Laas week het ek tog te lekker gekuier saam met ‘n groep vroue wat ‘n baie belangrike rol in ons skole vervul – die administratiewe personeel wat sorg dat die wiele nie afkom by enige skool nie en veel meer is as net die “bustannie” wat die vervoer moet reël. Voormalige skoolhoof, Riaan Truter en sy vrou, Elsa, bied nou al jare lank die Kopskuif-administratiewe werkswinkels aan en vanjaar was daar meer dan 70 afgevaardigdes uit 24 Wes-Kaapste skole. Hier gaan dit nie net soseer oor beter werkspraktyke nie maar veral hoe om hulself te bematigtig in ‘n wye spektrum areas: van gesonder eet en leef tot klerekas- en voorkomsbeplanning met Riaan wat ten einde almal geïnspireer het om jou kop te “ontsmokkel”. Ekself is met ‘n paar waardevolle lesse daar weg.
Gewapen met my Snappy en NutriBullet, ‘n tweetal LeCreuset-panne en ‘n kookspaan of twee; ‘n gekoopte rotisserie-hoender, baaie groente en ‘n hele paar Carmién boksies rooibostee het ek almal vinnig gewys hoe maklik dit is om ‘n gesonde ete of twee aanmekaar te slaan – met een helfte van die hoender het ek ‘n roerbraai gemaak met ‘n tuisgemaakte roerbraaisous en met die ander helfte ‘n heerlike vrugtige slaai opgetop met ‘n kerriemayo-hoender sodat dit as ‘n volledige ete kan dien.
Carmién se rooibostees is nie net daar om gedrink te word nie, maar bevat net so baie gesondheidsvoordele. Boonop kom dit in so ‘n verskeidenheid geurprofiele dat mens dit heerlike kan inspan wanneer jy kook – van die roerbraaisous en pesto tot die slaaisous en ook sommer ‘n goeie skoot by die pot as die lotjie lyk of dit effe droog begin kook.
Soos altyd het die vroue om my demtafel kom staan en heerlik saam geroer, geruik en geproe tussen die kokery deur. Agterna kon hulle proe aan wat ons met ‘n gaar winkelhoender kon optower. As bonus het Carmién ‘n teestasie opgestel waar elkeen ‘n proeglasie tee kon proe en saam met hul kos geniet, want die tees was spesiaal so uitgesoek om die kosse heerlik te komplimenteer.
Die resepte wat ek daar gedemonstreer het, is ‘n sameflansing van ‘n verskeidenheid resepte uit my nuutste boek, Lekker&Goed. Gaan loer op die Carmién-webtuiste vir ‘n kopie of kyk andersins by boekwinkels. Ek weet Bargain Books het nog ‘n klompie.
As jy wil hê ek moet ook julle ook ‘n bietjie touwys kom maak oor hoe om op ‘n maklike (en bekostigbare manier) gesonder etes op tafel te sit, kan julle gerus met my kontak maak by: carmenniehaus@carmientea.co.za. Ek kuier graag die hele land vol.
VINNIGE ROERBRAAI
Hierdie roerbraai kan warm of koud voorgesit word as ‘n heerlike slaai. Pleks van grondbone oorsprinkel kan jy die grondbonesous laastens oorgieGenoeg vir 4 mense
Bereiding: 30 min
Gaarmaaktyd: 20 mint. Vir ‘n ander geurprofiel kan jy koljanderpesto deurroer terwyl jy roerbraai (resep verskaf).
ROERBRAAISOUS
2 knoffelhuisies, fyngerasper
5 cm stuk gemmerwortel, fyngerasper
60 ml (1/4 k) sojasous
30 ml (2 e) vars lemmetjiesap
15—30 ml (1—2 e) heuning of suiker of versoeter
45 ml (3 e) sesamsade
Klein handvol gekapte koljanderblare
Sout
sowat 60—80 ml (¼-⅓ k) RESTORE (lemongrass & ginger & moringa ) of REVIVE (ginger & chilli) van Carmién
GROENTE
1 ui, in ringe gesny
45 ml (3 e) olie of klapperolie
375 ml (11/2k) blomkool- of broccoliblommetjies
¼ van ‘n kopkool, wit of rooi, in dun repies gesny
1 soetrissie, rooi of geel of selfs groen, in dun repies gesny
2 wortels, geskil en in julienne-repies gesny
HOENDER
Halwe rotisserie-hoender, ontvel en ontbeen en in stukkies gebreek
VOORSIT
250 g eiernoedels, gaargemaak volgens die instruksies op die pak
Grondbone of sesamsade en koljanderblare vir bo-oor sprinkel
1 SOUS Plaas al die bestanddele vir die sous in ‘n kastrolletjie, roer totdat dit begin kook en laat dan goed prut. Verwyder van hitte en gebruik soos nodig of koel af en bêre in yskas vir latere gebruik( dit hou sowat 2 weke).
2 Giet kookwater oor die blomkool of broccoli en dreineer.
4 Roerbraai die groente in min olie tot net gaar, maar nog baie bros.
5 Voeg van die roerbraaisous by en meng deur.
6 Voeg die hoender by en verhit tot net warm.
7 Roer die pasta deur, skep uit en sprinkel die sesamsade en koljanderblare oor
KOLJANDERPESTO
20 g koljanderblare
2 knoffelhuisies, geskil
Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
60 ml (1/4 k) olyfolie
60 ml (1/4 k) Carmién-rooibostee (REVIVE), gemaak met 1 sakkie
100 g papmpoenpitte of geroosterde sonneblomsade
30 ml (2 e) Nutritional yeast
Plaas alles in die NutriBullet en kap fyn.
GRONDBOONTJIE-SOUS
250 ml (1 k) grondbone
125 ml (½ k) natuurlike laevet jogurt
hand vol vars koljander, fyngekap
15 ml (1 e) hoisinsous
20 ml (4 t) sojasous
2 knoffelhuisies, fyngekap
2 vars rooi brandrissies, ontpit en fyngekap (opsioneel)
30 ml (1 e) vars suurlemoensap, of meer na smaak
30 ml (2-4 e) warm Carmién brandrissie-en-gemmer-rooibostee (REVIVE), of meer soos nodig
Meng al die bestanddele saam.
