Nostalgie (en boekweggee!)

Ek kuier bietjie dag terug op Philladelphia saam met Herman Lensing om die bekendstelling van sy nuutste boek ‘Nostalgie‘ te vier. Dis ‘n heerlike makietie en blye weersiens van vriende en bekendes uit die koswêreld. Met hierdie agste boek, die laaste in ‘n trilogie, vertel Herman die storie van sy lewe tot op 36 jaar en hoe die eerste proe of geur van kos jou laat terugdink en verlang… en nostalgie bring. Met kos kry Herman dit telkens reg om mense te laat onthou en om hulle te verenig. Of soos Peter Veldsman in die voorwoord dit so mooi stel: “Herman bied lesers die herlewing van ou gebruike nuut uitgedruk.” Dis presies wat ek ervaar het toe ek die boek die eerste keer deurblaai: hartsgeregte uit sy grootwordjare daar op Upington tot sy ervaringe as student en jong kosredateur wat hom na die uithoeke van die wêreld vat om te proe en te onthou. Aan alles gee hy sy eie twist om dit te vernuwe of te ver-Suid-Afrikaans en skroom ook nie om hier en daar ordentlike klaar produkte in te span om die kosmaakproses makliker te maak nie. Hy praat my taal.

Maar dis veral Herman se vertellings en staaltjies oor sy herinneringe by elke resep waaraan ek so lekker lees. My keuse as resep, Afrika-lamsboud, kom heel gepas uit die vleis, rys en aartappel-hoofstuk. Want hier verwoord Herman presies die herinneringe wat ek as plaaskind aan ‘n Sondagtafel gehad het met lamsboud en braaiaartappels (aan ons tafel is daardie bak aartappels ook met groot oë dopgehou en al was hy meestal tot boordens toe gelaai, het daar nooit ‘n krieseltjie oorgebly nie, daarvoor het my broers gesorg). En nes Herman is ek baie lief vir hierdie kontinent waar ons woon. “Ons moet nooit vergeet hoe waardevol haar skatte en juwele is nie. Ja dis moeilik om hier te woon, maar dis lekker.”

Nostalgie bevat meer as 80 resepte: van bykos tot hoofgeregte, van brood tot kos uit jou yskas, van kos van die kole af tot vleisgeregte en van vakansiekoekies tot nageregte. Hierdie boek is uitgegee deur Penguin en kos sowat R360, is beskikbaar by meeste boekwinkels en sommige supermarkte asook aanlyn.

Een gelukkige persoon kan ook ‘n boek wen. Al wat jy hoef te doen is om my sosiale media blaaie (Instagram: CarmenNiehausSa en Facebook: Carmen Niehaus asook Herman Lensing s’n te “like’ en volg op Instagram asook Facebook, en lewer asb kommentaar op die relevante plasing. Die kompetisie loop tussen die 22ste November, tot Woensdag, die 29ste November. Diegene wat nie albei profiele se blaaie gevolg, ‘like’, en kommentaar gelewer het nie, sal dus nie kwalifiseer vir die wenprys nie.

Leave a comment