Bak koekies

Desember is nie vakansietyd op ‘n vrugteplaas nie, so die gedagte van blikke vol koekies wat saam gaan op vakansie moes wag tot Aprilmaand wanneer ons vir ‘n week Hartenbos verkas het. Nee, die plaaswerf was een groot gewoel en gewerskaf om die vrugte gepluk, gepak en gedroog te kry en almal se nerwe was klaar. Op die droogbane onder die huis het die rye stallasies oranjerooi geskyn soos die vrugte in die son gebaai het to hulle mooi droog was. Ma het bottels en bottels appelkooskonftyt gekook. Tog is daar êrens ook tyd ingeruim vir koekies bak. Gemmerkoekies, soetkoekies, appelkoosvierkante, brosbrood, Hertzoggies en grondbonekoekies. En ons moes hand bysit.

Tydens my jare as kosredakteur het dubbel spertye vanaf Novembermaand jou so laat les opsê dat koekies bak nie baie hoog op my agenda was nie. Gelukkig het my skoonma en skoonsussie gesorg dat die koekblikke vol kom.

En nou dat ons hier op Langebaan bly en ek my werk- en huistyd beter met mekaar afgewissel kry, ruim ek wel tyd in vir koekies bak. Maar dit moet nou ook nie ure neem nie. Dis dan wanneer hierdie basiese brosbroodresep wat jy vir ‘n hele verskeidenheid koekies kan gebruik, goed te pas kom. Jy maak die deeg sommer in die voedselverwerker aan.

Ek eksperimenteer ook deesdae al hoe meer met glutenvrye gebak en dan is hierdie grondbonekoekie weer ‘n wenner – dit word basies met kakao (nie eers glutenvrye meel nie) en grondboontjiebotter gemaak. Veral kinders is gek daaroor. Wees ook sommer slim en bak hierdie koekies as geskenke.

(Veelsydige brosbrood)
BROSBROOD
250 g yskoue botter, in stukke gesny
250 ml (1 k) versiersuiker, gesif
500 ml (2 k) koekmeel
80 ml (1/3 k) mielieblom
80 ml (1/3 k) papawersaadjies, of gekapte kruie (opsioneel)

1 BROSBROOD Plaas al die bestanddele in die voedselverwerker. Verwerk tot die botter goed in die meel ingemeng is en ‘n bol om die lem vorm.
2 Skep uit die voedselverwerker. Vorm in ‘n bol, draai toe in kleefplastiek en verkoel ‘n halfuur lank.

vir brosbrood
Berei die deeg sonder sonder saadjies of kruie. Druk die deeg vas in ‘n gesmeerde 20 cm-vierkantige koekpan. Merk in lang stafies, druk vurkmerke op elke stafie en strooi strooisuiker bo-oor. Bak 10 minute by 200°C, verlaag hitte tot 160°C en bak nog sowat ‘n halfuur of tot ‘n ligte strooikleur. Strooi ekstra strooisuiker oor. Koel af en sny in stafies.

vir kruie-koekies
Berei die deeg. Pak vars kruietakkies op ‘n plat oppervlak, druk die deeg daarop vas, plaas ‘n vel kleefplastiek of bakpapier op en rol die deeg uit tot so 3 mm dik (die kruie sit aan die onderkant vas). Druk koekies, enige vorm uit, pak op bakplaat en bak sowat 8—12 minute by 180°C tot gaar. Sit voor met kaas.

vir hartjie-koekies
Berei die deeg en rol uit. Druk hartjies uit met ‘n koekiedrukker. Pak helfte van die deegharte op die bakplaat, plaas ‘n skeppie roomkaas bo-op met ‘n lepeltjie konfyt op. Smeer die kante met water. Plaas nog ’n deeghartjie bo-op en druk die kante vas met ‘n vurk. Sny ‘n kruisie in die middel. Smeer die bokant met melk en sprinkel suiker oor. Bak sowat 12 – 15 minute by 180°C of tot goudbruin en gaar. Laat effe afkoel op die bakplate en plaas dan op ‘n draarakkie om heeltemal af te koel. Stuif met versiersuiker.

vir konfytkoekies
Berei die deeg, rol uit en druk sirkels uit. Druk klein hartjies of sirkeltjies in die middel van helfte van die sirkels. Pak al die koekies op die bakplaat en bak 8–10 minute of tot gaar by 180°C. Koel af. Plak ‘n hartsirkel en heel sirkel aanmekaar met aarbeikonfyt. Stuif met versiersuiker.
vir hertzoggies
Berei die deeg en rol dun uit. Druk groot sirkels met ‘n koekiedrukker uit en voer die holtes van ‘n kolwyntjiepan daarmee uit. Skep ‘n klontjie appelkooskonfyt in. Klits 3 eierwitte styf, voeg 250 ml (1 k) strooisuiker geleidelik by terwyl jy klits. Roer die klapper by. Skep lepelsvol van die mengsel oor die konfyt tot goed bedek. Bak 20—25 minute lank by 180°C tot die deeg en die kors gaar en goudbruin is.

GRONDBONEBOTTER-KOEKIES
Die lieflike bros koekies bevat net 5 bestanddele en is sonder gluten. Dis binne minute klaar gemeng.
Maak 18—20 koekies
Bereiding 10 min
Baktyd: 15 min

250 g suikerlose grondboontjiebotter
20 g kakao
1 eier
80 g bruinsuiker of helfte versoeter
5 ml (1 t) koeksoda
Versiersuiker om in te rol
Grondbone vir versiering

Voorverhit die oond tot 180˚C. Smeer 2 bakplate.
1 Meng al die bestanddele buiten die versiersuiker en die grondbonebotter.
2 Skep 15 ml (1 e) deeg uit met ‘n maatlepel en rol in bolletjies. Rol in versiersuiker.
3 Pak op ‘n bakplaat en druk effe plat met ‘n vurk.
4 Bak 15 minute tot gaar (die koekies sal steeds sag wees). Laat afkoel op die bakplaat, pak dan op ‘n afkoelrak en laat heeltemal afkoel. Bêre in ‘n lugdigte houer.

Leave a comment