Trek ‘n vissie uit

Laas week met die volmaan besluit die manne dis weer tyd om ‘n bietjie te gaan uitlê vir die nag. En oo, die stille opgewondenheid. Dis ‘n hele gedoente om die boot, visgerei, aas en eetgoed vir die deurnag-vangery gereed te kry. Vroegaand vertrek Lood en vriend Abraham. Met laagwater maak hulle aas by die sandbanke en toe is dit vort na die elflyn om te gaan lyn natmaak. Ek hoor niks van hulle nie en toe dit goed donker is ry ek ‘n draai langs die lagoon om. Oral op die meer skyn daar ‘n paar liggies van bote wat uit is vir die nag en dit lyk vir my altevol lekker, amper knus, jy en jou bootjie op die stille oop waters met net die watergeklots wat die stilte verbreek, want in die aandskemering word daar nie hard gepraat nie, eerder gefluister.

In die vroeë oggenure is hulle tuis met ‘n goeie vangs, meestal elf. In die volmaan word die boot net langs die huis ingestoot om te wag vir môreoggend se ordentlike skoonmaak, maar die visse word dadelik verwerk, skubbe afgeskraap en binnegoed verwyder. Met die eerste skynsel van ‘n nuwe dag wat breek word daar uiteindelik gelukkig en tevrede bed toe gegaan vir ‘n salige kortstondige slapie.

En ek begin solank dink op watter lekker manier mens hierdie heerlike vars vis kan gaarmaak. Met die aanvang van die nuwe jaar het ek eintlik so by my sigselwers besluit dis tyd dat ek weer so ‘n slaggie die groot verskeidenheid kookboeke op my boekrak stelselmatig moet deurwerk en fisies vir ‘n slaggie uit hulle moet kook.

Nog altyd was ek ‘n groot aanhanger van Yotam Ottolenghi se werk en het heelwat van sy boeke. Ek blaai verskeie deur, maar my gunsteling bly steeds die trefferboek: Jerusalem, wat hy saam met Sami Tamimi saamgestel het. Daarin vind ek ‘n resep vir gemarineerde soetsuur vis. En terstond besluit ek, dis wat ek met hierdie elwe gaan maak. Ek maak ‘n paar aanpassings aan die sous en omdat die visse so mooi is, braai ek hulle net so heel. Vir aandete verorber ons bykans die hele lotjie. Dit wat oorbly, maak ek visherderspastei van.

Soetsuur vis
Genoeg vir 4—6 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 12-20 min

15 ml (1 e) olie
2—3 uie, gekap
15 ml (1 e) elk koljandersade en vinkelsade
2 soetrissies, 1 rooi en 1 geel, ontpit en in stukke gesny
2 knoffelhuisies, fyngedruk
3 lourierblare
30 ml (2 e) vismasala of matige kerriepoeier
4 tamaties, gekap
1 sakkie (50 g) tamatiepasta
Sowat 125 ml (1/2 k) water
80 ml (1/3 k) appelasyn
Sowat 30—45 ml (2—3 e) suiker
Sout en peper
3 eiers
2 of 3 heel vars visse soos elf of stompneus (nie te groot), skoongeskraap en binnegoed verwyder (andersins stokvismote)
Koekmeel, gespesery met sout en peper
olie
20 g vars koljander, gekap

1 Verhit die olie in ‘n pot en braai die uie daarin tot sag.
2 Druk die koljander- en vinkelsade fyn in ‘n vysel met ‘n stamper en voeg by die uie terwyl dit braai.
3 Voeg soetrissies en knoffelhuisies saam met die lourierblare by en braai tot sag.
4 Voeg die masala of kerriepoeier by en roer deur.
5 Voeg die tamaties by en prut tot sag.
6 Meng die tamatiiepasta met die water en voeg by.
7 Voeg die asyn en suiker by, verlaag die hitte en prut tot ‘n geurige sous, voeg meer water by indien nodig. Geur met sout en peper. Hou eenkant.
8 Klits die eiers in ‘n groterige bak.
9 Streep die vis deur die eiers tot heeltemal bedek.
10 Rol in die meelmengsel.
11 Verhit genoeg olie in ‘n groot platterige pan en braai die visse, een op ‘n slag, in die olie tot net effe bruin alkant.
12 Verwyder die visse versigtig met twee spane uit die pan en pak in ‘n groot oondvaste bak.
13 Skep die tamatiesous oor vis.
14 Bak sowat 20 minute tot die vis net gaar is en maklik vlok met ‘n vurk. Sprinkel die koljanderblare oor.
15 Laat afkoel tot kamertemperatuur en geniet saam met korserige brood of aartappels, maar eintlik smaak dit op sy lekkerste as die vis eers vir so ‘n dag of 2 in die yskas gemarineer het en die geure goed in die vis ingetrek het.

Wenk: Met die oorskiet maak ek vis-herderspasei: Verwyder al die graatjies en skep in ‘n bak. Kook ‘n lekker lotjie aartappels en maak goed fyn saam met bietjie melk en botter.

Skep bo-op die vis en bak net vinnig tot die aartappels effe verbruin het.

Leave a comment