Nie baie van ons is al hier teen Oktobermaand so in die Kersfeesgees dat ons ‘n Kersfeeskoek of twee gebak kry nie. En dan kan dit ook nogals ‘n gedoente wees en ‘n aardige bedraggie kos.
Ek onthou hoe ons die papier moes knip waarmee die panne gevoer moes word, die kersies kleiner moes sny en selfs die rosyntjies se pitte moes uithaal.
Hierdie Kerskoekbrood is nou weliswaar sekerlik nie die ware Jakob nie, maar dis binne ‘n ommesientjie klaar en ook heelwat gesonder. Dit het nie nodig om ryp te word nie, maar jy kan hom maar dokter met ‘n sopie brandewyn of twee as jy daarna voel.
Aangesien die koek nie veel suiker of botter bevat nie, sal ek sal aanbeveel dat jy die koek so 3 dae laat staan en dan vries anders mag dit droog word.
Ek hou daarvan om die koek te versier met bietjie roomkaasversiersel, maar dis nie nodig nie.
Maak 1 Kerskoekbrood
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 50 min
BROOD
250 g dadels, gekap
80 g gemengde kerskoekdroëvrugtemengsel of slegs rooi glanskersies
80 g botter
180 ml (¾ k) suiker
250 ml (1 k) sterk rooibostee
5 ml (1 t) koeksoda
2 eiers, geklits
500 ml (2 k) koekmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
5 ml (1 t) fyn gemmer
5 ml (1 t) fyn kaneel
Knippie sout
100 g okkerneute of pekanneute, gekap
2 x 15 ml (1 e) brandewyn
VERSIERSEL
230 g roomkaas
30 ml (2 e) heuning of versiersuiker
Koekheuning en vrugte (bv. heel vye ) of gedroogde appelskyfies vir bo-op
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n medium broodpan of twee kleineres.
1 BROOD Plaas die dadels, Kerskoekmengsel, botter, suiker, tee water en koeksoda in ‘n kastrol en kook 5 minute saam. Koel af.
2 Voeg die eiers by en sif die droë bestanddele oor. Voeg die neute by en meng liggies.
3 Skep in die voorbereide pan, maak gelyk en bak 50 minute of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die brood kom.
4 Laat effe afkoel in die pan, keer uit en laat heeltemal afkoel.
5 Giet ‘n sopie brandewyn oor en stoor die afgekoelde koek in ‘n lugdigte houer. Giet weer ‘n sopie oor net voor jy die koek vries.
6 VERSIEREL Ontvries die koek voordat jy dit gaan voorsit en rond af met die versiersel.
7 Meng die roomkaas en heuning en skep oor die brood. Versier met koekheuning en vars vye of gedroogde appelskyfies.
