Gevulde hoenderpakkies

Aandkos is meningmaal ‘n kopseer in baie huishoudings, veral as dit ‘n besige dag was. Hoenderborsies is altyd ‘n uitkoms. Hier omenby middag se kant haal ek die pak bevrore borsies uit die vrieskas, dan is dit net genoeg ontvries vir aandete. Die retro Corden Blue-gereg pas ek aan met ‘n groente-en-kaasvulsel, rol dit in sorghummeel en braai dit tot brosbruin, maar steeds sappig. ‘n Tamatie-sambal is al wat verder nodig is daarby.

My man verklaar nou die aand hy is ‘n slaggie weer lus vir Corden Blue, ja daardie tipiese retro gereg van die ham-en-kaas gevulde skyfies vleis, eintlik kalf- of vark, maar baie keer word dit ook met hoender gemaak. Nou ja, tipies ek, is ek geensins gegear vir daardie hele gedoente van die vleis eers in eier, dan in meel, weer in eier en dan oplaas in krummels te rol om boonop dit in diepvetolie te braai nie. Diepvetolie-braai was nog nooit my ding nie en sal ook nooit wees nie.

Maar dit sit my tog aan die dink. Ek het immers ‘n pak hoenderborsfilette uitgehaal om te ontdooi, gedink ek sal ‘n vinnige roerbraai of iets dergliks vir aandete prakseer.

Ek gooi ‘n vinnige oog deur my yskas om te sien wat ek as moontlike vulsel kan gebruik – want hierdie moet nou sommer ‘n alles-in-een ete wees met die nodige groentes in die vulsel ingewerk pleks van net ham en kaas. Daar’s ‘n paar soetrissies, bruin sampioene en natuurlik ‘n pak spinasie. Saam met ‘n gekapte rooi ui, bietjie knoffel en gerasperde kaas is dit meer as genoeg vir ‘n heerlike, dog voedsame vulsel.

Die hoender vlek ek vinnig sommer so oorlangs oop, skep bietjie van die gebraaide vulsel op en steek dit toe met ‘n peuselstokkie of twee. Ek het uit meel uit gehardloop, maar gelukkig ontdek ek die boks met sorghummeel onder in die kas waarin ek die hoender kan rol – geen gesukkel eers met in eier en dan meel en dan krummels nie. Die sorghummeel gee ‘n heerlike neuterige dun korsie wat mooi bruin braai (ek verkoel dit nie eens vooraf nie).

Ek maak eers my Le Creuset-pan lekker warm op die gasplaat voordat ek ‘n bietjie olie ingiet. Toe die goed warm is, plaas ek die hoenderborsies daarin en los hulle om mooi bruin te braai. Dan flip ek hulle om vir die anderkant se bruinbraai en sit terselfdertyd die deksel van die pan op sodat dit kan gaar stoombraai – dit sorg dat die hoenderborsies nie droog braai nie, maar lekker sappig bly.

Terwyl die hoender salig lê en braai in die pan, maak ek gou ‘n salsa van gekapte tamatie en rooi ui met ‘n spatsel asyn oor… en dan is ons reg om aan te sit.

GEVULDE HOENDERPAKKIES
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 15 min
Gaarmaak: 20 min

VULSEL
1 ui, fyn gekap
2—3 knoffelhuisies, fyngedruk in ‘n stamper met vysel
2 geel of rooi soetrissies, in stukke gesny
Sowat 4 bruin sampioene, in skyfies gesny
Sowat 6 spinasieblare, fyn opgesny (sonder die stingels)
50 g wit Cheddarkaas, gerasper
HOENDER
4 hoenderborsfilette
Sout en peper of hoenderspeserye
Witbroodmeel of sorghumeel om in te rol, liggies gesout
Olie om in te braai
SALSA
2 tamaties, gekap
Halwe rooi ui, gekap
4 basilieblare
Paar spatsels balsamieke asyn
Sout en peper na smaak

1 Braai die ui, soetrissie en sampioene in ‘n bietjie verhitte olie tot sag. Voeg die spinasie by en verhit tot verwelk.
2 Skep uit in ‘n bakkie, laat effe afkoel en voeg die kaas by.
3 HOENDER Sny die hoender oorlangs oop, maar nie heeltemal deur en kap effe platter met jou handpalm. Geur met sout en peper en hoenderspeserye.
4 Skep ‘n hopie vulsel op een kant van die hoenderfilet, vou die ander kant oor en steek die oop kant met peuselstokkies toe.
5 Rol die hoenderpakkie in meel. Herhaal met res van die hoender en vulsel.
6 Verhit die olie in ‘n groot pan met ‘n deksel tot goed warm, plaas die hoenderpakkies daarin en braai tot goudbruin onder. Draai om, braai effens.
7 Bedek met die deksel en stoombraai verder tot die hoender dwarsdeur gaar maar nie droog is nie.
8 Skep uit op ‘n dienbord.
9 SALSA Meng al die bestanddele en sit voor saam met die hoenderpakkies

Leave a comment