Ek het opgegroei met pampoen in die groentetuin langs die plaashuis, want Ma is lief vir pampoen (nie dat ek dieselfde van my pa kon sê nie), veral broodpampoen is haar gunsteling en ons kinders het pampoentert en pampoenkoekies met kaneelsuiker oorgesprinkel, verslind. Ekself span pampoen sommer gereeld in en oondbraai dit graag, deesdae sommer vinnig in die AirFryer. Die heel bommelpampoene het ek al by verskeie geleenthede voorgesit – vir vele spesiale familiegeleenthede tot by die bekendstellingsete van die familie se Piekenierskloofwyne waar dit hemels was saam met die saggebakte lamsboud.
Mens kan tog te lekker rondspeel met die vulsels – ek verkies iets wat lekker gegeur is met speserye wat goed sal gaan by pampoen – dink kaneel en komyn saam met gemengde speserye en takkies vars koljander asook ietsie soets soos droëvrugte, veral rosyntjies of bosbessies en meng dit by van rys of koeskoes of enige ander tipe graan – ek het al selfs sorghum gebruik, in. Net so kan jy heerlik rondspeel met die vulsels vir kleiner bakkies soos soetrissie, botterskorsies, tamaties, self eiervrug. Dit kan natuurlik ook die ideale gereg wees om voor te sit vir ‘n vegan of vegetariër.
GEBAKTE PAMPOEN MET RYS EN LENSIES
Vul ‘n heel pampoen met geurige rys-en-lensies, strooi bietjie uietjippies en brosgebraaide croutons oor en smul aan ‘n heerlike vegetariese ete.
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 45-55 min.
UIETJIPS
2 uie, in dun skyfies gesny
mielieblom
Olie
PAMPOEN
1 heel pampoen
Sout
Fyn kaneel, komyn
Bietjie suiker
Paprika
1—2 snye ciabatta of suurdeegbrood, in klein stukkies gebreek
olie
RYS EN LENSIES
250 g swart of bruin lensies
Water of groenteaftreksel
45 ml (3 e) olie
10 ml (2 t) komynsaad
200 g basmatirys
5 ml (1 t) fyn koljander
3 ml (ruim 1/2 t) borrie
5 ml (1 t) gemengde speserye
5 ml (1 t) suiker
1 kaneelstok
peper na smaak
sowat 350 ml water
1 x 400 g-blik botterbone of kekerertjies, gedreineer
AFRONDING
koljanderblare (opsioneel)
dik, romerige jogurt
’n bietjie fyn komyn
Voorverhit die oond tot 200 ˚C.
1 UIETJIPS Giet kookwater oor die uieringe, laat staan tot koud, druk droog en rol in mielieblom. Rol in mielieblom en versprei die uie egalig in ’n enkellaag op ’n groot bakplaat en besprinkel met bietjie olie. Oondrooster tot gaar en lekker bros, sowat 10 min. Roer gereeld met ’n eierspaan sodat dit egalig kan gaar word. Hou eenkant. (ek doen sommer deesdae die tjippies in die Airfryer).
2 Verlaag die oondtemperatuur tot 190˚C.
3 Sny die kop van die pampoen af en verwyder die pitte en meeste vesels. Prik die pampoen aan die onderkant, plaas op ‘n bakplaat saam met die deksel en geur die binnekant goed met sout, kaneel, komyn en bietjie suiker. Bak tot net sag en gaar, maar nie stukkend gekook, sowat 1 uur lank afhangende van die grootte van die pampoen. Skep enige water uit die gaar pampoen.
4 Versprei die broodstukkies op ‘n ander bakplaat, sprinkel bietjie paprika en olie oor en plaas ook in die oond. Bak tot bros.
5 RYS EN LENSIES Kook die lensies in water of groenteaftreksel tot sag. Dreineer en geur met die sout.
6 Verhit die 45 ml (3 e) olie in ’n groot kastrol en roerbraai die komynsaad tot geurig, sowat 2-3 min. Voeg die rys, fyn speserye, suiker en kaneelstok by en meng deur
sodat die rysmengsel goed met die speserye bedek is. Geur met die sout en peper.
7 Voeg die water by, bring tot kookpunt, verlaag die hitte en laat sowat 15 min. prut tot die rys net sag en die meeste van die vloeistof geabsorbeer is. Voeg die lensies en bone by en verhit tot net warm.
8 Verwyder van die hitte, plaas ’n skoon vadoek oor die pan, plaas die deksel op en laat 10 min. stoom.
9 Roer die helfte van die uietjips by die rysmengsel, Skep die rysmengsel in die gebakte pampoen. en skep orige uietjippies bo-op. Sprinkel ook die brosgebraaide brood bo-oor.
10 Rond af met die koljanderblare (indien gebruik).
11 Sny die pampoen in dik skywe en sit voor met jogurt.
Wenk: Jy kan ook groentes soos gaar pampoenstukkies, soetrissie, blomkool of broccoli wat vooraf effe brosgebraai is, by die rysmengsel inwerk.
SOETRISSIE-BAKKIES
Soetrissies maak lekker bakkies waarin jy vir elkeen sy eie etetjie kan voorberei. Veral lekker om voor te sit as daar nie-vleiseters aansit by jou tafel. Ek verkies om hiervoor rooi of geel soetrissies te gebruik, maar jy kan tamaties, botterskorsie en selfs eiervrug ook gebruik.
Genoeg vir 4—6 mense
Voorbereiding: 20 min
Gaarmaak: 30 min
4—6 rooi soetrissies vir elk van die vulsels
MET KOESKOES OF BULGUR
250 ml (1 k) kokende groenteaftreksel
250 ml (1 k) koeskoes of bulgur
2 knoffelhuisies, fyngedruk
4 stingeluie, gekap
Olie
5 ml (1 t) fyn komyn
2 ml (1/2 t) fyn koljander
125 ml (1/2 k) sultanas of gekapte Turkse appelkosies, geweek
125 ml (1/2 k) gekapte amandels
60 ml (1/4 k) gekapte koljanderblare
MET RICOTTA EN SAMPIOENE
250 g gemengde sampioene, opgekap
1 knoffelhuisie, fyngedruk
¼ rooi ui, gekap
Olie
5 ml (1 t) suurlemoesap
225 g ricotta-kaas of roomkaas
Sout en peper
Geroosterde sonneblomsade en mikro-kruie vir oorsprinkel
MET SPINASIE EN KEKERERTJIES
1 ui, gekap
2 knoffelhuisies, fyngedruk
Olie
Groot handvol baba-spinasieblare
100 g songedroogde tamaties in vinaigrette, gekap
1 blik (40 g) kekerertjies, gedreineer
10—12 swart olywe, ontpit en grof gekap
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n bakplaat.
Sny die stingelent-kop van die soetrissies af en hou eenkant. Sny die wit gedeeltes uit.
KOESKOES OF BULGUR
1 Giet aftreksel oor die koeskoes of bulgur en laat staan tot goed uitgeswel. Vlok met ‘n vurk.
2 Roerbraai die knoffel en ui in die verhitte olie tot sag, voeg die speserye by en meng goed.
3 Voeg die uiemengsel saam met die droëvrugte, neute en kruie by die koeskoes of bulgur. Geur met sout en peper.
MET RICOTTA
1 Roerbraai die sampioene, knoffel en ui in verhitte olie tot sag. Roer by die ricotta-kaas in en geur met sout en peper.
MET SPINASIE EN KEKERETJIES
1 Roer braai die ui en knoffel in bietjie olie tot sag. Voeg die spinasieblare en songedroogde tamatie by en meng. Roerbraai tot die spinasie verwelk is. Roer die kekerertjies en olywe by.
OM TE BAK: Skep enige van vulsels in die soetrissie-magies, plaas die deksel terug en pak op die bakplaat. Bak sowat 20—30 minute of tot die soetrissie net sag is. Sprinkel sade, neute en kruie oor soos verkies en sit warm voor.
