In Langebaan draai die lewe om veel meer as oor hoe die gety draai, maar tog, as gerugte dat die vis loop in omloop is, sien jy hoe die bote tou staan om water toe te gaan. Op die meer sit hulle gepak al langs die elflyn af en kom met goeie vangste terug. Wat dit so lekker maak om op ‘n kusdorp te bly, is dat jy sommer middel van die week kan uitgaan en oor die naweek weer as die weer reg is. By ons staan die boot en visgery deesdae altyd gereed, net reg vir as die weer saamspeel om te gaan lynnatmaak.
Vis smaak darem maar net op sy lekkerste as dit nog blinkvars is. Ons besluit om die oggend se vangs, wat elf en stompneus insluit, in die oond te bak, net so heel, kop en stert en vinne nog aan. Ek maak ‘n Thaise sousie met vars koljanderblare en baie vars lemmetjiesap wat ek sommer in die Nutribullet opkap en ligweg oor die vissies streep; daarna is dit oond toe, net so 20 minute en die vis is reg, sappig met die velletjie lekker bros. Daarby ‘n paar ekstra lemmetjies om saam met die eet oor te drup. In die Airfryer bak ons dun skywe aartappels tot lekker bros om daarby te geniet. Eenvoudig, maar heerlik.
Toe daai vissies uit die oond kom, water my mond sommer by voorbaat. Ek takel my vissie sommer aan die kopkant en wat ‘n verrassing met heerlike sagte vleisies wat daar weggesteek is.
Soos wat ek vorder, skep ek van die gekarameliseerde pansousies oor die stukkies vis wat ek versigtig van die graat af loswikkel en druppel lekker baie lemmetjiesap oor. Regtig vingerafleklekker tot op die letter van die woord. Die oorskiet hou ek om tamatie-vissop, met ‘n blik klappermelk by ingeroer, mee te maak wat ons in klein koppietjies geniet. Heerlik vir vooraf geniet of sommer as hoofete en net so geurig.
GEBAKTE VIS MET THAISE SOUS
Genoeg vir 4—6 mense
Bereiding: 20 min
Marineertyd: 20min
Gaarmaak 15—20 min
SOUS
125 ml (1/2 k) olyfolie
80 ml (1/3 k) sesamsade
1 pakkie (30 g) koljanderblare
1 brandrissie, ontpit (opsioneel)
10 g gerasperde gemmerwortel
1 hele bol knoffel, fyngerasper
60 ml (1/4 k) rysasyn
60 ml (1/4 k) sojasous
4 lemmetjies se sap
VIS
4—5 vars vissies, soos stompneus of elf, binnegoed verwyder en skubbe afgeskraap, maar behou die kop, stert en vinne
Sout
1 wiel feta-kaas
Ekstra lemmetjies en basiliekruid vir bo-oor sprinkel
Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n groot oondpan met kossproei.
1 SOUS Plaas al die bestanddele vir die sous in die NutriBullet en verwerk tot glad.
2 Pak die vis in ‘n bak en giet die sous oor. Marinee r20 minute lank.
3 Pak die vis op die bakplaat, geur met sout en skep die sous oor. Sprinkel die feta-kaas oor.
4 Bak sowat 20 minute lank of tot die vleis maklik vlok met ‘n vurk.
5 Rond af met basiliekruidblare en sit voor met ekstra lemmetjies.
TAMATIE-VISSOP
Dié geurige vissop is binne ‘n ommesientjie klaar.
GENOEG VIR 4 MENSE
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 15-20 min.
SOP
60 ml (¼ k) suurlemoensap
500 g wit oorskietvis, grate verwyder en gevlok
3 knoffelhuisies, fyngekap
sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
’n bietjie olyfolie
250 ml (1 k) ui, gekap
1 rooi soetrissie, gekap
1 klein brandrissie, pitte verwyder en gekap
5 ml (1 t) paprika
500 ml (2 k) gekerfde vars tamaties
30 g koljanderblare, gekap (hou ’n bietjie vir garnering)
1 blik (400 g) ligte klappermelk
KAMMANAAN
1 kg winkelbrooddeeg
knoffelbotter
1 SOP Sprinkel die suurlemoensap oor die vis tot dit bedek is, en sprinkel die knoffel oor. Geur na smaak met sout en swartpeper. Verkoel.
2 Giet ’n bietjie olyfolie in ’n groot kastrol; verhit oor lae hitte tot warm.
3 Voeg die ui by; roerbraai tot sag. Voeg die soet- en brandrissie by en geur met die paprika. Roerbraai tot sag.
4 Voeg die tamaties by, kook 5 min. en voeg die koljanderblare by.
5 Skep die helfte van die groente uit, rangskik die vis in die kastrol op die oorblywende groente en geur met nog sout en swartpeper indien nodig.
6 Voeg die klappermelk by en laat prut 5 min. of tot lekker warm. Voeg die orige groente weer by en bring weer tot kookpunt.
7 Giet in ’n opdienbak en garneer met die orige koljanderblare.
8 KAMMANAAN Verdeel die deeg in 8 bolletjies en rol sowat 2 mm dik in ’n traanvorm uit.
9 Bespuit ’n gietysterpan met kossproei, verhit en braai 1-2 min. per kant tot bruin kolle verskyn.
10 Smeer die knoffelbotter oor en sit voor saam met die sop.
