Ons stoot die bakkie se neus noordwaarts, al teen die Auob-rivier langs, ons bestemming Swartriet. Die meestal droërivierloop skyn mooi groen, maar dis ongelukkig oorgroei van indringerplante. Imposante versamelneste bondel oral in bome langs die goeie grondpad.
Stampriet is ‘n klein oase tussen die dorre duine en is geleë op die Stampriet-waterdraer. Oral word veral groente onder besproeiing verbou. Ons kamp vanaand by die Gondwana Farm Lodge, op groen gras. Op soek na ‘n plek vir iets ligs te ete word ons na !Kharuhase (roots of serenity), ‘n nuwe restaurant op die koppie, verwys. Wat ‘n grootse verrassing:
Die industriële klip-en-staalgeboue is binne stylvol ingeklee in ‘n Franse vintage, tog moderne styl met kandelare en Persiese matte op die sementvloere, die eindresultaat van die fyn oog van die formidabele besigheidsvrou, Alta Thorburn, wat ook stigter en eienares van !Kharuhase is. Ek’s bevoorreg om haar te ontmoet waar sy besig is om ‘n teetafel mooi te maak vir ‘n teeparty. Terstond gaan haal ek al my orige Carmién-teepakkies – dit sal tog altevol mooi en goed inpas by hul keurige teeparty.
Die spyskaart versinnebeeld ‘n Namibiese gourmet-ervaring, berei met plaaslike bestanddele. En as ek so na die opmerkings op hul facebookblad loer, lyk dit asof besoekers hier heerlik smul aan keurige uithalerkos. My pizza spreek ook daarvan. ‘n Verdere uniekheid is hul handgemaakte Petrichor-jenewer, gestook met druiwe uit hul eie wingerd; die Sout&Peper-funskielokaal bly volgeboek; die stylvolle oornag-cottages is pragmooi en daar’s selfs ook ‘n paar kampeerplekke wat uitkyk oor die vlakte. ‘n Ware alles-in-een juweel. Ek kom beslis weer om meer te ervaar.
Na die opwinding van die middag is ons nie juis lus vir kosmaak nie. Bo ons pak die donderwolke belowend saam, so ek raap en skraap vir ‘n ietsie te peusel uit wat orig is in die koskiste.
Ek het ook ‘n paar tot-botteltjies Carmién-gin in my handsak gegooi net voor ons gery het en skink vir oulaas ‘n lekker jenewertjie, onder die Namibiese uitspansel. Dié word opgetop met die laaste van ons Carmién-sprankel-ystees.
PIZZA
My weergawe vanuit my boek, Lekker&Goed hoe mens restaurantpizza in jou eie huis kan berei.
DEEG
5 x 250 ml (5 k) klipgemaalde witbroodmeel
15 ml (1 e) olyfolie
10 ml (2 t) sout
1 pakkie (10 g) kitsgis
500 ml (2 k) louwarm water
BOLAE
Olyfolie
Mieliemeel om oor te strooi
Tamatiesous (sien resep onder)
Kombinasie van gerasperde mozzarellakaas en wit Cheddarkaas
Bolae van jou keuse (sien lys)
Voorverhit die oond tot 230°C. Plaas ‘n omgekeerde bakplaat (dit help dat dit makliker afgly) in die oond om goed warm te word voordat jy die pizzabasisse oppak.
1 DEEG Plaas al die bestanddele vir die deeg, buiten die louwarm water in die mengbak van ‘n voedselverwerker. Giet die water deur die tuit by en meng tot goed gemeng, so 7–10 minute en die deeg in ‘n bol rondom die lem vassit. Die deeg is effe klewerig. Vewyder uit die bak, vorm in ‘n bol, verf met olyfolie, bedek en laat rys tot dubbel die grootte.
2 Verdeel die deeg in 4 (8 vir kleiner pizzas) bolletjies en rol so dun as moontlik op ‘n meelbestrooide oppervlak uit.
3 Bestrooi die warm bakplaat met mieliemeel en plaas die basis(se) bo-op (dis nie nodig om hul weer te laat rys nie). Plaas die bakplaat so na as moontlik aan die onderste element en bak 5—7 minute tot gaar maar nie bruin nie.
4 Haal uit die oond, en smeer ‘n dun lagie tamatiesous oor. Strooi kaas oor en pak bolae van jou keuse op. (sien variasies).
5 Skakel die boonste roostelement van die oond aan en rooster tot die kaas net gesmelt het.
TAMATIESOUS
750 g pruimtamaties (Roma), ontvel en in klein stukkies gesny
80—125 ml (¼–½k) songedroogde tamaties in vinaigrette, gekap
6 knoffelhuisies, fyngedruk of gerasper
Plaas al die bestanddele in ‘n glasbak en mikrogolf 10 minute by 100-persent-krag tot die sous nie meer waterig is nie. Roer elke 3 minute (jy kan ook die sous in ‘n kastrol op die stoof maak). Laat goed afkoel.
BOLAE
Smeer tamatiesous oor elke basis, strooi gerasperde mozzarella- en wit Cheddarkaas oor en pak enige van die onderstaande op.
1 Fetakaas, tuna of hoenderskaafsels, geroosterde soetrissies, swart olywe en baba-spinasieblare: Bak en stapel skywe avokado op, geur goed met sout en peper. Rond af met roket.
2 Basiliepesto, kersietamaties, swart olywe, sampioene en bocconcini of feta-kaas: Bak tot gaar en stapel basilieblare bo-op.
3 Pikante pepers, rooi uie en oondgebraaide botterskorsie: Bak tot kaas gesmelt is. Rond af met roket.
4 Tuna, murgpampoentjieskaafsels, olywe, rooi uie en kappertjiesaad: Bak tot die kaas gesmelt is en rond af met roket of basilieblare.
5 Kersie-tamaties, broccoli, pynappel, groen olywe en gepluisde gaar hoender gemeng met bietjie geroomde maaskaas met grasuie: Bak tot die kaas gesmelt is. Rond af met roket.
