Hawermout is veel meer as pap vir ontbyt. Met al sy goeie hoedanighede word dit al hoe meer ingespan vir wanneer jy gesonder wil eet. Ek bak van ‘n heerlike outydse piesangbrood tot ‘n byderwetse minder koolhidraat saadbrood daarmee.
Ek roep net wonderlike herinneringe op van Ma se varsgebakte plaasbrood met botter en groenvye waarmee ons op ‘n Vrydagmiddag terug by die huis begroet is. Ek het ‘n verknogtheid aan brood, so dis iets wat ek nie sommer vaarwel sal kan roep nie, daarom is ek gedurig op soek na gesonder alternatiewe. Hierdie hawermoutbrood was die naaste aan ‘n volgraan-roerbroodjie wat ek tot nog toe teëgekom het.
Op die plaas is ons ook Saterdagmiddae baie keer verras met ‘n vars piesangbrood of gemmerbrood of selfs dadelbrood – die ene suiker en botter. In my nuutste boek, Lekker&Goed is daar ‘n verskeidenheid gesonder teebrode, ook een vir ‘n hawermout-teebrood met heelwat minder botter en suiker, maar heeerlik. Net die resep om die ryp piesangs wat nou al vir ‘n tydjie vir my lê en loer in my yskas, in iets lekkers om te tower en reg vir vanmiddag se teetjie op die stoep wanneer ons ‘n slaggie ‘n breek vat tussen al die werkery deur.
Op sosiale media sien ek veral ook deesdae hoe ruimskoots hawermout ingespan word in gebak — dis wortelkoek en muffins, plaatkoekies, wafels, hawermoutkoekies; noem maar op.
Nou die dag by ‘n kookklas wat ek vir ‘n klompie vroue op Stellenbosch aanbied, vra ‘n dame my waarmee sy amandelmeel in laer koolhidraat gebak kan vervang. En dadelik dink ek aan hawermout, want dit word nou ook gesien as deel van die bestanddele wat jy matig van veral ‘n vegetariese diëet kan gebruik as jy ‘n laer koolhidraat-diëet wil volg. Mens moet net ingedagte hou dat gewone hawermout, alhoewel dit glutenvry is, partykeer gekontamineer is met gluten vanaf ander koringprodukte as dit verwerk word. So as jy glutensensitief is, moet jy soek spesifiek na glutenvrye hawermout. Al wat ek doen is om die hawermoutvlokkies in die voedselverwerker fyn te kap en dit dan as meel in te span.
Hawermout sorg nie net vir baie onoplosbare vesel in jou diëet wat goed is vir jou spysverteringstel (gut) nie, maar bevat boonop ook oplosbare vesel wat help om cholesterol te verlaag, dit het ook heelwat proteiene en mikronutriente soos onder andere yster, magnesium, sink en B-vitamiene.
Nog ‘n bonus, ek bak hulle sommer in die Airfryer. Die broodjie vries ook goed.
PIESANG-HAWERMOUTBROOD
Lewer 1 teebrood
Bereiding: 20 min
Baktyd: 1 uur
500 ml (2 k) hawermout
10 ml (2 t) koeksoda
5 ml (1 t) sout
5 ml (1 t) fyn kaneel
2 eiers
5 ml (1 t) vanieljegeursel
2 ryp piesangs, fyngedruk
125 ml (1/2 k) tertappels, fyngedruk tot ‘n moes
125 ml (1/2 k) natuurlike jogurt
60 ml (1/4 k) olie
180 ml (3/4 k) suiker of versoeter
250 ml (1 k) grof gekapte pekanneute
Voorverhit die oond tot 170°C. Spuit ‘n medium broodpan met kossproei.
1 Plaas die hawermout, koeksoda, sout en kaneel in ‘n voedselverwerker en kap fyn.
2 Klits die eiers en voeg die vanieljegeursel, piesangs, tertappels, jogurt, olie en suiker by.
3 Voeg by die hawermoutmengsel en meng goed.
4 Meng die neute in en skep in die voorbereide broodpan. Bak sowat ‘n uur tot gaar.
5 Sit voor met botter.
HAWERMOUT-SAADBROOD
Die lekkerste, maklikste meellose saadbrood wat ek nog geproe het.
Maak 1 medium brood
Bereiding: 15 min
Baktyd: 40—50 minute
625 ml (21/2 k) hawermout
250 ml (1 k) gemengde sade, insluitend sonneblom-, pampoen-, sesam- en lynsaad
60 ml (1/4 k) psylliumvesels
12,5 ml (21/2 t) bakpoeier
5 ml (1 t) sout
4 eiers
45 ml (3 e) klapperolie, gesmelt
250 ml (1 k) water
15 ml ( 1 e) appelasyn
gemengde sade of sesamsade vir bo-op sprinkel
VOORSIT
Avokado
Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n klein broodpannetjie en voer die bodem uit met bakpapier. Spuit weer.
1 Meng die droë bestanddele goed saam.
2 Klits eiers, voeg klapperolie, water en appelasyn by en klits goed.
3 Voeg by die droë bestanddele en meng goed. Laat staan 10 min tot stewig.
4 Skep in pannetjie, druk effe plat.
Bak sowat 40-50 minute of tot ‘n toetspen skoon uitkom. Sit voor met fyngedrukte avokado.
In lugbraaier: Stel die lugbraaier op bak en verhit tot 180°C. Bak 30 minute lank, bedek die brood na 15 minute met tinfoelie om te keer dat dit te donker bak bo-op.
