Ek hou van enige soort gekookte pap – hawermout, Maltabella, maar veral mieliepap, die lekker growwe soort wat jy so in slopies by padstalle aankoop.
Ons kook dan sommer ‘n goeie potvol en hou die oorskiet om paptert mee te maak.
In my huis word daar letterlik meer dan ‘n dosyn vol eiers elke week verorber. Van roereier en omelette vir ontbyt tot soutterte en self sook ‘n gekookte eiertjie om eierslaai mee te maak. Die duurder eierpryse het ons geensins afgeskrik nie, want die goedheid so alles-in-een verpak kom darem net altevol handig te pas as daar vinnig kos gemaak moet word. ‘n Eierpan, eintlik maar ‘n tipe frittata is menigmaal op die laatontbyttafel en is net so geskik as ligte middagete.
PAPTERT
Paptert was nog altyd ‘n gunsteling by al wat ‘n braai is, maar dit kan net so goed instaan vir ‘n volledige ete en is die ideale manier om van oorskiet ontslae te raak. Die tert kry nie ‘n eiervla oor nie, so dis vinnig gaar. Ons kleur die pap geel met borrie wat ekstra goedheid verskaf.
Maak 1 groot paptert
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 20 min
1 liter (4 k) kookwater of helfte daarvan volroommelk
10 ml (2 t) sout
500 ml (2 k) growwe mieliemeel
5 ml (1 t) paprika
5 ml (1 t) borrie
45 ml (2 e) botter
VULSEL
olie
2 uie, gekap
olie
2 rooi uie, in wiggies gesny
200 g sampioene, kleiner gesny
125 g repies spekvleis of enige oorskiet gaar vleis
100 g baba-spinasieblare
4 fetakaassirkels of mozzarella- of Cheddarkaas
Mikrokruie vir afronding (opsioneel)
Voorverhit die oond tot 180˚C. Spuit ‘n langwerpige losboom-tertpan goed met kossproei.
1 Plaas water en sout in ‘n kastrol en roer die mieliemeel geleidelik by. Roer die paprika en borrie by. Kook tot gaar, sowat 20 minute, roer elke nou en dan. Roer botter by.
2 Druk driekwart van die mieliepap op die bodem en teen die kante van die voorbereide pan.
2 VULSEL Verhit intussen die olie en braai die ui tot sag. Skep uit en braai die rooiui-skywe tot sag. Skep uit. Braai die sampioene en spekvleis tot gaar.
3 Skep die uiemengsel op die paptert. Sprinkel die spinasie bo-op en rangskik die rooiui-wiggies, sampioene en spekvleis bo-op.. Sprinkel die kaas bo-oor.
4 Rol die res van die mieliepap in bolletjies en rangskik bo-op die tert. Smeer met olie. Bak vir 20 minute tot die kaas gesmelt is. Sprinkel die kruie oor en sit voor.
GEBAKTE EIERPAN
In die eierpan kan jy na hartelus rondspeel met groente in alle kleure.
Genoeg vir 4—6 mense
Bereiding: 10 min
Gaarmaak: 20 min
Olie vir braai
6 stingeluie, gekap
6 murgpampoentjies, in skywe gesny met ‘n aartappelskiller of grof gerasper
1 rooi soetrissie, in blokkies gesny
Sout en swartpeper na smaak
6 baba-aartappels, gekook en in skywe gesny
paprika
45—60 ml (3 e) songedroogde tamatie in vinaigrette, gekap of vars kersie-tamaties
125 ml (1/2 k) swart olywe
125 ml (1/2 k) sterk Cheddarkaas, gerasper
6 eiers, geklits
60 ml (1/4 k) melk
Handvol baba-spinasie of roketblare
Pecorino-kaasskaafsels
Voorverhit die oond tot 180˚C.
1 Giet olyfolie in ‘n pan en roerbraai die ui, murgpampoentjies en soetrissie tot sag. Skep uit en roer die songedroogde tamaties en olywe by.
2 Giet nog bietjie olie in die pan en braai die aartappelskywe saam met bietjie paprika tot effe bros. Pak op die boom van ‘n goedgesmeerde pan met oondvaste handvatsels en skep die groentemengsel oor.
3 Sprinkel die kaas oor, klits die eiers en melk en giet oor.
4 Bak sowat 20 minute of tot die eier gestol is.
5 Sprinkel die spinasie of roketblare en pecorino-skaafsels oor.
6 Sit dadelik voor.
