Moeitelose inpakkos

Ons is lief vir musiek, en veral Afrikaanse musiek word daar baie in ons huis geluister. My man is die musieklike een met ‘n fyn oor en baie ritme en kan enige instrument bespeel sonder dat hy eintlik les daarin moes kry. Maar ekke, ai, my ma het geglo haar meisiekinders moes musiek neem, maar ek dink Mnr Horn was maar net te verlig toe ek na my graad 3 musiekeksamen die handdoek ingooi. Tog kan ek my verluister aan enige mooi musiek, van klassiek tot rock.

So het ons (lees eintlik my man) met ons jaarlikse safari na een of ander wildreservaat altyd geglo dat ons ‘n nuwe arsenaal CD’s moet aanskaf om die langpad korter te maak. En dit was ‘n hele gedoente om paslike CD’s vir waarheen ons ookal op pad was, te kies. Sodra almal netjies hul sit gekry het, is die eerste CD gelaai en het ons lustig saamgeluister, die kinders doodstil agter in die motor. En voor ons ons kom kry, was die langpad verby en almal in ‘n ontspanne gees en lus vir die vakansielekkerte wat voorlê

Maar nou is CD’s se dae vir altyd getel en voertuie kom nie meer met CD-spelers uit nie. Ons kosbare versameling CD’s, verpak in bokse, het op die rak bly staan. Totdat my man dit goedgedink het om alles te begin oorlaai op ‘n stokkie – dit het hom letterlik verskeie nagure (hy is die naguil, ek nie) geneem, maar nou is hy uiteindelik klaar en kan ons ons opnuut weer verlustig aan musiek wat ons al vergeet het ons besit. Die musiek speel heeldag deur in ons huis en bring die mooiste herinneringe van vele reise terug, soos die Acapella-koor se liedjie oor die Hantam, wat altyd in die CD was nes ons Vanrhynsdorp se pas begin uitklim het Kalahari toe. So kan ek vele onthoue opnoem.

Sekerlik net so spesiaal is die herinnering aan wat in die kosmandjie was op sulke reise. My kosherinneringe het ek anderdag met julle gedeel (gaan kyk hier) met ons trippie Botswana toe einde verlede jaar. Maar ons het nie net inpakkos nodig as ons op vakansie gaan nie. Werk toe en skool toe se kospakkies is net so belangrik. Ek onthou tot vandag toe nog die broodjies wat my ma sorgvuldig vir ons gemaak het elke Maandagoggend as ons vir die week koshuis toe moes gaan (en dit moes opmaak vir ‘n hele week verder sonder pousekos): heerlike vars snye plaasbrood, dikgesmeer met plaasbotter met gerasperde kaas op en ‘n stukkie vars blaarslaai of andersins tuisgekookte appelkooskonfyt, netjies toegedraai in waspapier. Ons kon nie wag vir pousetyd nie. My ma moes later dubbele pakkies maak, want ons dorpsmaats het net so lustig saamgesmul. Vir een was daar nie op ons klein dorpie ‘n plek waar jy vinnig ‘n wegneembroodjie kon gaan koop nie en nog minder het my ma daardie tyd gebodder met muffins bak (skons wel, maar dit was vir teetyd). Tog het ek nog altyd ‘n swak vir muffins gehad – nie soetes wat eintlik net ‘n stuk vermomde koek is nie, maar ordentlike swaar klam muffins, gelaai met vesel en droëvrugte en goedheid. Ek verorber hulle sommer net so, nie eers botter of enigiets anders bo-op is nodig nie.

Met die skryf van my Lekker&Goed-boek het ek so ‘n muffin-resep ontdek – propvol vesel en met dadels vir soetigheid; ‘n ander een is ‘n tipe wortelkoekmuffin gemaak met tuisgemaakte granola. Vir my heerlik en ideaal vir inpakkos. Omdat hulle so lekker vries, kan jy sommer die baksel verdubbel en dan net uithaal soos jy nodig kry om in die kospakkie te sit. By pousetyd is die muffin ontdooi en net reg vir eet.

Meer oor die suikerinhoud in vrugte
Baie vrae het ook die afgelope tyd ontstaan oor of die suikerinhoud van veral vrugte sleg is vir ‘n mens. Fruktose is die suiker in vrugte en party groentesoorte. Die fruktose in heel vrugte en groente word stadig afgebreek omdat dit heelwat water en vesel bevat en ook lank neem om te kou, daarom gaan dit nie veel skommeling op bloedglukosevlakke hê nie. Die fruktose-inhoud verskil egter tussen vrugte, so mens moet steeds verstandige keuses maak en porsies beheer. Die groot bohaai oor fruktose wat die lewer kan beskadig gaan egter oor hoëfruktrose-mieliestroop oftewel HFCS, wat baie in verwerkte kosse gebruik word. As fruktose tot HFCS verfyn word, verloor dit die vesel en voedingstowwe wat jou liggaam help om die fruktose goed te verwerk. As mens te veel daarvan inneem deur veral verfynde kosse te eet, kan dit lei tot insulienweerstandigheid wat gepaard gaan met die opbou van vet in die lewer.

Met bogenoemde in aggenome het ek begin om bygevoegde suiker in veral soetigheid en gebak so min as moontlik te maak en dit grotendeels te vervang met natuurlike soetmakers soos vrugte, veral appels en dadels asook groente soos patat wat ook baie vesel bevat.

Al is dadels van die vrugte wat die swaarste gelaai is met suiker – 12 dadels bevat altesaam 15 ½ teelepels suiker- het dit ‘n lae glukemiese indeks en is gepak met voedingstowwe, anti-oksidante en vesel. Saam met die gebruik van ander bestanddele soos sade, neute en klapper verminder die hoë veselinhoud die uitwerking van die suiker op die bloedglukose.

Volgrane en vesel
Volgrane bied mens hope heilsaamheid soos vesel wat spysvertering aanhelp en benewens vele minerale en B-vitamiene bevat dit stysel, proteïene en goeie vette. Hulle is min verwerk en bevat steeds al drie lae – die semel, wat al die vesel en antioksidante bevat; die endosperm, waarin die stysel en proteïene voorkom en die kiem, wat onder meer die B-vitamiene, minerale en goeie vette bevat. Die beste keuse is volkernheelgraan (whole-kernel intact grains) wat glad nie verwerk is nie. Meel moet verkieslik klipgemaal wees, want dit verhit nie tydens dié stadige maalproses nie en word ook nie gebleik nie. So bly die goedheid behoue. Verfynde grane daarenteen is grane waarvan die semel en die kiem verwyder is, dus bly die endosperm oor, waar al die stysel sit. Probeer verwerkte produkte of fyngebak of enigiets “kits” sover moontlik vermy.

Leave a comment