Net bietjie meer as ‘n week gelede kuier ons op die plaas om my broer en sy vrou se verjaarsdae te vier. Onder die tamaaie bome lê die tapyte en kelims oormekaar op die klippestoep met banke en stoele knus rondom lae tafeltjies gepak waar die gaste gesellig kan saamkuier. In die hoek ‘n mooi eikehout-tafel met ‘n wye verskeidenheid Piekenierskloofwyne en ‘n emaljebad vol ys met bottels water en koeldrank waarmee almal hul dors kan les.
Binne is die tamaaie geelhouttafel gelaai met groot platters en bakke kos – alles keurig en kleurvol en lig in Mediterreense styl: klein frikkadelletjies in ‘n tamatiesous met basilie, mini-hoenderstokkies, dun lappies carpaccio met olyfolie, kappertjiesade en roketblare oorgesprinkel, skywe saggebraaide eiervrug, ‘n rysnoedelslaai met olyfolie en balsamieke asyn; dun skywe spanspek en verskeie vars slaaie, mini-roosterkoekies, bakkies olywe en en en… alles by kamertemperatuur. My tipe kos.
Soos die gaste aankom, help hulle hulself aan klein skeppies van die keurige kosse saam met ‘n glasie wyn en kry sitplek onder die groot bome by die lae tafels, net om ‘n rukkie later weer ‘n draai by die groot eetkamertafel te gaan maak vir nog ‘n rondte lekkerte, want telkens is daar nog iets nuuts en heerlik om te beproef uit die smaaklike spyse. So kuier-kuier ons tot laat namiddag tussen die gaste rond terwyl die berg se bekende luggie deur die blaredak begin stoot en koeligheid bring. Die laaste bittereinders verkas skemeraand binnetoe en geniet vir oulaas ‘n glasie kosbare goedverouderde VanZylskloof-wyn en ‘n sterk huistoegaan espresso.
By die huis gekom gaan blaai ek deur my resepteboeke en vind ‘n paar resepte vir frikkadelletjies, slaaie en slaaisouse wat baie na aan daardie heerlike lekkerte kom.
OONDGEBAKTE FRIKKADELLE IN GEURIGE TAMATIESOUS
Die oorspronklike resep kom van die bekroonde sjef, Michael Broughton van Terroir in Stellenbosch. Dis die suurlemoenskil in die frikkadelle wat dit heerlik maak. Die tamatiesous kan ook vir pizza gebruik word.
Genoeg vir 8-10
Voorbereiding: 20—30 min
Gaarmaaktyd: 50 min
FRIKKADELLE
1 kg maer beesmaalvleis (of helfte daarvan volstruis of wild)
2 groot uie, fyn gekap
2 knoffelhuisies, fyngedruk
45 ml (3 e) gekapte pietersielie
5 ml (1 t) gekapte roosmaryn
1 eier
2 snye witbrood, gekrummel en geweek in 80 ml (1/3 k) water of aftreksel (opsioneel)
Sap en gerasperde skil van 2 suurlemoene
Sout en peper en suiker na smaak
TAMATIESOUS
1 x geurige tamatiesous (sien onder)
Basilie-blare en Pecorino-kaas vir bo-oor sprinkel
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n oondvaste bak.
1 FRIKKADELLE Meng al die bestanddele vir die frikadelle liggies saam en vorm klein bolletjies. Pak in ‘n gesmeerde oondvaste bak. Bak sowat 20 minute lank of tot net gaar.
2 SOUS Berei tamatiesous soos beskryf.
3 AFRONDING Giet oor die frikkadelle en bak nog sowat 15 minute.
4 Sprinkel basilieblare en pecorino-kaasskaafsels oor.
TAMATIESOUS
750 g pruimtamaties (Roma), ontvel en in klein stukkies gesny
60 ml (1/4 k) songedroogde tamaties in vinaigrette, gekap
6 knoffelhuisies, fyngedruk
60—80 ml (1/4—1/3 k) songedroogde tamatiepesto
5 ml (1 t) droë oreganum
Plaas al die bestanddele in ‘n glasbak en mikrogolf 10 minute by 100-persent-krag tot die sous nie meer waterig is nie. Roer elke 3 minute. (jy kan ook die sous in ‘n kastrol op die stoof maak).
GROEN VINAIGRETTE
Die vinaigrette is lekker oor van carpaccio tot ‘n ryspastaslaai.
Maak 180 ml (3/4 k)
60 ml (¼ k) kruie soos pietersielie en basilie, grof gekap
4 knoffelhuisies, fyngedruk
60 ml (¼ k) olyfolie
45 ml (3 e) druiweasyn
5 ml (1 t) Dijon-mosterd (opsioneel)
suiker na smaak
sout en peper na smaak
Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker en pols tot goed fyn.
TIPE CAPRESE-SLAAI & PANSANELLA-SLAAI MET ROOI TAMATIE-VINAIGRETTE
‘n Slaaisous gemaak met songedroogde tamaties gee geur aan Caprese en pansanella-slaai.
ROOI TAMATIE-VINAIGRETTE
Maak 125 ml (1/2 k)
2 knoffelhuisies, gekneus
45-60 ml (3-4 e) songedroogde tamaties in vinaigrette, gekap
30 ml (2 e) pesto van songedroogde tamaties
30 ml (2 e) vars pietersielie, gekap
15 ml (1 e) vars origanum, gekap (opsioneel)
60 ml (¼ k) olyfolie
15 ml (1 e) balsemieke of sauvignon-asyn
5 ml (1 t) suurlemoenskil, gerasper
vars gemaalde swartpeper
water of van die songedroogde tamatie-vinaigrette om die sous loperig te maak
Verwerk al die bestanddele in ’n voedselverwerker tot glad. Voeg water by om ’n loperige sous te kry.
SLAAI 1 CAPRESE-SLAAI
Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 20 min
Verskeidenheid groot rooi tamaties, in skywe gesny
Groot handvol baba-Roma-tamaties
1 medium eiervrug, in skywe gesny, olyfolie oorgeprinkel en in ’n (riffel)pan gebraai tot gaar
sowat 8 swart olywe
4 bolle bocconcinikaas, in stukke geskeur (sien ook wenk)
basilieblare
1 rooi tamatie-vinaigrette
1 Rangskik al die bestanddele op ’n bord en sit voor saam met die slaaisous.
Variasie: skep roomkaas in bolletjies met ‘n teelepel en rol in broodkrummels. Braai in diepolie tot bruin en gebruik pleks van bocconcini-kaas.
SLAAI 2 TIPE PANZANELLA-SLAAI
Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 20 min
Gaarmaak: 10 min
½ ciabatta, in stukke gebreek
olyfolie
groot handvol baba-tamaties
6—8 verskeidenheid groot tamaties, in stukke gesny
seesoutvlokkies en peper
1 rooi ui, in skyfies gesny
Paar kappertjiesade
1 x rooi vinaigrette
Basilieblare vir afronding
Voorverhit die roosterelement van die oond
1 Pak die broodstukke op ‘n bakplaat, besprinkel met olyfolie en rooster tot bros.
2 Pak baba-tamaties ook in ‘n bakplaat, geur met sout en peper, sprinkel bietjie olyfolie oor en oondbraai terselfdertyd tot dit net effe oopbars.
3 Meng die baba- sowel as groot tamaties in ‘n mengbak saam met ui en kappertjiesade. Giet bietjie slaaisous oor en laat staan so 10 minute.
4 Pak in ‘n slaaibord, stapel brood bo-op en sprinkel basilieblare oor.
NEKTARIENSLAAI & BEET-EN-FETAKAASSLAAI MET BESSIEVINAIGRETTE
Die soeterige vinaigrette is heerlik saam met vrugte, biltong en fetakaas.
BEET-EN-FETAKAASSLAAI
Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 15 min
Gaarmaak: 40 min
1 bossie beet
Seesoutvlokkies
olyfolie
100 g roket
1 groen appel, ontkern en in dun skyfies gesny
1 steel seldery, in stukke gesny
1 rooi ui, in ringe gesny
Groot handvol bloubessies
1 wiel peperfetaas, in stukke gebreek
Aarbei- of bessie-vinaigrette
Pampoensade vir bo-oor sprinkel
Voorverhit die oond tot 190°C
1 Pak die bete in ‘n oondpan, sprinkel sout en olyfolie oor en oondbraai sowat 40 minute tot gaar en sag. Trek skilletjies af. Sny in stukke.
2 Rangskik die roket op ‘n slaaibord, stapel die beet en appel in hopies bo-op.
3 Sprinkel die ui, bloubessies en kaas oor en streep van die slaaisous oor. Rond af met pampoensade.
AARBEI- OF BESSIE-VINAIGRETTE
Maak sowat 180 ml (3/4 k)
125 g aarbeie of gemengde bessies, verpulp met 25 ml (5 t) strooisuiker
30 ml (2e) witwyn-asyn of lemmetjiesap
60 ml (4 e) olyfolie
Paar druppels vissous (opsioneel)
sout en swartpeper na smaak
Plaas al die bestanddele vir die slaaisous in ’n voedselverwerker en verwerk tot glad.
