Seeheim

Ons Namibiese blitsbesoek staan einde se kant toe, van nou af is dit grootpadry via Keetmanshoop op pad na Lüderitz. Oral langs die pad is daar netjiese stilhouplekkies en ons stop vir ‘n vinnige koffietjie en ‘n bröchen. Ek smeer die korserige broodjies dik met mosterdbotter en stapel ham, agurkies en blaarslaai op. Ons smul heerlik aan hierdie tipiese Namibiese lekkerte wat ons terugvat na vele vorige kuiers. My Plaavars-eierkoelsak gedra hom goed as padkossak en na vele ontberings lyk hy steeds spic ‘n span en kan ‘n hele dag se kos gemaklik vat. (Gaan loer op Swier-webtuiste hiervoor).

Ons slaap vanaand in die Seeheim Hotel, ‘n welkome oase tussen die klipkoppies in die middel van die woesyn. Dis ‘n gewilde oorslaappplek vir toeriste op pad na die Visrivier Canyon, Kolmanskop en Lüderitz.

Seeheim het ‘n ryk geskiedenis, is in 1896 gebou met klippe uit die omgewing, hoofsaaklik om die Duitse koloniale magte, die Schutztruppe, te huisves. Oral in die omliggende koppies is herinneringe aan hierdie tydperk steeds te vind. In die middel neëntienhonderds het die dorpie floreer met ‘n spoorwegstasie, verskeie kerke, winkels, 3 hotelle en heelwat inwoners. Teen die einde van die vyftigerjare het die dorp egter leeggeloop. Nadat die hotel 30 jaar toe was, het Zirkie Kloppers die plek gekoop, geboue geresoureer en meubileer met meubels wat hy eiehandig gemaak het.

Ons word hartlik ontvang deur die vriendelike personeel en ook aangenaam verras deur ons Langebaan-buurman wat tydens hul lang Afrika-avontuur ook daarlangs toer. Na ‘n welverdiende bier, is hulle weer fort. Ons slaap vanaand in ‘n bovertrek met ‘n steil stel trappies wat daarna lei en pragtige uitsig oor die koppies.

Vir aandete word ons in tipiese Namibiese styl bederf met ‘n wildschnitzel en geniet ‘n Tafel-bier daarby. Vir poeding is daar heerlike appelkrummel.

Dis vroeg vort die volgende oggend, vir oulaas word daar gestop by die mooi padstal, Gerber en Co op Bitterfontein om ietsie te koop vir ons huismense. Daar is ook ‘n wye verskeidenheid Carmién-tees. Sien my weergawe vir ‘n appelkrummel, gemaak met vars appels en hawermout en wat nie so soet is nie. EK bak hom sommer in die lugbraaier.

APPELKRUMMEL
Die hawermout, neute en klapper maak ‘n heerlike kors en krummel vir hierdie appeltert wat met vars appels berei word.

Maak 1 tert
Bereiding: 20 min
Baktyd: 30—40 min

KORS EN KRUMMEL
125 ml (1/2 k) bruinsuiker
500 ml (2 k) hawermout
125 ml (1/2 k) fyn klapper
50 g gemengde neute, grof gekap of andersins 125 ml (½k) ekstra hawermout
Knippie bakpoeier
Sowat 160 ml (⅓ k) botter
VULSEL
3 klein appels, ontkern, maar ongeskil in dun skywe gesny
1 cm gemmerwortel, gerasper (opsioneel)
Gerasperde skil van 1 suurlemoen
15 ml (1 e) heuning of bruinsuiker
Sap van 1—2 lemoene
Goeie strooisel fyn kaneel

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n ronde 20-m losboom-koekpan of tertpannetjie.
1 KORS EN KRUMMEL Meng al die droë bestanddele in die voedselverwerker tot die hawermout bykans fyn is, voeg die botter by en pols tot goed ingemeng.
2 Druk sowat twee derdes vas in die pannetjie. Bak 5—10 minute.
3 VULSEL Meng al die bestanddele in ‘n kastrolletjie en kook tot bykans sag. Skep in die gebakte kors.
4 Krummel die res van die hawermoutmengsel oor en bak sowat 30 minute of tot die krummel lekker bros is.

In die lugbraaier
1 Stel die lugbraaier op bak en verhit tot 180°C.
2 Bak die kors vir 5 minute en skep die vulsel in, strooi res van die krummel oor.
3 Stel die temperatuur op 160°C en bak 20 minute of tot die krummel goudbruin is bo-op (bedek met tinfoelie as dit te donker wil bak).

Leave a comment