Reg vir die dag

Ek is nie ‘n groot eter soggens nie, veral nie as ek nog moet gaan oefen nie. Dan is ‘n smoothie wat jy in ‘n blits in die NutriBullet kan maak meer as genoeg vir my.

Daarvoor hou ek graag ‘n pak bevrore bloubessies, wat as ‘n superkos beskou word, in my vrieskas aan. Saam met ‘n handvol spinasie en volroom-jogurt maak dit ‘n heerlike romerige smoothie. Omdat ek ook nie ‘n groot vleiseter is nie, is die dan ook sommer net die regte plek om ‘n proteienryke skommel (USN se Low GI Nutrition shake – DIETFUEL ULTRALEAN bevat 21 g proteien per porsie asook baie vesel en min suiker) in te werk. So smaak dit heelwat beter as wanneer jy die skommel net met water meng.

Suiwel is ‘n goeie bron van protein, die basiese bousteen van breinselle en is ook ‘n goeie bron van B-vitamiene. Dit help met energie-metabolisme en verseker genoegsame toevoer van energie na die brein. Suiwelprodukte wat gefermenteer is soos jogurt en sommige kase bevat minder laktose (melksuiker) – dis baie keer waarvoor mense sensitief is in suiwel. Hulle bevat ook goeie derm-bakterieë wat kan help met goeie spysvertering. Ek verkies ook volvet-jogurt, want vet is veral goed vir breinontwikkeling (in babas). Bessies is ryk aan anti-oksidante wat help om skadelike stowwe, vry radikale, te verwyder en daar word ook geglo dat dit help met geheue.

Spinasie is anti-inflammatories, hoog in vesel, antioksidante en yster (eet sitrus vrugte daarby vir beter absorpsie) en help met brein- en senuweestelsel funksies

Pynappel is anti-inflammatories en help veral om inflammasie in gewrigte en spiere te voorkom, verder bou dit die immuunstelsel op en verbeter bloedsirkulasie.

Soos die dag aanstap en mens besig raak, kan ek hier by middag se kant voel jy begin nou stoom verloor. Meestal maak ek tyd en geniet ‘n vinnige slaai, maar soms as die spertye net te op jou is en die tyd jou inhaal, het jy skaars tyd vir iets te drinke.

Eens op ‘n tyd het ek sommer ‘n bottel suikervrye grondbonebotter in my laai gehou en ‘n vinnige skeppie daarvan geniet en ek weet nou hoekom dit my weer woema gegee het. Buiten vir die vinnige energie, is grondbone ryk aan vitamien E wat die senuwee-membrane beskerm en so help dat die brein goed funksioneer.

Maar dis darem baie lekkerder om die energieryke breinkos eerder in ‘n heerlike koekie te geniet. Dit kan jy ook sommer in jou lessenaarlaai hou en dis ideaal om in te pak saam werk of skool toe. Die koekieresep wat ek graag gebruik, kry geen meel of gluten in nie en die suiker is minimaal, veral as mens dit met die suiker-en-versoetermengsels aanmaak wat mens deesdae te koop kry om mee te bak of gebruik helfte suiker en versoeter.

BLITSBLOUBESSIESKOMMEL
As ek die dag ‘n taai oefensessie het, werk ek sommer ook ‘n skep of twee weiproteïen hierby in. As ek pynappel byvoeg, is die mengsel meer dan soet genoeg.

Maak sowat 500 ml (2 k) skommel (Genoeg vir 2 mense)
Bereiding: 2 minute

250 ml (1 k) bevrore bloubessies
250 ml (1 k) fyngekapte pynappel
60 ml (1/4 k) fyngesnyde spinasie
60 ml (1/4 k) warm Carmién groen rooibostee (ek hou van die Revive met brandrissie en gemmer in)
160 ml (2/3 k) natuurlike volroomjogurt
15—30 ml bruinsuiker of heuning (opsioneel)

1 Plaas al die bestanddele in die beker van ‘n staafmenger.
2 Verpulp tot glad.
3 Giet in ‘n glas en geniet.

LEKKER BROS GRONDBONEBOTTERKOEKIES

Die lieflike bros koekies bevat net 5 bestanddele en is sonder gluten. Ek gebruik ook suikerlose grondbonebotter daarvoor. Dis binne minute klaar gemeng. Ook ideaal om in die kinders se kosblikke te pak. Hulle sal dit net so geniet om sommer self die koekies aanmekaar te slaan.

Maak 18—20 koekies
Bereiding 10 min
Baktyd: 15 min

250 g suikerlose gladde grondboontjiebotter (Ek gebruik Simple Truth van Checkers)
20 g kakao
1 eier
80 g versoeter-en-suikermengsel of andersins helfte bruinsuiker en versoeter wat geskik is om mee te bak
5 ml (1 t) koeksoda
Versiersuiker om in te rol
Grondbone vir versiering

Voorverhit die oond tot 180˚C. Smeer 2 bakplate.
1 Meng al die bestanddele tot ‘n sagte deeg met jou hande buiten die versiersuiker en die grondbone.
2 Skep 15 ml (1 e) deeg uit met ‘n maatlepel en rol in bolletjies. Rol in versiersuiker.
3 Pak op ‘n bakplaat en druk effe plat met ‘n vurk. Druk ‘n halwe grondboon in elk.
4 Bak 15 minute tot gaar (die koekies sal steeds sag wees). Laat afkoel op die bakplaat, pak dan op ‘n afkoelrak en laat heeltemal afkoel. Bêre in ‘n lugdigte houer.

Leave a comment