Somerkersfees 3

DIE SPYSKAART
Fynbos-volgraan-plaasbroodjies met kaaskersboompies

Gemmer”gammon” met waatlemoen-en-spanspek
Slaphakskeentjies
Koperpennieslaai
Beet-en-aarbeislaai
Broccoli-en-tamatieslaai
Swartwoud trifle-koek

TE DRINKE
WYN

Piekenierskloof Heirloom White
Piekenierskloof Cinsault
Piekenierskloof Chenin Blanc
Piekenierskloof Pinotage (by koek)

TEE
Carmién Floral Berry
Carmién Tropical Burst
Carmién Orange Camomile
Carmién Turkish Delight (by koek)

BêRESLAAIE

Ek het in ‘n huis grootgeword waar daar nie net verwoed konfyt en blatjang gekook is nie, maar ook ingemaak en alle oorskot uit die groentetuin of vrugteboorde ingelê is vir latere gebruik. Ons praat van kerrieperskes, slaphakskeentjies, koperpennie-wortelslaai, beetslaai en selfs op ‘n kol passata toe die tamaties omtrent die groentetuin ingeneem het. Die bottels het elkeen ‘n plakker opgekry met die naam en inmaakdatum, neergepen in my ma se netjiese boekhou-handskrif. Op die boonste rak in die koel inloopspens het hulle staanplek gekry, netjies in gelid; soort by soort. As ‘n vakansie aanbreek of oor die groot dae is daardie bottels dan oopgemaak om saam met die dag se spyse te geniet. Ons het gesmul. Elkeen het ‘n gunsteling gehad. Ek het veral gehou van koperpennie-wortelslaai en slaphakskeentjies. Veral koperpennie-wortelslaai het ek as jong getroude gereeld gemaak en dan sommer in die yskas in ons woonstel gebêre. Dit was dan vir lank ons bykos by aandete.

Altyd was ek egter maar terdeë bewus dat my inmaakgunstelinge maar goed gelaai was met die suiker, ter verdediging die suiker het gehelp met preservering. As kosredakteur het ek by verskeie geleenthede hierdie gewilde slaaie getakel en hulle resepte aangepas, minder suiker bygevoeg en ook ontslae geraak van die pakkies soppoeier wat so baie keer gemaklik bygevoeg is om die sous te verdik. My laaste groot probeerslag was kort voor COVID in 2020. Daarna het die toetskombuis vir lank toegestaan. Die bottels ingemaakte slaaie het verlate op ‘n rak in die kombuis agtergebly. Toe ons vir die eerste keer weer kon terugkeer kantoor toe, het ek heel eerste gaan inspekteer of die inmaakslaaie die toets van tyd deurstaan het – en hulle het. Net ‘n jammerte dat dit ook die laaste keer sou wees dat ek by daardie toetskombuis sou instap, want tydens COVID is die leefstyl-afdeling toegemaak en het my lewe soos ek dit vir 32 jaar geken het, vir altyd verander.

Ek is steeds lief vir koperpennie-wortelslaai en vanjaar het dit sterstatus op my Kerstafel, mooitjies voorgesit in ‘n ou silwerkoekstaander. Ek het ook ‘n spesiale wyn daarvoor uitgekies wat heerlik daarby is – Piekenierskloof se Cinsault met sy bessie en kersienote asook aks swart olyf gaan dit veral lekker by die tamatiesousie waarin die wortels ingemaak word. Speel bietjie rond tussen die verskillende rooibostees, veral die Tropical Burst en Orange Camomile en proe hoe die smake telkens verander soos wat mens ‘n ander tee saam met die kos geniet.

Koperpennie-wortelslaai
Maak sowat 1 liter (4 k) slaai
Bereiding: 20 min
Gaarmaaktyd: 15—20 min

SOUS
180 ml (¾ k) suiker
250 ml (1 k) appelasyn of soesjie-rysasyn
125 ml (½ k) Carmién Rescue rooibostee (rooibos en boegoe), gemaak met 2 sakkies
2 x 50 g tamatiepasta
10 ml (2 t) Worcestersous
15 ml (1 e) aangemaakte mosterd
5 ml (1 t) paprika
Sout en peper na smaak
20 ml (4 t) mielieblom
SLAAI
1 kg wortels, skoongeskraap en in dun skyfies gesny
1 groot ui, in ringe gesny
2 rooi of geel of groen soetrissie, in blokkies gesny
Olie

1 SOUS Plaas al die sousbestanddele in ‘n groot kastrol, verhit en roer tot die suiker opgelos het. Bring tot kookpunt.
2 SLAAI Plaas die wortels in ‘n kastrol, giet kookwater oor en bring vinnig tot kookpunt. Dreineer.
3 Braai intussen die ui en soetrissies in bietjie olie tot sag, voeg by die wortels.
4 Giet die sous oor en bring tot kookpunt.
5 Skep in gesteriliseerde flesse, maak goed vol en verseël.
6 Sit voor as deel van die somerkersfees-ete.

Slaphakskeentjies
Daar is altyd ‘n bottel of meer van hierdie ouwêreldse slaai op my rak. Deesdae kook ek die uitjies in groen rooibostee wat ‘n effense kruiesmaak verleen en bodder ook nie om die uitjies vooraf te skil nie. As die uitjies gaar is, glip die skilletjies sommer af.

Maak sowat 750 m l(3 k)
Bereiding: 30 min
Gaarmaaktyd: 30 min

UIE
1 kg piekeluie
45 ml (3 e) stokkies groenrooibostee van Carmién
Kookwater
SOUS
125 ml (½ k) appelasyn
125 ml (½ k) soesji-rysasyn of vars uitgedrukte suurlemoensap
125—160 ml (½–⅓ k) suiker
4 eiers
25 ml (5 t) mosterdpoeier
Knippie sout

1 UIE Plaas die uie in ‘n kastrol en strooi die stokkiestee oor. Giet kookwater oor tot die uitjies heeltemal bedek is. Kook tot sag.
Dreineer, spoel af en koel effe af tot hanteerbaar en trek die skilletjies af.
2 SOUS Plaas die asyn, en/of suurlemoensap en suiker in ‘n vlekvrye staal kastrol en verhit tot die suiker opgelos het. Verwyder van die hitte.
3 Klits die eiers, mosterdpoeier en sout saam, voeg bietjie van die asynmengsel hierby en klits goed.
4 Voeg by die res van die asynmengsel in die kastrol, roer en verhit oor lae hitte tot die sous verdik. Roer gedurig.
5 Meng die uitjies by en skep in ‘n gesteriliseerde glasbottel. Verseël.
6 Hou in yskas na oopgemaak.

Leave a comment