Somerkersfees 5

Op die familie-kersfeesete uit my kinderdae was daar altyd ‘n verskeidenheid soetigheid insluitend die Kerspoeding met die geldjies in. Nie dat dit ons gunsteling was nie, maar ons het geëet dat ons wange bol staan, alles in die hoop om die grooot geld raak te proe. My gunsteling was trifle – die koeklae met baie soetwyn oor, geel en groen jellie, verskeidenheid gepreserveerde vrugte en neute met baie vla en room. Later van jare het ek die swartboudtrifle ontdek met sjokoladekoek, karamelkondensmelk, kersies en room. Toe het dit my gunsteling geword.

Vanjaar was dit my inspirasie vir ons poeding wat ‘n swartwoudtrifle in die gedaante van ‘n koek is. En ek gebruik gestolde vla wat met karamelrooibostee gemaak word. Net so lekker soos karamelkondensmelk, maar nie so oormatig soet nie. Ek bak die koek in ‘n silikoon-bundt-pan wat in die Airfryer pas. Lekker maklik.

Vir die somerkersfees het ek ‘n aparte koektafel gedek om die statige koek op uit te stal. Die Provensale langbeen-koekstaander van Mervyn Gers is perfek om die koek op staan te maak en ek versier dit met bolletjies silwer en titsels groen saam met wit. Die staander sit ek in ‘n koniferkrans wat Elmarie van der Berg van Soutbos gemaak het. Daarby Mervyn Gers bordjies en oorlose koppietjies. Die Rooi Turksvy-teedoeke verleen titsels rooi en dien as ‘n oorgroot servet.

Carmién se Turkish Delight met rooswatergeure en Piekenierskloof se Pinotage met sy bessie- en sjokoladenote is heerlik saam met die kakao, bessies en aarbeie van hierdie swartwoudtrifle-koek. Skink die tee in die oorlose Provensale-koppies van Mervyn Gers en sip aan klein slukkies Pinotage uit kristalglase.

Swartwoud triflekoek
Maak een groot trifle-koek, genoeg vir 6—8 mense
Bereiding: 20 min
Baktyd: sowat 40 mina

KOEK
500 ml (2 k) koekmeel
125 ml (½ k) kakao
10 ml (2 t) koeksoda
Knippie sout
250 ml (1 k) hawermout
250 ml (1 k) suiker
160 ml (⅔ k) canola-olie
30 ml (2 e) appelasyn
500 ml (2 c) Cookies & Cream Carmién-rooibostee, gemaak met 4 sakkies
KARAMELVLA
500 ml (2 k) melk
4—6 Caramel Carmién-sakkies
Knippie sout
60—80 ml (¼–⅓ k) suiker
40 g vlapoeier
10 ml (2 t) gelatien
AFRONDING
250 ml (1 k) verkoelde room, styfgeklits met bietjie strooisuiker
125 g aarbeie, in skyfies gesny
250 g vars kersies met stele aan indien verkies

Voorverhit die oond tot 180°C (of stel bak by AirFryer, ook 180°C)
1 KOEK Meng die koekmeel, kakao, koeksoda, en sout saam, voeg die hawermout en suiker by en meng goed.
2 Giet die olie, asyn en rooibostee in ‘n groot beker en klits goed.
3 Voeg die teemengsel by die droë bestanddele en meng goed.
4 Spuit ‘n silikoon-bundtpan goed met kossproei. Giet die beslag daarin en bak sowat 40—45 min lank of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die koek kom.
Bedek die koek halfpad deur die baktyd met ‘n vel tinfoelie om te keer dat die bokant nie te donker bak nie.
6 Laat afkoel in die pan en verkoel tot stewig.
7 Halveer die koek horisontaal. Plaas die koek op ‘n koekstaander.
8 VLA Verhit die melk saam met die teesakkies tot net onder kookpunt. Verwyder die teesakkies, voeg die suiker by en bring die melk tot kookpunt.
9 Meng die vlapoeier met ‘n bietjie water tot ‘n pasta, meng bietjie van die verhitte melk by, roer tot glad en voeg by die res van die melk. Meng goed en verhit tot die mengsel verdik en kook.
10 Spons intussen die gelatien in bietjie water, verhit so 10 sekondes in die mikrogolfoond of tot die mengsel gesmelt is, moenie dit laat kook nie.
11 Voeg van die vla by, roer goed en giet by die orige vlamengsel. Roer goed en laat afkoel tot gestol.
12 AFRONDING Klits helfte van die styfgeklopte room by die vlamengsel in. Gebruik ‘n elektriese klister en klits die mengsel tot glad.
13 Smeer driekwart van die vlamengsel op die onderste koeklaag. Pak die gesnyde aarbeie bo-op.
14 Plaas die ander koeklaag bo-op en spuit bollings vlamengsel bo-oor die koek. Versier kwistig met kersies.
15 Rond af met takkies kruisement en sit voor met Piekenierskloof Pinotage en Carmién Turkish Delight.

Leave a comment