Namibië 1

Ek looove Namibië en kon nie die geleentheid laat glip vir ‘n vinnige draaigooi nie. Ons slaap weer by die Molopo Lodge naby Askam, die keer in ‘n safari-tent waar ons ‘n heerlike warm stort onder die sterrehemel geniet. Ons maak ook alle orige vleis gaar, dit mag nie rou oor die grens nie. Ek voel die bekende opgewondenheid in my opbruis.

Ons staan vir 2 nagte oor by die Kalahari Game Lodge en trek ons voertuig langs die oulike afdakkie onder die groot bome in die droë Auob-rivierloop. Elke kampplek is toegerus met sy eie stortgeriewe en opwasplek. Neffens die afdakkie staan ‘n donkie waar ons self ons warm water moet stook. Ons pak ons tafel en kampstoele onder die afdak uit en skop behaaglik ons skoene uit. Dié kant van die grens waai daar ‘n afkoelluggie wat die hitte draagliker maak.

Ek het ‘n goeie klompie Cold Brew-tees ingepak waarmee ek vinnig ‘n sprankel-ystee maak: sit ‘n sakkie Cold Brew, ek hou van die Cranberry Hibiscus, in ‘n reiskoppie en skink sodawater oor. ‘n Heerlike lafenis. ‘n Vars toebroodjie met blokkiesbrood (dié Squares is ideaal om in te pak op ‘n safari), tuna-mayonnaise met opgekapte agurkies en ‘n suinige handtjievol gekapte rooi uie of ‘n skyfie ham en klompe fyngesnyde blaarslaai, is net die regte kos in die middaghitte.

Die rivierloop is die blyplek van heelwat diere. Rondom ons kampplek wei daar springbokke, laer af in die rivier troppe gemsbokke. Dieper die rooi duine in is die kamp met roofdiere. Hier hoef ons saans nie so op “alert” te leef nie. In die bome wemel dit van voëls en soggens sing hulle ons wakker terwyl die son oranjepienk vanagter die rooi duine kopuitsteek.

Dis ons tweede besoek aan die Kalahari Game Lodge en ons geniet dit om koelte te soek in die lounge met sy keurige, natuurlike dekor. Dan teug ons graag aan hul pittige aanbod shandies: my keuse ‘n Kalahari -shandy.

Teen namiddag hunker ons na ietsie soets en ek onthou van die stokkiestee en kondensmelk wat ek spesiaal ingepak het om oudag se kondensmelktee te brou. By

Mokala Farmers Supplies in Tsobong, Botswana het ek die oulikste teestelletjie raakgeloop, net reg hiervoor. Ek ontdek ook die laaste sjokolade-bolletjies in die padkossak. Dis heerlik saam met die kondensmelktee.

Met die vleis klaar gaar, is kosmaak maklik. Die vuurtjie brand, maar dis vanaand ‘n atmosvuur; die gasbrander kom handig te pas om vinnig die maalvleisvulsel vir tacos aanmekaar te slaan.

TACOS MET MAALVLEISVULSEL
Indien mens oor landsgrense heen reis, moet alle vleis vooraf gaar wees – so maak die maalvleis vooraf gaar, slegs gegeur met bietjie sout en verpak dit in porsies. Dan kan dit vir ‘n verskeidenheid etes ingespan word. Ek is ook altyd gewapen met ‘n verskeidenheid pestos. Dit verander enige basiese gereg telkens in gans iets anders en interressant.
Genoeg vir 4—6 mense
Bereiding: 15 min
Gaarmaak: 20—30 min

500 g maalvleis
4—6 repe spekvleis, gekap
1 ui, gekap
Olie
1 blik (400 g) tamatie-en-uiesmoor
1—2 sakkies (50 g elk) tamatiepasta
1 sakkie (125 g) koljanderpesto
Taco-speserye na smaak
Sout en peper
1 blik (400 g) 4-bonemengsel, gedreineer
VOORSIT
1 rooi ui, fyn gekap
1 blik pitmielies, gedreineer
Halwe blaarslaai, in dun repies gesny
Gerasperde Cheddarkaas indien verkies
1 avokado, in blokkies gesny indien verkies
Sowat 12 taco-doppe

1 Braai die maalvleis en spek in ‘n swartpot tot gaar, voeg die ui en biejie olie by en braai tot die ui sag is.
2 Voeg die blik tamatiesmoor, tamatiepasta en pesto by en meng goed deur. Geur met taco-speserye en sout en peper na smaak.
3 Laat prut tot geurig, voeg die bonemengsel by en laat prut tot lekker warm.
4 VOORSIT Skep die uie, pitmielies, blaarslaai, kaas en avokado in aparte bakkies.
5 Pak die taco-doppe uit op ‘n plat dienbord – ek het sommer ‘n skinkbord gebruik. (moenie die taco’s vooraf vul nie, dit word gou pap).
6 Laat elkeen vir hom van die maalvleisvulsel in die taco-doppe skep en dit dan afrond met ‘n strooisel uie, pitmielies, blaarslaai, kaas en/of avokado.

SJOKOLADE-BOLLETJIES
Die bolletjies bevat heelwat minder suiker as die bekende oorpronklike resep. Vir ‘n gesonder weergawe vervang ek die suiker selfs deesdae met dadels wat ek fynkook saam met die melk. Die dadels het ‘n hoë veselinhoud en lae GI en bevat ook prebiotika wat help met goeie “gut” gesondheid.
Maak sowat 40 bolletjies
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: omenbui 10 min

250 ml (1 k) suiker of vars dadels, ontpit
Knippie koeksoda (as dadels gebruik word)
160 ml (⅔ k) melk, met 4 Carmién Red Mocha of Camomile-teesakkies
80 ml (⅓ k) kakao
80 ml (⅓ k) botter of growwe grondbonebotter sonder sout of suiker
750 ml (3 k) hawermout of 250 ml (1 k) daarvan vervang met grofgekapte neute en sade of grondbone
Fyngekapte pampoenpitte of grondbone om in te rol

1 Plaas die suiker, kakao, melk en botter in ‘n kastrol en roer terwyl verhit word tot die suiker opgelos is. Laat kook dan 5 minute lank.
2 Roer die hawermout en/of neute vinnig by en skep in klein hopies op ‘n gesmeerde skinkbord.
3 Rol in bolletjies en daarna in die gekapte pitte of bone.

As jy dadels gebruik: Plaas die dadels in ‘n kastrol en sprinkel die koeksoda oor.
1 Voeg die melk by en laat kook terwyl geroer word tot die dadels begin opbreek en amper ‘n pasta begin vorm. Maak heeltemal fyn met ‘n stokmenger.
2 Voeg die kakao en botter by en verhit net weer tot die botter gesmelt is.
3 Voeg die hawermout en neute by en meng deur.
4 Skep hopies op ‘n gesmeerde bakplaat, laat effe afkoel en rol dan in bolletjies. Rol daarna in gekapte pampoenpitte of bone.

Leave a comment