeg die rooiwyn en balsamieke asyn by, bring tot kookpunt, voeg dan die kruie en blikke tamaties, tamatiepasta en songedroogde tamaties by.
4 Verlaag die hitte en prut tot die vleis van die bene afval, sowat 1—11/2 uur lank, voeg water by indien nodig.
4 Skep die vleis uit, verwyder die bene en trek die vleis in rafels. Skep terug in die pot, Geur met suiker en sout en peper soos nodig. Voeg die suurlemoenskil en olywe by en prut tot ‘n dikkerige geurige sous.
5 Kook intussen die spaghetti tot net sag, dreineer.
6 VOORSIT Skep die spaghetti op ‘n dienbord en skep die sous bo-op, meng effe indien verkies. Rasper die kaas oor en rond af met basiliekruid.

Wenk: Langbeen-lamskenkels is net so lekker as dit gaargemaak word in hierdie geurige tamatiesous. Braai die skenkels effe tot bruin, skep uit. Giet die sous in die pot en voeg die skenkels weer by. Prut sowat 2 ure of tot die vleis gaar is en bykans van die bene afval. Sit polenta, waarby gaar sampioene en bietjie kaas ingeroer is, daarmee saam voor.

Wenk: Net so sonder enige vleiserigheid is die tamatiesous heerlik oor pasta. Rond net af met bietjie gerasperde pecorino-kaas.

GEBAKTE HOENDERSCHNITZEL Kap 6 hoenderborsfilette platter, sout en peper dit en rol in meel. Braai in bietjie olie tot gaar. Sny 2 eiervrugte en 8 murgpamoentjies in skywe en braai tot net gaar; pak dit saam met die hoender in lae in ‘n oondvaste bak. Giet oor elke laag van die tamatiesous. Pak bo-op skywe Mozzarella-kaas of meng andersins ‘n bakkie (230 g) geroomde maaskaas met sowat 180 ml (3/4 k) gerasperde pecorinokaas en skep bollings bo-op. Bak in die oond tot gaar en die kaas gesmelt is.

MEDITERREENSE HOENDER: Gaan so te werk: Prut die tamatiesous (sonder die bygevoegde vleis) tot geurig en totdat eiervrug heeltemal weggekook het.
Pak die rou hoenderstukke, wat gesout is in ‘n oondvaste skottel (baie keer pak ek ook sommer groenbone onder in die skottel). Voeg ‘n paar swart olywe by die sous en giet oor die hoender. Maak toe met tinfoelie en bak tot sag en gaar, sowat 11/2 tot 2 uur lank, afhangende van die grootte van die stukke. Maak oop en rooster vinnig onder die roosterelement van die oond tot mooi goudbruin. Jy kan natuurlik die hoender ook ontbeen en die vleis in stukke trek soos die rafelvleis. Heerlik om selfs koud op te dien saam met platbrode.

Leave a comment