Souttert Bazaar

Elke jaar net voor Paasfees hou ons kerk op Langebaan bazaar. Nie sommer so nie, dis omtrent ‘n gedoente, behalwe vir die gewoontelike koek- en poedingtafels maak die gemeentelede ook wors, en daar word ‘n potjiekosaand gehou. Die toeloop is goed. Die teetuin is gewoonlik in die middel van die saal waar moeë bazaargangers vir ‘n wyle kan sit om te rus en ‘n koppie tee of koffie saam met ietsie te eet, kan nuttig. Die keuses is ruim en word onder groot glaskoepels by die luik (wat na die kombuis toe gaan) op die opdienblad uitgestal, elkeen mooi met sy beskrywende naam daarby. Soos wat mense al hoe meer begin wegskram van soet, het die vraag na soutigheid al hoe groter geword. Soveelso dat Riana, die sameroeper, kort voor die bazaar ‘n benoude versoek vir souttert op die groepie geplaas het. Ek was eintlik verlig, want ek bak veel eerder souttert of quiche as koek. Dadelik het ek my resep vir ‘n heerlike groentetert (met ‘n broodkrummelkors) nadergetrek asook ‘n resep van Isabella Niehaus vir spinasie-en-filotertjies waarmee sy een episode van Jy het ‘n Wenresep gewen het. Dis alreeds na drie die middag toe ek uiteindelik die kombuis binnestorm om gou die soutterte te bak, want by die kerk wag hulle al daarvoor. Daar’s nie tyd vir kors aanmaak of so nie, ek gebruik sommer filo, het juis die oggend ‘n pak vars filodeeg gekoop. Nou kyk, ek skrik nie daarvoor om met filodeeg te werk nie – dit voel vir my nes papier wat jy so liggies tussen jou vingers kan frommel, maar o wee, vandag se filodeeg is droog en die velle sit aanmekaar vas. Ek gooi dadelik ‘n klam doek oor die deeg in die hoop om dit minder bros te maak,maar dit help nie veel nie. Met lappies deeg wat so stuk-stuk van mekaar loskom bou ek ‘n kors in die koekpan. Ek’s benoud, want ek weet mos daar mag ‘n paar beoordelende oë ook wees, maar dit lyk nogals nie te sleg nie. Die groentetert se vulsels kry van botterskorsie en rooi soetrissie in met die “geheime bestanddeel” wat die groot lekkerte gee, ‘n paar songedroogde tamaties. Die spinasietertjies maak in ‘n japtrap aan, want mens druk die fyngesnyde spinasie net so vars in die deegdop vas.
Ek het nog nooit van room gehou nie, maar souttert se eiervla kan jy nie net met eier en melk aanmaak nie, so ek bedink toe die plan om geroomde maaskaas saam met jogurt te gebruik – dit gee ‘n heerlike vullende souttert en het so ‘n effense surigheid by. By die bazaar was die soutterte ‘n hit.
GROENTETERT IN BAIE GEDAANTES

Jare terug het ek ‘n groentetert met ‘n broodkrummelkors in Wenresepte 6 gepubliseer met basiese groentes soos wortel en kool as vulsel. ‘n Ware wenner vir heerlike aandetekos, wat dit inderdaad toe op my tuistafel geword het. Ek het die resep weer gaan afstof en dit tot al gemaak vir ‘n funksie op George waar die Van Kervel-skool ons gul ontvang het. En ek speel heerlik rond met vulsels – sit botterskorsie en patat in wat ek sommer in die Airfryer gaarmaak. Wanneer ek die ui braai gooi ek so teen die einde ‘n goeie skoot ongefiltreede appelasyn by – dit verleen ‘n heerlike smaak aan die uie en jy kry ook ‘n goeie skoot goedheid in. Die
groot geheim egter vir my bly die songedroogde tamaties wat ek by die vulsel insny. Die eiervlavulsel maak ek met natuurlike jogurt, nie room nie.

BROODKRUMMELKORS
3 uie, gekap
Sowat 15 ml (1 e) ongefiltreerde appelasyn met heuning en gemmer (ek gebruik Safari s’n)
Olie
6 snye volkoringbrood, in stukke gebreek, korsies en al
Sowat 30 ml (3 e) botter
VULSEL
2 medium botterskorsies, geskil, ontpit en in blokke gesny
2 patats, skoongeskrop en in blokke gesny
Soutsprinkel vir groente (ek gebruik Ina Paarman s’n)
Olyfolie
200 g maer spekvleisstukkies
1—2 rooi of geel soetrissies, in blokkies gesny
Handvol baba-spinasie (opsioneel)
6 songedroogde tamaties in vinaigrette, kleiner gesny plus van die vinaigrette
EIERVLA
6 eiers
1 houer (230 g) geroomde maaskaas
250 ml (1 k) Lactolite ongegeurde jogurt
125 ml (1/2 k) melk
30 ml (2 e) mielieblom
Sout en peper
150 g wit Cheddarkaas, gerasper

Voorverhit die oond tot 190°C. Spuit 2 losboom-tertpanne, onderskeidelik 20 en 25 cm in deursnee goed met kossproei.

1 KORS Braai die ui in bietjie olyfolie tot sag, voeg teen die einde die appelasyn by en verhit tot verdamp. (hou twee derdes van die ui eenkant vir die vulsel).
2 Plaas die ander ui saam met die broodstukke in die bak van die voedselverwerker en kan goed fyn tot krummels, voeg die botter by en verwerk tot dit ietwat aanmekaar begin kleef.
3 Druk die krummels slegs op die bodem van die tertpanne vas en verkoel.
4 Meng die botterskorsie en patats, geur kwistig met die soutsprinkel en sprinkel bietjie olie oor. Werk die olie deur met jou hande.
5 Pak die groentemengsel in ‘n enkellaag in die bakkie van die Airfryer en braai sowat 30—40 minute lank of tot sag en bruingebraai buite-om.
6 Braai intussen die spekvleisstukkies in ‘n pan tot gaar, voeg die soetrissie by en braai effens. Voeg die spinasie by en verhit tot effe verwelk.
7 Meng die botterskorsie- en spekmengsel en verdeel tussen die tertpanne. Maak gelyk.
8 Klits die eiers, voeg die jogurt en mielieblom by, geur met sout en peper en klits goed. Roer die kaas by.
9 Giet oor die vulsel in die tertkorse en laat dit tussen die vulsel inloop.
10 Bak sowat 30—40 minute of tot die eiervla gestol is. Laat afkoel en sit voor saam met slaai.

Variasie: KOOLVULSEL Braai 2 gekapte uie saam met 4 fyngedrukte knoffelhuisies tot sag. Voeg 2 soetrissies, wat in blokkies gesny is by en braai effe. Voeg 250 ml (1 k) fyngekerfde kool en 3 grofgerasperde wortels asook 10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil by en meng goed. Skep in die voorbereide korse en sprinkel 100 g boontjiespruite oor. Berei die vlavulsel soos beskryf en giet bo-oor. Bak tot gaar.

SPINASIE-EN-FETA SOUTTERTJIES
LEWER 6 MUFFINGROOTTE- TERTJIES

Bereiding: 15 min.
Bak: 25 min.

4 velle filodeeg, elkeen met gesmelte botter geborsel
’n klein hand vol gesnipperde spinasie per tertjie
’n groot hand vol gekrummelde fetakaas per tertjie
EIERMENGSEL
4 eiers
250 ml (1 k) melk
250 ml (1 k) natuurlike jogurt, karringmelk of room
1 houer (230 g) geroomde maaskaas
’n knippie mosterdpoeier
’n knippie neutmuskaat
swartpeper na smaak
’n hand vol gerasperde parmesaankaas

Voorverhit die oond tot 170 °C. Bespuit die holtes van ’n groot muffinpan goed met kossproei.
1 Plaas twee velle deeg op mekaar. Halveer. Sny elke helfte in kwarte. Herhaal met die ander velle.
2 Voer die muffinholtes met twee stukke van die filodeegkwarte uit sodat hulle oorvleuel en ’n koppietjie vorm.
3 Sprinkel nou ’n bietjie spinasie en fetakaas in elk.
4 EIERMENGSEL Klits al die bestanddele buiten die kaas saam en giet in elke kors tot goed vol. Sprinkel parmesaankaas oor.
5 Bak 20-25 min. of tot die eiermengsel gestol is. Sit louwarm voor met tamatiepesto indien verkies.

Variasie: Jy kan enigiets insit – engelvis en salm werk veral goed.

One thought on “Souttert Bazaar

  1. Hallo Carmen

    Ek vertrou dit gaan nog goed……..

    Ek wil net hoor of ‘n mens die souttert met broodkrummelkors kan vries? En as jy sou kon, bak jy hom eers en vries dan of kan jy “rou” vries en ontvries en dan bak.

    Ek hoor graag van jou.

    Mooi dag

    Elieda Matthee

    (Pierre se vrou)

    Like

Leave a comment