Tydens ‘n blitsbesoek aan die Karoo die pas afgelope naweek oornag ons in die vyfster eeueoue Drostdy Hotel op Graaff-Reinet. Stylvol gerestoureer in eertydste dog byderwetse elegansie spreek dit vyfsterweelde tot op die letter van die woord met die ontbyt ook uit die boeke. Van tuisgemaakte granola propvol neute saam met die vrugte en jogurt; hemelhoë tuigebakte skons en ciabatta,‘n heerlike verskeidenheid koue vleise en uitsoekkase asook die allerlekkerste appelkoosbroodjie wat ek saam met kweperjellie, eie aan daardie geweste, geniet het, het ons die ete afgesluit met ‘n heerlike eier-benedict, wat jy ook op ‘n aartappelrösti kon eet. Heerlik!
Ons hou daarvan om die land te deurkruis en veral om die platteland beter te leer ken. Daarom was die 720 km Graaff-Reinet toe glad nie vir ons vergesog om oor ‘n naweek af te lê nie. Wat ons egter nie in gedagte gehou het nie, is die ewigdurende padwerke op die N1 en wat bietjie meer as ‘n 8 uur rit moet wees, het gou by 9 ure gaan draai. Daarom het ons besluit om Sondag via Outshoorn en die R62 terug te ry. Bietjie langer, maar ‘n heerlike kronkelpad met pragtige natuurtonele en vele verrassings, soos dat Barrydale op ‘n Sondagmiddag ‘n miernes van bedrywigheid is soos almal aandoen by die vele eetplekkies langs die pad wat deur die dorp loop.
Maar terug by Graaff-Reinet en die Drostdy Hotel. Graaff-Reinet is in 1786 gestig en die vierde oudste dorp in die land naas Stellenbosch, Paarl en Swellendam. Dit was ook die beginpunt van die Groot Trek waar ontevrede Voortrekkers die binneland ingetrek het op soek na vryheid. Daarenteen was dit selfs tydens die tweede Boereoorlog as basis vir die Britse magte gebruik. Interressant is Graaff-Reinet die dorp (en stad) met die meeste monumente in die land.
Die Drostdy is in 1806 gebou om te dien as blyplek vir hooggeplaaste staatsamptenare, insluitend die landdros. Vanaf 1876 was dit ‘n hotel en ‘n eeu later het dr. Anton Rupert (wat ‘n boorling van die distrik was) se Oude Meester-groep die eiendom saam met die Historical Homes of South Africa bekom. Na sy dood in 2005 het die familie die hotel pragtig gerestoureer en bemaak aan die plaaslike SA kollege vir Toerisme wat onder die vaandel van die Peace Parks Foundation opereer en studente oplei in gasvryheids-vaardighede terwyl hulle terselfdertyd werksaam is in die hotel.
‘n Lekker uniekheid is dat die verblyf in pragtig gerestoureerde ou werkershuisies is — ‘n klein kleurvolle dorpie met pastelgeverfde deure; vetplant-omsoomde looppaadjies al tussen die huisies deur, ‘n plonspoel, swembad en fonteingragte wat koeligheid in die somerhitte bring. Prominent geplaas is ook ‘n gerestoureerde slaweklok. Ons het werklik welkom gevoel en kon heerlik ontspan in ons eie huisie, veral die pragtige ruim badkamer het ons imponeer.
Appelkoos-semelbrood
Hierdie resep diep ek in my wenresepte 5 boek op en is baie soortgelyk aan die een wat ek by die Drostdy-hotel geniet het.
250 ml (1 k) kookwater of warm rooibostee (ek gebruik 2 sakkies Focus (chai-geur) van Carmién)
250 g droëappelkose, klein opgesny
30 ml (2 e) botter
425 ml witbroodmeel of helfte volkoringmeel
5 ml (1 t) bakpoeier
5 ml (1 t) sout
5 ml(1 t) koeksoda
160 ml (2/3 k) suiker (of minder)
375 ml (11/2 k) hawermout of All Bran-ontbytpap
100 g pampoenpitte
2 eiers
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n medium koekpan goed of spuit met kossproei.
1 Giet die kookwater of tee oor die appelkose en laat week tot sag. Voeg die botter by
2 Meng die droëbestanddele goed saam, insluitende die suiker, hawermout of All Bran en pampoenpitte
3 Klits die eiers effe en voeg by die appelkoosmengsel. Meng goed.
4 Giet die appelkoosmengsel by die droë bestanddele en meng goed.
5 Skep in die voorbereide pan en bak sowat 40—50 minute of tot ‘n toetspen skoon uit die brood kom.
6 Laat effe afkoel in die pan en keer dan uit om heeltemal af te koel.
7 Sit voor met botter en kweperjelie.
