Met die vrystelling van die Huigenoot-fliek, Vergeet my nie, besluit ons om ook die kosliefdes van Mardaleen en Hugo Derks van Gobabis, Namibië se liefdesreis neer te pen – van hul sorgelose studentedae in Potchefstroom, hul tyd in Londen en uiteindelik Namibië waar hulle nesskop op ‘n plaas tussen die koppies en uitgestrekte vlaktes. Ek epos vir Mardaleen en kry ‘n heerlike geselsbrief terug waarin Mardaleen uitwei oor hul wedervaringe en hoe dit kos was wat die liefdesvlam hoër laat brand en wat vir ewig ingeprent gebly het in hul onthou-arsenaal. Sy vertel van die Wille Dingo-braaibroodjie wat hulle as studente in Potchefstroom geniet het en hul gunsteling Doner Kebab waarvoor hulle moes raap en skraap na ‘n aandjie uit in Londen voor hulle in die vroeë oggendure die nagbus terug huis toe geneem het. Hulle hou van avontuurlustig eet, vertel Mardaleen, maar in Namibië is dit soms moeilik om “vreemde” bestanddele in die hande te kry. Gobabis is wild- en braaiwêreld so buiten rohack, ‘n Duitse bröchen met rou maalvleis, ui en agurkies op, is murgbene op roosterbrood vir ontbyt en steak met sampioensous hoog op die spyskaart. Met die maak en skiet van die geregte het ons in die toetskombuis saam met hulle gesmul aan die lekker onthoue.
Ek was nog altyd gek na enige groentekoek en kaaskoek en toe daar die uitnodiging kom om ‘n koek te kom bak met die wegspring van die gewilde televisiereeks, Koekedoor, is ek bang-opgewonde, want sien, ek hou nie daarvan om op die spot gesit te word nie. Ek besluit om die twee te kombineer en voel gerus dat dit die ding sal doen, maar gedagtig aan die groot kokkedoor-beoordelaars, voeg ek nog ‘n paar bestanddele by en bedink ‘n plan om die koek imposant te laat lyk – die kaaskoek moet dien as die hart van die koek met kersie op die koek ‘n sjokolade-ganache vir afronding bo-op.
Ek weet daar is ‘n tydsbeperking waarbinne alles moet klaar, so ek oefen die koek ‘n paar keer by die huis. Maar jou eie kombuis en ‘n vreemde kombuis is mos nou twee verskillende goed en dit vat ‘n tydjie (lees heelwat tyd) om jou te vergewis waar is die bakke, meetlepels, klitsers en al so aan. En wat ek so bietjie van vergeet het, is dat die bymekaarmaak van die bestanddele ook deel uitmaak van die tyd. Die tv-kombuis is pragtig, maar die neersitplek min. En ek begin te skarrel, vat dubbel solank net om die basiese groentekoek, wat eintlik net bymekaargooi van bestanddele behels, aanmekaargesit te kry. Nou begin ek myself verwens dat ek die ekstra bestanddele bygevoeg het – die tiemieblaartjies en gemmer se opkap vat nou onnodig lank — en dan moet die koek boonop nog afkoel ook voor ek die kaaskoekhart, wat moet stol binne-in, kan inskep. O aarde, wat het my besiel wonder ek later kliphard.
Later druk ek daai koeke (nog nie heeltemal deurgebak) in die vrieskas sodat hulle net kan afkoel. Met die inskep van die vulsel, sien ek hier kom groot probleme en dis toe wat ek die sosatiepenne nadersleep en die koek daarmee vaspen. Maar ‘n koue vulsel en ‘n effe warm koek is nou maar eenmaal nie maats nie, so die kaaskoekhart begin “vermurwe” en swymel stadig maar seker uit die koek. Voete van klei kry die koek letterlik toe net daar voor die tv-kameras se oë. Vrieskas toe is maar weer al genade. My nou vrieskaskoek staan krom en skeef tussen al die ander skeppings van die bobaasbakkers voor die beoordelaars en ek weet nie waar om my kop in te druk nie. Die arme koekedoor-deelnemer wat na my dieselfde koek moes bak, sukkel net so. Hopelik het sy my nou al vergewe.
As jy egter tyd het, is hierdie werklik ‘n heerlike koek wat ‘n pad na jou geliefde se hart sal vind en waarmee jy goed indruk kan maak. Daarom het hierdie koek, toe ek my 100 beste resepteboek bymekaar moes sit, ook sy plekkie gekry as een van my top 10 geliefde koeke.
WORTELKOEK MET KAASKOEKHART
Maak 1 groot stapelkoek
Voorbereiding: 50 min
Baktyd: 50 min
KOEK
375 ml (1½ k) heuning of geelsuiker
180 ml (¾ k) olie
4 groot eiers
400 g koekmeel
10 ml (2 t) koeksoda
5 ml (1 t) fyn gemmer
10 ml (2 t) fyn kaneel
2 ml (½ t) sout
300 g wortels, fyngerasper
200 g rou beet, fyngerasper
1 blik (400 g) fyn pynappel, goed gedreineer
80 ml (⅓ k) ingemaakte gemmer in stroop, baie fyn gekap
100 g fyn amandels
100 g pekanneute, grof gekap
100 g pistasieneute, grof gekap (opsioneel)
375 ml (1½ k) klapper
15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil
10 ml (2 t) suurlemoentiemieblaartjies, fyn gekap (opsioneel)
KAASKOEKVULSEL
20 ml (4 t) gelatien
3 houers (230 g elk) roomkaas
60 ml (4 e) ingelegte gemmerstroop
250 ml (1 k) versiersuiker
WIT GANACHE
200 g wit sjokolade, in stukkies gebreek
45 ml (3 e) botter
60—80 ml (1/4—1/3 k) Griekse jogurt
AFRONDING
Verskeidenheid gekapte neute
Vars appelliefies of bossie vars tiemie
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer 3 veerklamppanne, 23 cm in deursnee en stuif met koekmeel.
1 KOEK Room heuning en olie, voeg die eiers een vir een by en klits goed tot lig.
2 Sif die droë bestanddele saam en vou by die eiermengsel in.
3 Voeg die res van die bestanddele by, meng saam, verdeel gelykop in drie dele en skep in die voorbereide koekpanne. Bak sowat 45—60 minute of tot ‘n toetspen skoon uitkom.
4 Koel effe af, plaas dan in vrieskas om vinnig af te koel en lekker stewig te wees.
5 Sny ‘n groot gat uit een van die koeke.
4 KAASKOEKVULSEL Spons die gelatien in bietjie water. Smelt. Roer bietjie van die roomkaas by en meng die res van die bestanddele stadig by. Verdeel in twee dele, elk ewe veel.
5 AANMEKAARSIT Plaas ‘n koeklaag op ‘n koekbord, smeer een deel kaaskoekroom gelyk oor, plaas koeklaag met gat in bo-op, vul met vulsel, smeer res van die vulsel bo-oor en plaas die laaste koeklaag op. Steek vas met sosatiepenne. Plaas in yskas tot stewig.
6 WIT GANACHE Plaas die sjokoladestukkies en botter in ‘n glasbak oor ‘n kastrol met kookwater en roer tot gesmelt. Voeg die jogurt bietjie vir bietjie by en meng baie goed tot glad.
7 AFRONDING Plaas die koek op ‘n dienbord. Skep die ganache rofweg bo-op en rond af met gekapte neute, appelliefies en/of tiemie.
ROOIBOS-FLUWEELKOLWYNTJIES
As jy eerder individuele koekies wil maak, is hierdie rooifluweel-kolwyntjies net die ding. Ek gebruik graag die Floral Berry-blomtee van Carmién-tee om ‘n ekstra spesiale geur aan die koekie te gee. Geniet die koekies ook saam met een van Carmién-tee se spesiale rooibostees. Gaan loer op die Carmién-tee-webtuiste om jou gunsteling tee te bestel. Die tees is te kry in supermarkte soos Checkers, Pick N Pay, Spar en Dischem hou veral ‘n groot verskeidenheid aan.
KOLWYNTJIES
50 g (½ pak) fyn amandels
180 ml (¾ k) koekmeel
180 ml (¾ k) witsuiker
30 ml (2 e) kakao
10 ml (2 t) bakpoeier
2 ml (¼ t) sout
5 ml (1 t) vanieljegeursel
3 eiers
125 ml (½ k) canola-olie
210 ml rooisbostee (Floral Berry van CarmienTea, gemaak met 3 sakkies) en 1 bottetjie (40 ml) rooi voedselkleurse gemeng
VERSIERSEL
45 ml (3 e) vars suurlemoensap
180 ml (¾ k) versiersuiker
2 houers (230 g elk) roomkaas
45 ml (3 e) botter, gesmelt
Voorverhit die oond tot 180°C. Pak papiervormpies in ‘n muffinpan met diep holtes.
1 Meng die droë bestanddele saam.
2 Klits die nat bestanddele buiten die rooibosteemengsel saam. Meng by die droë bestanddele. Voeg die rooibosteemengsel bietjie-vir-bietjie by en meng goed tot ‘n gladde beslag.
3 Giet in die papiervormpies en bak 15—20 minute of tot ‘n toetspen skoon uit die kolwyntjies kom. Koel af.
4 VERSIERSEL Meng al die bestanddele saam.
5 AFRONDING Sny ‘n gat in die kolwyntjies (of druk ‘n gaatjiemet die agterkant van ‘n houtepel) en vul met versiersel. Smeer die versiersel rofweg oor die kolwyntjies.
