Al is dit ‘n snikheet warm dag op Langebaan oorval ‘n groot lus vir melktert my laas Sondag en net daar besluit ek dis sommer ons Sondagmiddagpoeding. Nie dat dit iets nuuts is vir ons nie, ons geniet graag ‘n snytjiie melktert op ‘n Sondagmiddag, hetsy as poeding of so teen laatmiddag se kant nes die son begin water trek oor die meer en mens vir oulaas die rustigheid van die Sondag wil geniet voor almal weer koers kies en skarrel om alles in plek te kry vir die komende week.
Aan melktertresepte het ek geen tekort nie en het oor die jare verskeie variasies uitgetoets. Soos die outydse trefferresep van Peter Veldsman waar hy breedvoerig beskryf hoe die tertbord met skilferkors uitgevoer moet word. Dié diep ek op uit die trefferboek, Huisgenoot wenresepte 2000, gunstelinge van toeka tot nou wat ek met die draai van die eeu saamgestel het. En dan is daar my tannie Marina se ‘go-to’ resep vir melktert met ‘n smeerkors en die vulsel gemaak met boksie-melk wat my kleinsus Aletta menigmaal moes maak vir Sondagmiddagtee op die plaas. Tog telkens, as ek moet melktert maak, val my keuse op die resep wat ek nog by die befaamde kosskrywer, Mariette Crafford gekry het wat met ‘n amandelkors gemaak word. Geensins tradisioneel nie, maar vir my smullekker.
Ek is net so gaande oor die klein Portugese melktertjies, pastis de nata en dis meestal my keuse as ek ietsie soets by ‘n bakkery koop. Maar deesdae is die stropie wat daarin kom net te soet vir my en het ek ‘n spesery-melktertjie bedink wat baie hieraan herinner maar sonder die vreeslike soet is. Wat ek veral graag doen, is om die melk geur te gee met ‘n spesery-rooibosteesakkie – om meer spesifiek te wees Focus van Carmién. Dan kry jy op die koop toe ook daardie heerlike soet rooibosteesmaak.
SPOGGERIGE MELKTERT
AMANDELKORS
180 g botter
125 ml (1/2 k) strooisuiker
5 ml (1 t) vanieljegeursel
70 g fyngemaalde amandels
2 eiergele
380 ml (ruim 11/2 k) koekmeel
Knippie sout
VULSEL
150 ml (2/3k) koekmeel
50 ml (1/3 k) mielieblom
50 ml (1/3 k) vlapoeier
200 ml suiker
1,25 liter (5 k) volroommelk
2 stukke pypkaneel
3 ekstragroot eiers, geskei
50 g botter
7 ml (11/2 t) vanielje- of amandelgeursel
Fyn kaneel
Voorverhit die oond tot 200°C. Smeer ‘n 30 cm veerklampkoekpan of spuit met kossproei (andersins gebruik 2 kleiner tertborde)
1 KORS Verroom die botter en suiker tot lig en romerig. Voeg die vanieljegeursel en fyn amandels by en meng goed. Voeg die eiergele, meel en sout by en meng tot ‘n sagte deeg. Bedek en verkoel 10 minute.
2 Rol uit en voer die koekpan uit. Laat 10 minute rus in die yskas, prik die kors en bak tot liggoud, sowat 10 minute. Verwyder uit die oond
3 VULSEL Meng die meel, mielieblom en vla en die helfte van die suiker. Roer 125 ml (1/2 k) melk by.
4 Verhit die orige melk met die kaneelstokke tot net onder kookpunt.
5 Voeg sowat 125 ml (1/2 k) van die kookmelk by die meelpasta, meng goed en roer die gladde pasta stadig by die kookmelkmengsel in. Verhit tot die mengsel kook en verdik, roer gedurig. Verwyder die kaneelstokke
6 Klits die eiergele en orige suiker goed saam, voeg bietjie van die warm melkpap by die eiergele en meng. Voeg dan die eiergeelmengsel by die orige melkpap in die kastrol en meng goed. Verhit oor lae hitte en laat net kook, roer gedurig. Roer die botter en geursel by. Laat effens afkoel.
7 Klits die eierwitte styf en vou by die mengsel in. Giet in die kors en bak sowat 30 minute of tot dit hier en daar bruin sproete het bo-op.
8 Bestuif met kaneel en laat staan tot louwarm en stewig.
SMEERKORS: Klits 125 g botter en 80 ml (1/3k) suiker tot lig en romerig. Voeg 1 eier by en klits goed. Sif 280 ml (1 hoogvol koppie) bruismeel by en meng goed. Smeer dit met ‘n mes op die boom en teen die kante van tertborde.
FILO-SPESERYMELKTERTJIES
‘n Eenvoudiger weergawe van die bekende Portugese tertjies, pastis de nata. Die melkvulsel is heerlik gespesery. Ek gebruik baie keer 3 sakkies van Carmién se chai-rooibosteesakkies (Focus) pleks van die speserye. Saam met die heerlike speserysmaak kry jy die bonus van eg Suid-Afrikaanse rooibostee. Heeeerlik!
Maak sowat 9—10 tertjies
Bereiding: 30 min
Baktyd: 30 min
ROOMMENGSEL
250 ml (1 k) volroommelk
125 ml (½ k) dun room
1 kaneelstok
3 kardemompeule
1 steranys
2 lourierblare
2,5 ml (½ t) vinkelsaad
KORS
5 velle filodeeg
Gesmelte botter
Kaneelsuiker vir oorsprinkel
VULSEL
4 eiers
60 g witsuiker
45 ml (3 e) mielieblom
sout
BOLAAG
Strooisuiker vir bo-oor sprinkel
Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit 9—10 holtes van ‘n muffinpan goed met kossproei.
1 ROOMMENGSEL Trek eerste die speserye in die melk: Giet die melk en room in ‘n glasbak en voeg die heel speserye by. Verhit sowat 1—2 minute in die mikrogolfoond tot net onder kookpunt. Verwyder uit die oond en laat staan om af te koel. Dreineer dan deur ‘n sif.
2 KORS Vou elke vel filodeeg oorlangs in die helfte, herhaal nog ‘n slag. Sny nou oop langs die voukante – ek gebruik sommer ‘n skêr sodat ek lang repe het. Sny die repe in twee blokke (ek stapel sommer ‘n klompie opmekaar op ‘n slag).
3 Smeer elke blok filodeeg met gesmelte botter en pak 2 blokke in elk van die muffinhotes. Bestuif met kaneelsuiker en plaas nog twee filoblokke bo-op. Bak sowat 10 minute tot net gaar maar nie bruin nie.
4 Klits die afgekoelde melk, eiers, suiker, mielieblom en sout goed saam. Giet elke filobakkie goed vol, sowat 50 ml in elk.
5 Bak 25—30 minute of tot die vulsel net gestol is.
6 Laat afkoel en sprinkel bietjie strooisuiker oor. Brand met ‘n kombuisvlam tot effe gebrand.
