Met ons vinnige kuiertjie op Graaff-Reinet, skaf ons toe sommer vir ons ‘n Karoolam aan. Die kampvrieskas kom goed te pas en ons kan alles gemaklik vervoer sonder om te kommer dat die vleis sal bederf. Eerste naweek tuis in ‘n lang tyd en ons nooi goeie pelle oor om saam met ons die Karoolam te kom geniet. Aan Karoolam torring mens nie te veel nie en hy vra ook nie vir te lank oor die kole nie.
Terwyl die vuurtjie gesellig knetter in die knus kuierhoekie in die quad, met die koeligheid wat nou saans vanaf die meer begin oorstoot land se kant toe, het ons nou die agterste quad, wat lekker beskut is vir die voorstoep verruil, maak ek ‘n paar bykosse: ek hou dit eenvoudig met sorghumslaai, pampoentert, wat toe patattert word en ‘n saadbroodjie. Die bottel kosbare lemoenheuning wat ek present kry, werk perfek saam met die broodjie.
Al hoe meer mense, ekself inkluis, kom deesdae agter dat gluten maar net nie te goed met jou wil akkodeer nie. En omdat ek so lief is vir ‘n lekker broodjie, eksperimenteer ek heelwat met glutenvrye gebak. Die hawermout-saadbrood, waarvan ek die resep onlangs gedeel het in Februarie, is die beste wat ek tot nog toe teëgekom het as dit kom by ‘n glutenvrye broodjie (onthou net om glutenvrye hawermout te koop, want gewone hawermout kan met gluten gekontamineer wees).
Gelukkiglik is die glutenvrye meelkombinasies wat mens deesdae te koop kry, van goeie gehalte en kom jy skaars agter dat jy nie met gewone koringmeel bak nie. Dit span ek in om die tert mee te bak. Ek besef te laat dat die botterskorsie in die groenterak gedaan is en sien ook nie bra kans om nou op die laaste nippertjie winkel toe te ry nie. Maar in die groentehouer is daar nog heelwat patat. Ek besluit tersond om dit sommer in te span vir die pampoenttert. Die tert kry bykans geen botter en heelwat minder suiker in as die oorspronklike resep en ek maak dit ook met jogurt, wat die nodige romerigheid verskaf. Die patat, wat ek in ‘n chai-rooibostee sagkook, is ‘n wenner in die tert.
Die resep, saam met heelwat ander glutenvrye resepte, is te kry in my nuutste boek, Lekker&Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid. Gaan kyk op die Carmién-webtuiste om vir jou ‘n kopie aan te skaf.
Ek maak ook al hoe meer gebruik van sorghum as ‘n alternatief vir koring. Die heel korrels maak ‘n heerlike vullende dog vars slaai wat selfs vir ‘n dag of wat in die yskas goed hou en ook die ideale middagkos kan wees. Die jogurt-slaaisous, alhoewel laevet, verskaf ‘n lekker romerigheid aan die slaai.
SORGHUMSLAAI
Supermarkte soos Woollies hou deesdae sorghum aan. Jy kan die slaai ook met quinoa maak.
325 ml (11/2 k) sorghum
sout
1 kop Gem-slaaiblare, dun gekerf
2 wortels, gerasper
Halwe rooi ui, in klein blokkies gesny
Halwe komkommer, in klein blokkies gesny
1 rooi soetrissie, ontkern en in blokkies gesny
2 appels, ontkern en in stukkies gesny
1 mieliestronk, mieliepitte afgesny (hoef nie gaar te wees nie)
1 blik (400 g) kekerertjies, gedreineer
100 g bosbessies
100 g gekapte pekanneute of amandels
1 wiel feta-kaas, gekrummel
SLAAISOUS
250 ml (1 k) laevet natuurlike jogurt (laktosevry indien verkies)
Groot handvol gekapte ment of dille of koljanderblare
Knippie sout
2 lemmetjies se sap
AFRONDING
Groot handvol koljanderblare
1 Spoel die sorghum goed af en kook dan in genoeg water tot sag, geur teen die einde eers met sout, anders sukkel die sorghum om sag te kook. Dreineer en laat afkoel.
2 Meng al die bestanddele vir die slaai goed saam en meng met die sorghum.
3 Meng die bestanddele vir die sous saam en giet oor die slaai. Meng deur. Rond af met koljanderblare.
Wenk: Kook die sorghum in groen rooibostee met bietjie boegoe by (Rescue van Carmién), sag. Die sorghum kry ‘n effense kruiesmakie en terselfdertyd kry jy ekstra oksidante in.
SOETPATATTERT
Ek het die bekende pampoentert gebruik om hierdie patatert te maak. Ek het by Spar op ‘n pakkie brood-premix afgekom en dit gebruik om die tert mee te bak. Die tert het perfek uitgekom. Ek het die tert sommer in die Airfryer gebak.
1 kg patat, geskil en in stukke gesny
1 liter Carmién Citrus Chai-rooibostee (gemaak met 4 sakkies)
250 ml (1 k) glutenvrye meel of gewone koekmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
5 ml (1 t) fyn kaneel
5 ml (1 t) sout
160 ml (2/3 k) suiker
3 eiers
250 ml (1 k) natuurlike jogurt
60 g botter
Groot handvol gekapte pekanneute
Kaneelsuiker vir bo-oor sprinkel
Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n ronde tertbord met kossproei.
1 Kook die patat in die rooibostee tot sag en druk goed fyn tot ‘n puree.
2 Sif die meel, bakpoeier, kaneel en sout saam. Voeg die suiker by.
3 Klits die eiers, jogurt en botter saam.
4 Meng die patatpuree, droëbestanddele en nat bestanddele goed saam.
5 Skep in die voorbereide bak, sprinkel die neute oor en bak sowat 40 minute of tot stewig, bedek na 20 min met tinfoelie om te keer dat dit te donker bak.
6 Sprinkel bietjie kaneelsuiker oor voor jy dit voorsit. Die tert kan louwarm of koud geniet word.
HAWERMOUT-SAADBROOD
Die resep is werklik ‘n wenner, so hier is dit weer.
Maak 1 medium brood
Bereiding: 15 min
Baktyd: 40—50 minute
625 ml (21/2 k) hawermout
250 ml (1 k) gemengde sade, insluitend sonneblom-, pampoen-, sesam- en lynsaad
60 ml (1/4 k) psylliumvesels
12,5 ml (21/2 t) bakpoeier
5 ml (1 t) sout
4 eiers
45 ml (3 e) olyfolie
250 ml (1 k) water
15 ml ( 1 e) appelasyn
gemengde sade of sesamsade vir bo-op sprinkel
VOORSIT
Botter of heuning of avokado
Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n klein broodpannetjie en voer die bodem uit met bakpapier. Spuit weer.
1 Meng die droë bestanddele goed saam.
2 Klits eiers, voeg klapperolie, water en appelasyn by en klits goed.
3 Voeg by die droë bestanddele en meng goed. Laat staan 10 min tot stewig.
4 Skep in pannetjie, druk effe plat.
Bak sowat 40–50 minute of tot ‘n toetspen skoon uitkom. Sit voor met botter en heuning of fyngedrukte avokado.
In lugbraaier: Stel die lugbraaier op bak en verhit tot 180°C. Bak 40 minute lank, bedek die brood na 15 minute met tinfoelie om te keer dat dit te donker bak bo-op.
