‘n Dag in my lewe as kosskrywer en stilis

So baie keer word ek die vraag gevra hoe gaan ons te werk wanneer ons resepte ontwikkel, maar veral ook hoe ons die mooi prentjies maak wat op die ou einde die ‘wow’-effek in ‘n tydskrif of op sosiale media moet hê.

Resep-ontwikkeling, maar veral stilering was nog altyd een van my groot liefdes. Al begin ons dag hoe vroeg en maak laataand eers klaar, raak ek nie sommer moeg of uitgeput of siek en sat nie. Die bevrediging as ‘n foto werk, is net te lekker. Verlede week vat ek weer ‘n slag die pad Kaap toe om te gaan skiet in die Media24-gebou. Die plek wat vir 32 jaar vir my soos ‘n tweede huis gevoel het. En dis hoe ek te werk gaan om te sorg dat daar 8 verruklike resepte, wat nie net mooi lyk nie, maar ook heerlik smaak, hul opwagting maak – my opdrag die keer is om VYE te skiet.

Die beginpunt is om idees en inspirasie te soek – en ek raadpleeg nie sommer die internet of sosiale media nie. Daarvoor is my skatkis van resepteboeke wat ek oor jare bymekaar gemaak het, darem net te waardevol. My oog gly oor my oorvol boekrakke waar die boeke eens op ‘n tyd netjies in gelid gestaan het, maar nou met taamlik navorsing wat ek die afgelope tyd moes doen al weer heelwat stapeltjies opgelewer het wat weer hul plek in die rye moet gaan vind. Ek ken nou reeds die skrywers en boeke waar ek resepte wat met die tema te doen het, kan opspoor en trek die Ottolenghi’s, verskeie Franse en ander resepteboeke nader, maar tog is dit my eie resepteboeke – verskeie Wenresepte en die Carmen 100 Beste asook Lekker&Goed-boek waarin ek verskeie beproefde resepte vind wat ek kan gebruik vir die vye-storie. Ek maak die hopie bymekaar. Op die ou einde ‘n goeie 21 boeke.

Dan gaan maak ek vir my ‘n heerlike pot tee, een van my gunsteling Carmién-rooibostees, en as die wind nie te veel waai nie, verkas ek stoep toe (andersins sommer op die bank in die studio) waar ek die hopie stelselmatig begin deurwerk. Sit plakkertjies (soos ek julle al voorheen vertel het) by resepte wat ek dink mag werk en maak aantekeninge – ‘n resep vir ‘n kors hier, in ‘n ander boek vir ‘n vulsel. Kyk na verskeie kombinasies van bestanddele wat mag werk vir ‘n lekker slaai en marinade vir vleis. En so werk ek die stapeltjie deur. Kyk sommer terselfdertyd vir idees vir stilering.

UIteindelik skryf ek soos 12/10 idees neer wat ek dink VYE goed tot hul reg sal laat kom en goeie balans tussen soet en sout het. Dié word dan voorgelê aan die leefstyl-redakteur.

Ek skuif agter my rekenaar in en begin uit die idees my eie resepte skryf en maak aanpassings so ver ek gaan. Nou moet die bestanddelelyste opgestel word en daarna verkas ek winkel toe. Hier word die resepte weereens verander soos bestanddele beskikbaar in die winkel my gedagtes vleuels gee.

Met die bestanddele netjies uitgepak op die eetkamertafel en die koel goed in die yskas, begin die groot kokery. Ek maak alles so ver as moontlik die vorige dag klaar sodat die kookwerk op die skietdag net die laaste afronding verg. Maar met alles werk dit nie so nie – vir ‘n slaai kan jy hoogstens die slaaisous berei en ‘n meringue mag straks net pap trek of in stukkies breek as jy dit te lank voor die tyd maak maak. Soos ek aangaan, maak ek noukeurig aantekeninge van die veranderinge wat ek tydens hierdie kooksessie aanbring – partykeer kan dit nogals drasties wees. Teen donkeraand is dit nog slegs die kaaskoek wat gebak moet word, maar o aarde, met die dat ons deesdae sonkrag het wat ons krag aanvul, het ek so bietjie vergeet van load shedding, so die oomblik toe ek die oond (en die ketel en ek dink êrens het ‘n wasmasjien ook nog geloop) aansit, is dit een te veel en sit ons net daar in stikdonkerte, met ‘n koek in die oond wat moet bak. Geduld is nou maar al ding en laataand, toe die krag uiteindelik weer aan is, kan

die koek ook uiteindelik klaar bak. Benewens al die trauma wat die koek beleef, kom hy nie te sleg uit nie.

Intussen pak ek die koelsakke en kratte met alles wat moet saam Kaap toe. Dit verg mooi kophou, want van die klister vir die meringue tot die sout, eiers en meel vir alles wat nog gemaak moet word, asook die kruie en ander mooimaakgoed moet in. Dan is dit die props se beurt. Dié pak ek in sakke met hope vadoeke en lappe tussen-in, die ou-ou vleisbord wat ek op Prins Albert nog gekoop het tot die eeuoue Delft-koekstaander word saam met meer moderne borde met opstaanrande van Mervyn Gers netjies toegevou.

Donkeroggend begin die laaiwerk. Die Jimny se kattebak het veel meer pakplek as wat ek aanvanklik gedink het en ons laai die oorgroot teëls, wat as agtergronde moet dien eerste in, dan die kratte en koelsakke. Voor by Brighton se voete kom die emmer met vars vyetakke wat ek die vorige aand by die vrou in die groot withuis in Long-Acres met die swart swane in die dam, gaan afbedel het.

By die Media24-gebou aangekom is dit afpak, maar eers inteken by ontvangs. Die trollie wag onder by sekuriteit. Swaar gelaai begin die tog twintigste vloer toe, maar o wee, die trollie het ‘n wil en weg van sy eie. UIteindelik maak die groot glasdeure op die twintigste vloer oop en kan ons weer begin uitpak. Koel goed in die yskas, bestanddele op eiland een, klaar goed op die ander, props in die cafeteria-gedeelte wat vandag sommer as studio gaan dien.

Met ‘n koffie in die hand, praat ek en die fotograaf die resepte deur, besluit finaal op watter props ons vir watter gereg sal gebruik en wat die “angle” sal wees waarteen ons gaan skiet.

Ek klits gou die meringue klaar dat die in die oond kan kom en Brighton begin met die ribbetjie. Dan staan ek “studio” se kant toe om met die eerste foto te begin. “Top shots” is eerste aan die beurt en die donker teël word reggeskuif. Ons skiet eenvoudig vandag, slegs die kos met die vyeblare en groen vytjies wat die nodige invulwerk hier en daar doen. Die fotograaf maak “magic” met die lig. Ons skuif hier, faf daar, sprinkel blaartjies oor; dis nie sommer net vir neersit en skiet nie. Gelukkig is dit deesdae makliker met digitale fotografie waar jy dadelik kan sien wat jy gedoen het en nie meer soos in die ou dae toe ons die poleroid vir ‘n tyd onder die arm moes druk om te ontwikkel om ons te vergewis van die stilering nie. Uiteindelik is ons tevrede met foto 1, vat die gereg weg en foto 2 volg. Selle storie. Aanvanklik pak ons alles mooi weg en hou die kombuis redelik netjies, maar soos die dag aanstap, tree effense chaos in. Tussen die skietery deur moet ek kophou van watter veranderinge aan resepte aangebring is en teken dit noukeurig aan. Skemeraand, met almal lankal huis toe, is ons uiteindelik klaar geskiet. Nou is dit weer vir opwas, skoonmaak, wegpak en regpak, oppak, trollie afstoot Jimny toe waar alles weer in die kattebak moet pas. Moeg maar tevrede pak ons die pad aan terug Weskus toe. By die huis is dit afpak en wegpak, maar vanaand slegs die nodigste. Môre sal alles weer mooi sy plekkie kry. Nou moet die resepte nog aangepas en netjies reggeskryf word, die storie moet ‘n intro kry en dan aangestuur word vir die leefstyl-redakteur. Paar dae later kom die eerste bladuitlegte aan. Ek kontroleer vir oulaas dat die resepte reg en daar nie bestanddele of ‘n metode uitgelaat is nie. Dan volg die Engels. Selfde storie. Ek kan nie wag dat die storie in die tydskrif moet verskyn nie. Hou Huisgenoot en YOU dop vir die volgende week of twee om my jongste storie oor vye daarin te kry.

Leave a comment