Weskuslekkerte

Hier teen die Weskus het ons die afgelope tyd ‘n paar liederlike warm dae beleef, maar dan is die weer so genadiglik met ‘n heerlike koel luggie en mistigheid wat so namiddag se kant oorstoot van die see se kant af en ‘n salige lafenis bring. Die tierende suidoostewind wat Desembermaande so die go uit mens kan waai, het ook al ‘n slag of wat tande gewys. Wanneer ek veral besef die vakansie is naby, is as die munisipale werkers die sypaadjies begin skoonmaak, die strate vee en die padtekens ‘n nuwe lagie verf gee, want ja, die dorp se vere word mooi reggeskud om al die besoekers oor die Feestyd te ontvang.

En so met die somer wat uiteindelik aangebreek het, begin ons weer op die stoep kuier. Dan dek ek met my eie stel mooie Provensale-breekware van Mervyn Gers en geniet veral ‘n eenvoudige laatontbyt. Daar sal altyd vars vrugteslaai (baie keer met ‘n geurige speserystropie oor) saam met muesli en jogurt wees.

Ek koop graag deesdae die “Oh my goodness!”-jogurts waarvan jy so 6-bakkies per pak by Checkers kry. Dis ‘n heerlike verskeidenheid geure van vrugte en groente soos perske en appel met pampoen; aarbei en appel met beet asook piesang en appel met patat. Vir my die grootste bonus is dat dit 45% minder suiker bevat en lewendige jogurtkulture in het wat goed is vir jou “gut” gesondheid. Daarmee saam ‘n sprinkel Simple Truth-muesli met gedroogde beet. Lekker gesond! Vervolgens romerige roereier (die geheim is om dit net skrik te maak oor die hitte terwyl jy roer) met balsamieke asyn-sampioene op roosterbrood en vir die wat lus het, is daar tuisgemaakte appelkooskonfyt uit my ma se kombuis. Geuriggetrekte Carmién-rooibostee, gemaak in my mooie Mervyn Gers-teepotjies, rond die eenvoudige ete perfek af. Skemeraand hoef ons eers weer aan eet te dink.

Heelparty vriende was die laaste tyd oor die waters vir vakansie of om by hul kinders te kuier. Met almal weer tuis, het ons nou die dag heerlik gekuier onder die skadu van die manatoka-bome by Abraham en Elsa. Vooraf het ons tog te lekker gesmul aan varsgebakte plaasbrood saam met netjiese vlentertjies skoongemaakte bokkoms, perfek gedroog. En hoe verlang ek toe nie terug na ons Vrydagaandetes op die plaas waar Pa die bokkoms met sy knipmes fyngekerf en vir elkeen sy strepie lekkerte aangebied het nie. By elkeen se plek was ‘n geelbladsy uit die Landbou-Weekblad gedek, want Ma wou nie nog sukkel om die visreuk uit die borde gewas te kry nie.

Abraham maak vir ons paella in ‘n yslike paella-pan oor die vuur gaar. Die vis, wat hy self in die lagoon gevang het, is heerlik daarin. Elsa se appeltert met karamelsousie oor, is die gebruiklike kersie op die koek op ‘n treffer Weskus-ete. Die son trek al goed water toe ons uiteindelik huis toe verkas, maar ons vlees en gees is gevoed. Hieronder is my weergawe van paella.

PAELLA
Genoeg vir sowat 6 mense
Voorbereiding: 15 min
Gaarmaaktyd: 30–45 min

1 ui, gekap
2 knoffelhuisies, fyngedruk
1 geel en rooi soetrissie, in blokkies gesny
1 chorizo-worsie, in stukkies gesny (opsioneel)
olie
500 ml (2 k) rou rys, goed afgespoel
3 ml (ruim ½ t) borrie
5-10 ml (2 t) paprika
Sout en peper of visspeserye
Sowat 1 liter groente-aftreksel
Sowat 4—6 skoongemaakte porsies vis, kleiner gesny
Botter en olie
500 g seekosmengsel, krapstokkies verwyder, ontdooi en goed gedreineer (sien ook wenk)
Sap en skil van 1-2 suurlemoene
250 ml (1 k) bevrore ertjies, ontdooi
250 g bevrore mossels in halwe skulpe
200 g steurgarnale in doppe
Botter en olie
Pietersielie en/of koljanderblare en gekapte stingeluie vir bo-oor sprinkel
Suurlemoenskyfies vir voorsit

1 Braai die ui, knoffel en soetrissie (saam met chorizo, indien gebruik) in verhitte olie in ‘n groot pan tot sag. Voeg die rys by en meng deur. Voeg die speserye by en giet die aftreksel oor. Verhit en kook tot die rys bykans sag en meeste vloeistof verdamp het. Voeg meer vloeistof by indien nodig.
2 Geur die vis met sout en peper of visspeserye en voeg by die rysmengsel.
3 Druk die seekosmengsel goed droog met kombuispapier en voeg by. Geur met sout en peper of visspeserrye en suurlemoensap en verhit tot die vis en seekos net gaar en nie meer glaserig is nie. Voeg die ertjies by die rysmengsel en meng liggies deur.
4 Pak die mossels bo-op, maak toe en laat stoom tot die mossels en ertjies warm is.
5 Braai die steurgarnale in bietjie botter en olie in ‘n ander pannetjie tot hulle net pienk verkleur. Geur met ‘n skoot suurlemoensap.
6 Pak die steurgarnale bo-op die paella en sprinkel die kruie bo-oor.
7 Sit voor met ekstra skyfies suurlemoen.

Wenk: Haal die krapstokkies uit as jy seekosmengsel gebruik. Pleks van seekosmengsel kan jy calamaribuise en –tentakels en skoongemaakte steurgarnale gebruik. Onthou net dit word alles blitsig gaar. As die calamari wit verkleur is dit gaar en as die steurgarnale pienk verkleur, is dit gaar.

Leave a comment