Avokado bederf

Ek voel sommer baie bevoorreg om deel te kan wees van die groep kosskrywers wat jaarliks deur die South African Avocado Growers’ Association uitgenooi word om die afskop van die avokado-seisoen in Suid-Afrika te vier. Hoe lekker was dit nie om ‘n slaggie weer skouers te skuur met befaamde kookboekskrywers en kosbloggers soos Ilse van Der Merwe, Sam Linsell en Jenny Morris nie, om maar ‘n paar te noem, maar veral om weer die drade te kon optel met die internasionaal bekroonde glansstersjef en tv-ster, Siba Mtongana, wat ook deesdae restaurateur is. Ek en sy het jare lank saam gewoeker en gewerskaf in die toetskombuis om kosstories vir onder andere ook Drum bymekaar te sit.

Hoogseisoen vir avokado’s is vanaf Maart tot Oktober/November maar met verskeie nuwe variëteite is daar nou bykans heeljaar deur avokado’s beskikbaar. Avokado’s is nie net gesog vir hoe lekker hulle is nie, hul voedsaamheid verdien ook baie punte: Hul bevat baie vesel en het ‘n lae glukemiese indeks, wat dit ideaal maak vir diabete om te geniet. Avokado’s is gluten- asook cholesterolvry met min sout. Alhoewel avokado’s se vetinhoud hoog is, is dit meestal onversadigde vette wat gesonder is en ook kan meehelp om hartgesondheid te ondersteun en cholesterolvlakke te verlaag.

ROMERIGE GROEN AVO-SLAAI
HIerdie is ook ‘n heerlike peuselslaai saam met ‘n paar bros beskuitjies. Om dit egte Weskuskos te maak, voeg ek ‘n paar repies bokkom-biltong by. Dié lekkerte spoor mens deesdae ook in supermarkte op.
Genoeg vir 3—4 mense
Bereiding: 15 min
Gaarmaak: geen

2 ready to eat avokado’s, gehalveer
Sout en peper, paprika of rooipeper en bietjie vars lemmetjiesap
Halwe bossie grasuie, gekap
Halwe kop broccoli, in kleiner stukkies gesny, liggies gestoom en weer verfris in koue water
1 klein komkommer, in blokkies gesny
Paar baba-tamaties, gehalveer
1 houer baba-spinasieblare of 1 Cos-blaarslaai, fyn gesnipper
Japannese sojasous
SOUS
Lite mayonnaise
Natuurlike jogurt
AFRONDING
Handvol boontjiespruite
Strooisel sesamsade

1 Hou een helfte heel en skil dit af. Hou eenkant.
2 Druk die ander avokado’s goed fyn en geur met sout en peper na smaak asook bietjie paprika of rooipeper (pas op vir te sterk). Voeg ‘n goeie skoot lemmetjiesap by.
3 Meng die grasuie, broccoli en komkommer by die fyngedrukte avokado in.
4 Plaas die spinasieblare in ‘n bak en skep die avokadomengsel bo-op.
5 Rangskik ook ‘n paar tamaties rondom en plaas die heel avokado-helfte bo-op.
6 Giet ruimskoots sojasous oor.
7 Meng gelyke hoeveelhede mayonnaise en natuurlike jogurt en streep daarvan oor die slaai.
8 Sprinkel boontjiespruite en sesamsade oor
9 Geniet so gou as kan saam met brosbeskuitjies.

Leave a comment