Somerkersfees oppie Stoep (Somerkersfees 4)

Vir ‘n somerkersfees kan mens nooit genoeg slaai op tafel hê nie. Buiten vir die bêreslaaie, verskaf kleurvolle slaaie vrolikheid aan die Kersfeestafel: Broccoli-slaai vir die broodnodige groenigheid en aarbei-en-beetslaai vir daardie tikkie rooi. Alles om te pas by ons natuurlike Kerstafel met sy groen Kerskrans wat Elmarie van den Berg van Soutbos spesiaal vir ons gemaak het saam met ander groenigheid uit my tuin waarmee ek die tafel getooi het. Die pragtige bloupatroon Provencale-eetstel van Mervyn Gers verleen daardie tikkie stylvolheid aan die tafel. Koekstaanders, hetsy ou silwer, koper of mooi keramiek, maak uitstekende slaaibakke en verleen hoogte aan die tafel. Die slaaie is absoluut heerlik en dis veral die slaaisouse wat hierby pas, wat mens telkens weer een weer laat skep. Die geheim, hulle word met rooibostee gemaak!

DIE SOUS MAAK DIE SLAAI
Ek maak graag deesdae slaaisous met rooibostee. Nie net is dit propvol antioksidante en ander goedhede nie, maar kan jy ook terselfderty die olie-inhoud heelwat afbring. Carmién se rooibostees met hul besonderse geure maak die lekkerste slaaisouse wat telkens gans en al anders smaak en heerlik is. Die slaaisouse hou goed in die yskas.

BROCCOLI-SLAAI MET SITRUS-SLAAISOUS
Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 15 min

SLAAISOUS
125 ml (½ k) Carmién Orange Camomile gemaak met drie teesakkies
Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
30 ml (2 e) olyfolie
2 knoffelhuisies, fyngedruk
15 ml (1 e) korrelmosterd
5 ml (1 t) Dijonmosterd
15 ml (1 e) heuning
45 ml (3 e) vars gekapte pietersielie, koljanderblare en ment
Sout en peper na smaak
SLAAI
1 kop broccoli, in kleiner blommetjie gebreek
125 g baba-tamaties
1 rooi ui, in dun repies gesny
Roketblare of koljanderblare vir bo-oor sprinkel

1 SLAAISOUS Meng alles goed saam.
2 SLAAI Plaas die broccoli in ’n bak, giet kookwater oor en laat staan so 5 minute. Dreineer, en giet die slaaisous oor en laat afkoel.
3 Voeg die baba-tamaties en ui by en meng deur.
4 Skep in ’n slaaibak of koekbord en sprinkel die kruie net voor opdiening oor.

AARBEI-EN-BEETSLAAI

Ek koop deesdae graag vir my daardie vakuumverpakte pakkies klaargekookte beetslaai. Ideaal om binne minute ‘n heerlike slaai mee op te tower, die beet en aarbeie vul mekaar mooi aan. Carmién se Energize-roobostee bevat onder andere bietjie woudbessies en boegoe wawt nie net die aarbeigeure in die slaai mooi optel nie, maar ook ‘n tikkie fynbosgeure aan die slaai verskaf.

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 15 min

Woudbessie-en-boegoe-slaaisous
SLAAISOUS
4 sakkies Carmién Energize (rooibos met woudbessies en boegoe)
250 ml (1 k) kookwater
15 ml (1 e) suiker
30 ml (2 e) olie
30 ml (2 e) appelasyn
7,5 ml (1½ t) Japanese sojasous
2,5 ml (½ t) fyn sout
SLAAI
2 sakkies vakuumverpakte klaargekookte beet
125 g aarbeie, gehalveer
1 rooi ui, in ringetjies gesny
Sprinkel gepekelde groenpeperkorrels
1 blok fetakaas met swartpeper
Bronkorsblare vir bo-oor sprinkel

1 SLAAISOUS Plaas teesakkies in ‘n maatbeker en giet die kookwater oor. Laat trek en koel af. Verwyder die teesakkies. Voeg die res van die sousbestanddele by en meng baie goed.
2 SLAAI Rangskik die slaaibestanddele in ‘n slaaibak of koekstaander en giet die slaaisous oor. Krummel die feta-kaas oor en stapel die bronkosblare bo-op. Verkoel tot met voorsit.Blog post 1:

Leave a comment