Met ons onlangse kuier in die Karoo braai ons een aand skaaptjoppies wat heerlik ingelê is in ‘n geurige kerriesous. My swaer laat weet ons moet tog versigtig kom op die grondpad na hul plaas toe, want soos dit donker word, begin die koedoes loop. So is dit toe ook, ons het skaars afgedraai op die tweespoorpad en gewaar twee koedoes langs die pad staan. Statig stap hulle voor ons oor die pad en hop met een hengse sprong bo-oor die draad veld in. In die ligspoor van die bakkie kry die veld lewe met ‘n haas of twee, steenbokkie en ‘n uil, selfs later ‘n aardvark wat kopsku terugbeur tussen die bossies in. Die reuse plaasopstal is in kersligskemerte gehul, want dis beurtkrag, maar dit skeel ons min. Bo ons bied die uitspansel die helderste sterrespel met die suiderkruis steeds presies in plek om as rigtingwyser te dien. Mens voel klein as jy die almag so aanskou.
KERRIELAMSTOPPIES
As jy braai, is die tjoppies op sy lekkerste saam met braaibroodjies, maar as jy dit meer in styl wil voorsit, geniet koeskoes daarby saam met ‘n jogurtsous.
GENOEG VIR 8–10 MENSE
Bereiding: 20 min.
Gaarmaak: 20-40 min.
Staan: 12 uur
MARINADE
1 ui, gekap
olie vir braai
15 ml (1 e) geroosterde masala of matige kerriepoeier
5 ml (1 t) fyn kaneel
15 ml (1 e) borrie
3 ml (ruim ½ t) fyn komyn
5 ml (1 t) paprika
5 ml (1 t) fyngekapte knoffel
45-60 ml (3–4 e) bruinasyn
30 ml (2 e) sagte bruinsuiker
65 g tamatiepasta
125 ml (½ k) blatjang
125 ml (½ k) witwyn of rooibostee met speserye soos Carmién se Focus
worcestersous
sout en peper
VLEIS
8-10 lamstjoppies, boonste beentjie skoongemaak indien verkies
’n groot hand vol gekapte koljander
MENTJOGURT
250 ml (1 k) romerige jogurt
’n hand vol gekapte ment
KOESKOES
250 ml (1 k) koeskoes, geweek in 250 ml (1 k) kokende aftreksel
1 avokado, in blokke gesny
’n hand vol kersietamaties, in blokkies gesny
’n hand vol vars koljanderblare, gekap
suurlemoenslaaisous
’n paar gekapte neute
1 Marinade Braai die ui in die verhitte olie tot sag. Roer al die speserye by. Voeg die res van die marinadebestanddele by, bring tot kookpunt en laat 5 min. prut. Laat afkoel.
2 Vleis Pak die tjoppies in ’n niemetaalbak en giet die marinade oor. Sprinkel die koljanderblare oor. Bedek en marineer 12 uur in die koelkas.
3 Oor die kole Skep die meeste van die marinade af en braai oor matige kole tot mediumgaar. Bring die marinade weer goed tot kookpunt. Sit voor saam met
die tjoppies.
4 In die oond Voorverhit die oond tot 180 °C. Plaas die tjoppies in ’n oondvaste bak en giet die marinade oor. Bak sowat 40 min. Ryg die tjoppies aan ’n sosatiestok
en braai die vitrand in ’n gietysterpan uit tot bros.
5 Mentjogurt Meng die jogurt en die gekapte ment. Rond die tjoppies af met ’n skeppie mentjogurt bo-op.
6 Koeskoes Meng al die bestanddele en sit voor saam met die tjoppies.
HOENDER-BOTTERBOONKERRIE
‘n Heerlike Maleise hoenderkerrie wat kan instaan vir huiskos maar ook vriende oornooikos. Deesdae sorg ek altyd dat ek ‘n pot rooibostee byderhand het waarmee ek enige kerrie of bredie aanklam. By kerrie is ‘n tee met speserye soos Carmién se Focus of andersins een met brandrissie en gemmer, Carmién se Revive, ideaal om te gebruik en help tog te lekker om die geure mooi met mekaar te laat praat en saam te bind. In hierdie kerrie geniet ek veral die botterbone daarin. Vir my is dit nommer een om roti’s daarby voor te sit.
Genoeg vir 6 mense
BEREIDING: 15 MIN.
GAARMAAK: 45-50 MIN.
60 ml (¼ k) olie
3 uie, fyngekap
3 kardemompeule
2 kaneelstokke
1,5 kg hoenderporsies, dye en boudjies, vel verwyder
sout na smaak
6 knoffelhuisies, fyngedruk
2 lourierblare
15 ml (1 e) borrie
10 ml (2 t) fyn komyn
30-45 ml (2-3 e) geroosterde masala
5 ml (1 t) rissiepoeier
45 ml (3 e) bruinasyn
15 ml (1 e) suiker
250 ml (1 k) Carmién-rooibostee, gemaak met 3 sakkies Focus (met speserye) of Revive (met brandrissie en gemmer)
4 x 410 g-blikke botterbone, gedreineer
vars koljanderblare
VIR VOORSIT
roti’s of basmati-rys
verskeie sambals
1 Verhit die olie en smoor die uie saam met die kardemom en kaneel vir sowat 15 min. of tot die uie sag is. Voeg water by soos nodig.
2 Voeg die hoender, sout en knoffel by en braai 15 min. Roer af en toe.
3 Voeg die fyn speserye, asyn en suiker by en roer deur.
4 Voeg 250 ml (1 k) tee of andersins water by en laat 20 min. prut. Roer af en toe.
5 Voeg die bone en ’n bietjie water by en laat prut 15-20 min. of tot die hoender sag en gaar is. Sprinkel die koljanderblare oor.
6 Vir voorsit Sit voor saam met roti’s of rys en verskeie sambals.
