Somerkersfees 1

Die Feesgety is amptelik hier en op Langebaan is daar ‘n afwagting in die lug. Stadig maar seker begin die besoekers aankom en is dit nou ewe skielik ietwat van ‘n gesukkel om parkeerplek by die mall te kry. Maar ons kla nie, met die weer wat tans so pragtig saamspeel en die lagoon die diepste turkooisblou het Langebaan sy mooiste mooi vir ieder en elk oopgegooi om saam te kom Kersfees vier en die wonder van die Kersverhaal te kom beleef. In die kerk stap die kartonkamele en -herders lewensgroot teen die muur af na die krip voor in die kerk waar daar van nou af elke Sondag ‘n Adventkers aangesteek word tot Kersfees aanbreek. En oraloor hoor ek hoe mense begin regskud en plan maak vir die groot eet op Kersdag.

Ekself het tydens my jare as kosredakteur by Huisgenoot vele Kersfeesetes beplan en geskiet, telkens ‘n groot gedoente. Maar die wat my tot vandag toe bybly is waar ons nostalgie in die mix ingeweef het, hetsy dit die geliefde hoenderpastei of gerookte varkboud, trifle of gestoomde doekpoeding met die sente in is wat al deel van die familie is.

Vanjaar het ek ‘n propperse Somerkersfees vir ons oppistoep-fees beplan, want dis waar ons die tafel gaan dek. Alles is koud en kan vooraf gemaak word – dink slaphakskeentjies tot koperpennie-wortelslaai. Boonop hoef jy eintlik nie eers ‘n oond in te span om die ete klaar gekook te kry nie en almal kan op Kersdag heerlik saam kuier sonder ‘n geskarrel in die kombuis .

By ons in die familie is dit nou al ‘n instelling om nie net ‘n wyntjie saam met ons ete te geniet nie, maar ook ‘n potjie of meer rooibostee. Telkens is dit ‘n belewenis om te ervaar hoe die kos, wyn en tee mekaar aanvul en die beste geure in elk na vore bring. Later verduidelik ek verder hieroor.

DIE SPYSKAART
Fynbos-volgraan-plaasbroodjies met kaaskersboompies

Gemmer ”gammon” met waatlemoen-en-spanspek
Slaphakskeentjies
Koperpennieslaai
Beet-en-aarbeislaai
Broccoli-en-tamatieslaai

Swartwoud trifle-koek
TE DRINKE
WYN

Piekenierskloof Heirloom White
Piekenierskloof Cinsault
Piekenierskloof Chenin Blanc
Piekenierskloof Pinotage (by koek)

TEE
Carmién Floral Berry
Carmién Tropical Burst
Carmién Orange Camomile
Carmién Turkish Delight (by koek)

TOOI DIE TAFEL

Wit en natuurlike groen met ‘n titsel silwer is die tema van my Kerstafel. My blomvriendin, Elmarie van den Berg van Soutbos toor met blomme en sy maak die allermooiste Kerskranse wat by Food Lovers’ Market en ook Woolworths te koop is. Vir my maak sy vinnig twee imposante Kerskranse met coniferloof waarin sy hier en daar ‘n blomtakkie wat kan hou insteek as nodige afronding. Dié hang ek aan die lattedak wat skadu bied oor die stoeptafel.

Sy gee ook ‘n bossie pragtige wit blomme en peonies saam wat saam met takke groen loof (teebos, sandolyf, olien, olyfblare) en woestynrosies uit my tuin as tafelversiering dien. Tussen-in maak ek wit en groen kerse staan en gooi ‘n paar silwer bobbeltjies.

Gooi ‘n wit doek (ek het sommer moeselien gebruik wat mooi sag val) oor jou buitetetafel. Ek gebruik my Nostalgie-teedoeke uit die Carmen Niehausreeks (gaan loer op die Swier-webtuiste daarvoor) om as plekmatjies te dien en dek met my spesiale Mervin Gers Provensale-borde saam met silwer messegoed, kristalwynglase (‘n erfenis van my skoonpa) en dubbelwand-glasies vir tee. Die teepotjies op hul staandertjies (gewoonlik sit ons so 3 soorte voor) maak ‘n mooi prentjie (gaan loer by Carmién Tea daarvoor).

In die middel van die tafel maak ek my Mervin Gers koekstaander staan met ‘n pragtige houtengel onder ‘n glaskoepel daarop. Die peonies en ‘n paar silwerbobbeltjies rond dit af.

As opskepskottels vir die slaai span ek ‘n verskeidenheid koekstaanders in en knoop ‘n Rooi Turksvy-teedoek om elkeen se stoel vas wat as servet moet dien.

Die koek wat as poeding dien, pronk op ‘n aparte tafel.

Fynbos-volgraan-plaasbroodjies met kaaskersboompies

Ek bak die broodjies in groot muffinkoppies om sodoende vir elkeen sy eie broodjie te maak. Die broodjie word met gis gemaak, maar benodig geen kniewerk nie. Maklik! Pleks van botter sit ek kaasdriehoekies daarby voor wat altevol prettig lyk as ‘n Kersboompie. Ek gebruik ‘n kombinasie van groen rooibos en rooibos met boegoe wat ‘n subtiele fynbossmaak aan die broodjie gee.

Maak 18-24 broodjies
Voorbereiding: 5 – 10 min
Baktyd: 50-60 min

BROODMENGSEL
1 kg volkoring- of bruinbroodmeel, verkieslik klipgemaal
80 ml (⅓ k) elk sesam-, lyn-, sonneblom- en pampoensade
10 ml (2 t) sout
1 pakkie (10 g) kitsgis
VIR BAK
4—5 x 250 ml (4-5 k) louwarm Carmién rooibos met boegoetee en/of groen rooibostee, gebruik 1 sakkie per 250 ml
30 ml (2 e) olie
Ekstra sade vir bo-oor sprinkel

1 BROODMENGSEL Meng al die droë bestanddele baie goed saam in ‘n groot mengbak.
2 Meng die rooibostee en olie en roer by die bakmengsel in. Die beslag is slap.
3 Voorverhit die oond tot 190° C. Spuit die holtes van 24 groot muffinpanne baie goed met kossproei. Skep die holtes goed vol. Sprinkel ekstra sade oor en laat rys tot dubbel die volume op ‘n warm plek.
4 Bak sowat 50-60 minute tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die broodjies kom of tot dit hol klink as jy daarop klop.
5 Lig uit die muffinholtes en laat heeltemal afkoel. Sit voor met kaaskersfeesboompies.

Wenk: Die broodjies vries goed.
Jy kan ook die broodjies in die Airfryer bak.

Kaas-kersfeesboompies
1—2 dosies met 8 elk kaasdriehoekies (ek gebruik The Laughing Cow)
2 sakkies Carmién groen rooibostee of andersins Orange Camomile
Pretzels

1 Verwyder die omhulsel versigtig van die kasies, skeur of knip die teesakkies oop en gooi in ‘n plat bakkie.
2 Rol die kasies in die teemengsel.
3 Druk ‘n Pretzel versigtig onder in elke kasie en druk dan op elk van die volgraan-plaasbroodjies. Plaas op ‘n kleinbordjie.

Leave a comment