Springbokke Bo

Dit juig en jubel in my huis, want ons maak dit toe sowaar – vir die vierde keer! Ongelooflik, welgedaan en welverdiend. Met sekerlik die moeilikste pad wat ‘n span nog in ‘n Wêreldbeker moes aandurf en teen al wat topspan is moes speel, het ons dit deurgetrek, een punt op ‘n keer, drie keer in ‘n ry. Dit spreek mannemoed, senuwees van staal en uithouvermoë. ‘n Span wat hul alles gegee het met hoevele plettervatte, manne wat krampe en al aanhou speel het, seer-seer lywe. En soos wat dit telkens in elke onderhoud daarna uitgekom het – ons het dit gedoen vir jou Suid-Afrika.

Soos die weke verloop het ek net al hoe meer bewus geword van die fanatiese ondersteuning wat die span geniet. Oral ‘n see van groen, tot in supermarkte (Checkers spesifiek) het die volkslied ‘n paar maal luid weergalm Saterdagoggend. Selfs in ons huis, is daar nie teruggehou nie en reggemaak vir ‘n trots Suid-Afrika-ete.

Vroegdag is die Springbok- en landsvlae al gedrapeer en ons dek die tafel in groen en goud met proteas en vetplante uit die tuin as versiering. Ongelukkig was alle groen-en-goud ballonne al uitverkoop, so ons moes tevrede wees met ‘n uitspattige geel (tot groot ontsteltenis van my man wat dog ons ondersteun nou die Wallabies).

Teen skemer steek ons die vuur aan, want ons wil klaar geëet wees voor die wedstryd begin. Vriend Abraham bring springbokfilette wat hy spesiaal ingelê het in ‘n onverbeterlike marinade; vir vooraf peusel is daar Boerewors en roosterkoek saam met tuisgemaakte appelkooskonfyt (die laaste wat my ma my nog present gegee het toe ek laas week op die plaas was) en ek maak paptert soortgelyk aan die een wat skoonsus Hannalise vir ons in Botswana voorgesit het. Daarby ‘n slaaitjie of twee.

Die soetigheid is tot na die wedstryd gehou – melktert, spesiaal met ‘n springbokkie op (die het ek by Checkers gekoop) en bokgroen-kolwyntjies wat ons by Langebaan-bakkery aangeskaf het.

Na die laaste 5 minute wat soos ‘n ewigheid gevoel het, is daar chaotiese vreugde toe die eindfluitjie uiteindelik blaas en ons ons sjampanje-glase met Wilhelmina MCC kon lig op nog ‘n Wêreldbekerkroon, ‘n topspan en trotse nasie. Kry die paptert en melktertresep op my blog:

PAPTERT
In die veld gebruik Hannalise koeskoes om die tert mee te maak. Die tuisgemaakte tamatiesmoor maak sy vooraf by die huis. Die geheim is om die smoor lekker lank en stadig te laat prut. Lamstjoppies is ook heerlik saam met hierdie tert. Vir my weergawe het ek egter by mieliepap gehou.

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 30 min

TAMATIESMOOR
4—6 uie, fyn gekap
Olie
500 g vars tamaties, in stukke gesny
30—45 ml (2—3 e) blatjang of ‘n handvol bruinsuiker
Spatsel balsamieke asyn
Sout en peper na smaak

TERT
500 g growwe mieliepap
Hoenderaftreksel en/of melk
50 g fyn Parmesaankaas
100 g Mozzarella-kaas, gerasper

1 Braai die ui in ‘n bietjie olie tot lekker sag. Voeg die tamaties by en laat prut stadig vir sowat 20 min tot ‘n geurige smoor, voeg van tyd tot tyd genoegsaam water by om ‘n geurige smoor te maak. Roer blatjang en of bruinsuiker na smaak by en geur met asyn, sout en peper na smaak.
2 Kook die mieliepap in hoederaftreksel en melk tot gaar en sag. Roer die Parmesaankaas deur die mieliepap.
3 Smeer ‘n langwerpige emaljeskottel en skep ‘n laag mieliepap onder in die skottel. Smeer ‘n laag tamatiesous oor en sprinkel ‘n laag kaas oor. Herhaal die lae, eindig met die kaas. Plaas die deksel op.
4 Plaas die skottel hoog oor matigwarm kole met ook ‘n paar kole op die deksel. Verhit tot die kaas gesmelt en die gereg deurwarm is.

Melktert
Vir my weergawe gebruik ek filodeeg as kors.
Maak 1 medium melktert
Bereiding: 25 min
Baktyd: 25 min

KORS
5 velle filodeeg
gesmelte botter of kossproei
VULSEL
625 ml (21/2 k) melk
2 kaneelstokkies
1,25 ml (1/4 t) amandelgeursel
4 eiers
100—125 ml bruinsuiker
30 ml (2 e) koekmeel
30 ml (2 e) mielieblom
15 ml (1 e) vlapoeier
Knippie sout
20 ml (4 t) botter (opsioneel)

AFRONDING
Kaneel

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n losboom-tert- of koekpan goed met kossproei.
1 Smeer elk van die filodeegvelle met botter en rangskik hulle bo-op mekaar in die tert- of koekpan. Frummel die oorhang-kante terug en druk vas langs die rand van die pan om ‘n tipe tertrand te vorm. Verf weer liffies met botter. Bak sowat 15 minute of tot die deeg net gaar is, maar nog nie bruin is nie.
2 VULSEL Plaas die melk met kaneelstokkies of andersins die sitrus chai rooibostee in ‘n glasbak en mikrogolf tot lekker warm, maar dit moenie kook nie. Voeg die amandelgeursel by en laat effe afkoel. Verwyder die kaneelstokkie en goed uitgedrukte teesakkies indien gebruik.
3 Klits die eiers, suiker, koekmeel, mielieblom, vlapoeier en knippie sout saam in ‘n groot mengbak tot goed gemeng en glad.
4 Voeg ‘n klein bietjie van die verhitte melk hierby en meng goed. Giet dan die eiermengsel by die melkmengsel, roer goed en giet in ‘n kastrol. Voeg die botter by indien gebruik. Verhit, terwyl geroer word tot die mengsel kook en verdik.
5 Giet in die tertkors en bak sowat 25 minute of tot die vlavulsel gaar en stewig is. (bedek die tertkorswand met tinfoelie as dit neig om te donker te word).
6 Rond af met gestuifde kaneel.

Leave a comment