Geseënde Kersfees

Daar is vir my nie ‘n beter en mooier manier om die vreugde van Kersfees oor te dra as in die woorde van Koos du Plessis nie. En terwyl julle daardie woorde oordenk, is hier vir oulaas ‘n samevatting van my Kersfeestafel vir 2023.

Welkom, o stille nag van vrede onder die Suiderkruis Wyl stemme uit die ou verlede oor sterrevelde ruis
Kersfees kom, Kersfees kom, gee aan God die eer Skenk ‘n helder somerkersfees aan hierdie land, o Heer
Hoor jy hoe sag die klokke beier in eeue-oue taal Kyk, selfs die nagtelike swye, vertel die ou verhaal
Kersfees kom, Kersfees kom, gee aan God die eer Skenk ‘n helder somerkersfees aan hierdie land, o Heer
Voel jy ook nou Sy warm liefde as ons die dag gedenk Toe Hy Sy Seun aan ons gestuur het, ons grootste kersgeskenk
Kersfees kom, Kersfees kom, gee aan God die eer Skenk ‘n helder somerkersfees aan hierdie land, o Heer

DIE SPYSKAART
Fynbos-volgraan-plaasbroodjies met kaaskersboompies

Gemmer”gammon” met waatlemoen-en-spanspek
Slaphakskeentjies
Koperpennieslaai
Beet-en-aarbeislaai
Broccoli-en-tamatieslaai

Swartwoud trifle-koek

TE DRINKE
WYN

Piekenierskloof Heirloom White
Piekenierskloof Cinsault
Piekenierskloof Chenin Blanc
Piekenierskloof Pinotage
(by koek)

TEE
Carmién Floral Berry
Carmién Tropical Burst
Carmién Orange Camomile
Carmién Turkish Delight
(by koek)

KOS, WYN EN TEE – ‘N FEESMAAL

Ons het die wyne en tees noukeurig gekies om die kos te komplimenteer. En omdat ons ‘n somerse Kersfees vier, sorg dat die wyne verkoel is, selfs die rooi wyn.

Piekenierskloof se Chenin Blanc pas goed by die gemmer in die gerookte gammon terwyl die Cinsault heerlik is saam met die tamatiesousie van die koperpenniewortelslaai en ook by die tamatie in die broccoli-slaai. Die Heirloom White asook die Chenin Blanc werk ook goed saam met al die slaaie.

Die swaarder Piekenierskloof Pinotage met sjokoladenote is die ideale pasmaat by die swartwoud-triflekoek.

Wat die tee betref – ons sorg altyd vir so 3 verskillende soorte potjies tee op tafel waaraan jy tussendeur kan sip om as paletskoonmaker en ook hidreerder te dien. Dit werk ook uitstekend om die smake en geure van beide die kos en die wyn na vore te bring. Die tee smaak op sy beste as dit so by 60°C gedrink word, sonder suiker. So maak dit vroeg en laat afkoel. Plaas dit dan op ‘n brandertjie om dit warm te hou.

My keuse van Carmién-tees vir die tafel is as volg:

Die Carmién Floral Berry met soeterige bessiegeure om saam met die waatlemoen-en-spanspek by die gammon te gaan asook saam met die aarbei-en-beetslaai met sy woudbessie-slaaisous.

Die Tropical Burst met sy tropiese geure sal ook heerlik wees saam met die gemmer van die gammon, en ook by veral die bêreslaaie terwyl die Orange Camomile vir my altyd ‘n móét op tafel is omdat dit by enige kos en wyn so lekker pas. Ek het ook Orange Camomile in die slaaisous van die broccolislaai gebruik, so dit sal daardie ligte lemoengeurtjie daar ook optel.

Turkish Delight spel altyd vir my soetgoed en die rooswaterprofiel werk heerlik saam met die sjokoladekoek en die rooi vrugte asook die rooi vrugte in die Pinotage.

Maar soos ek altyd sê, daar is geen reels nie, probeer en eksperimenteer bly die wagwoord.

Leave a comment