Verleidelike sjokoladekoek

Die ontslape kosskrywer, Neil Stemmet, wat die befaamde Sout en Peperboeke geskryf het, was van my vroegste jare as kosredakteur een van my groot kosvriende. Saam met hom het ek vele kostoere, veral deur sy geliefde Kalahari deurgemaak en ook vele Kalahari-kuierfeeste beleef en ware kos-kos geniet by sy gewilde restaurant, LeMust op Upington.

Met ons gesin se Kalahari-kuiers aan die Kalagadi-oorgrenspark (wat ons baie gereeld besoek), het Neil se statige gastehuis teen die Oranjerivier op Upington ons oornagplek geword voordat ons die rooi sand en safarilewe van die park aangedurf het. Ons is bederf met allerlei klein luukshede en het altyd ‘n punt daarvan gemaak om by LeMust te gaan eet. Die voorbroodjies (klein roosterkoekies met ‘n vulseltjie binne-in) was ‘n heerlike welkomhappie voordat ons kon wegval aan sy egte Kalahari-spyse, keurig voorgesit met die kosse uit die omgewing. Dis ook hier waar ek die Oranjerivier-modderpoeding vir die eerste keer geproe het  — dié kluitjierig klam egte sjokoladekoek wat Neil voorgesit het met wildebessies. Doodreg vir ‘n Valentynsbederf!  

Maar as kleiner happies meer jou ding is, maak indruk met die bruintjies – jy kan dit netjies in blokkies sny of andersins in bonkige stukke breek vir ‘n bietjie andersheid. Ek sprinkel roosblare oor die bruintjies vir ekstra mooi en gepas vir Valentynsdag.    

KARAMEL-MODDERKOEK
Karamelkondensmelk bo-oor die koek geskep, sorg vir ekstra lekkerte en die bladgoud vertoon alte spoggerig.
Maak 1 bundt-koek
Voorbereiding: 20 min
Baktyd: 25—35 min

KOEK
6 eiers, geskei
90 ml (¼ k) strooisuiker
250 g donker baksjokolade, in blokkies gebreek
100 g ongesoute botter
100 g haselneute of amandels, grofgekap in die voedselverwerker
AFRONDING
Helfte van 1 blik (387 g) karamelkondensmelk
Kakao en/of bladgoud

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n bundtpan goed met kossproei en stuif met kakao.
1 Klits die eiergele en strooisuiker saam tot lig en romerig.
2 Smelt die sjokolade en botter saam in ‘n glasbak oor ‘n kastrol met kookwater of in die mikrogolfoond. Roer elke nou en dan.
3 Voeg die gekapte neute by die sjokolademengsel en meng liggies deur.
4 Klits die eierwitte styf en vou by die sjokolademengsel in.
5 Skep die beslag in die koekpan.
6 Plaas die pan in ‘n oondpan wat halfpad met kookwater gevul is. Bak sowat 25–35 minute of tot gaar. Dit sal nog baie klam wees.
7 Laat afkoel in die pan en keer dan versigtig uit op ‘n koekstaander.
8 Klop die karamelkondensmelk tot glad en skep oor die koek, stuif met kakao en/of rond af met bladgoud.

BRUINTJIES
Jy kan die bruintjies in ‘n koekpan bak en in blokke sny of dit in ‘n bakplaat bak en dan sommer in stukke breek. Heerlik klam, gemaak met egte sjokolade en baie neute. Ek’s veral versot op die lae koolhidraat-variasie.
Maak—16 stukke
Voorbereiding: 10 min
Baktyd: 12 min

BRUINTJIES
150 g donker sjokolade
100 g botter
3 eiers
250 ml (1 k) strooisuiker
80 ml (⅓ k) koekmeel
5 ml (1 t) bakpoeier
80 ml (⅓ k) kakao
Knippie sout
100 g pekanneute, gekap

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n groot plat bakplaat en stuif met kakao.
1 Smelt die sjokolade en botter. Verkoel effe.
2 Klits die eiers en strooisuiker tot lig en vou die sjokolademengsel hierby in.
3 Sif die meel, bakpoeier, sout en kakao saam en vou in by die sjokolademengsel saam met neute.
4 Skep in die voorbereide pannetjie, smeer gelyk en bak 10—12 min tot net gaar.
5 Breek in stukke en sit voor saam met roomys en sjokoladesous indien verkies.
Wenk: Roer ‘n bietjie gekapte gemmerstukke by die mengsel in voor jy dit bak.

LAE KOOLHIDRAAT-BRUINTJIES

Voorverhit die oond tot 180°C. Voer ‘n 20 cm-vierkantige koekpan uit met bakpapier.

Klits 100 ml olyfolie en 100 g xyilitol saam tot effe romerig. Voeg 100 ml Griekse jogurt, 100 g donker sjokolade, 70%,  wat in stukkies gebreek is, 160 ml (⅔ k) appelpuree, 4 geklitste eiers, 150 g fyn amandels, 10 ml (2 t) bakpoeier, 50 g kakao en 150 g gekapte, gemengde neute by. Meng goed.  Skep in die pan, maak gelyk en bak sowat 20 minute tot gaar maar steeds effe wobbelrig in die middel. Laat afkoel in die pan en sny in blokkies. Sif kakao oor.

Leave a comment