Ons trotseer die hitte

Die voertuie gedra hul heel goed deur die digte Kalaharisand en teen middag se kant stop ons by die ‘Entrance Gate’ van Mabuasehube. Ons kamp op sekerlik die gewildste staanplekke in die park naamlik Mpaya 1 en Mpaya 2 – hier is geen kampplek omhein nie. Dis op die pan en daars heelwat wild te sien, veral naby die watergat. Kennisse uit die Boland vertel juis opgewonde van die leeumannetjie wat digby die watergat naby Mpaya 1 doenig is en elke nag van hom laat hoor.

Na bietjie kajuitraad hou, besluit ons om die bakkies so half in ‘n laer rondom die A-raam (wat as kombuis en kuierplek dien) staan te maak. Ons is vooraf gewaarsku om genoeg water saam te bring, want hier is water ‘n skaars en kosbare entiteit en soms is daar soos in glad nie water nie – en nou ja, die kraan is kurkdroog…. en so ook ons kele en dis behoorlik warm, sekerlik diep in die dertig grade indien nie hoër nie. Gelukkig het ons heelwat drinkgoed en die Carmién-ystees kom vinnig weer tot ons redding – verfrissend en ‘n heerlike lafenis. Saam met ‘n natgemaakte doekie om die kop is dit ‘n goeie teenvoeter teen die skroeiende son.

Soggens met opstaantyd het ons net gekoffie en beskuit en dan laatoggend iets ligs geniet, want as dit so warm is, is niemand eintlik honger nie. Meestal het ons soggens ‘n entjie deur die park gaan ry en dan gebrunch by ‘n ander onbesette staanplek. Hier het die gasskottelbraai handig te pas gekom vir ‘n reuse-omelet, gevul met gebraaide ui, kaas en fyngekapte agurkies, (jy kan selfs die vorige aand se oorskiet braaivleis fynsny en insit). Romerige fyngedrukte avokado en/of tamatiedadelblatjang (sien resep hier) is heerlik daarby.

‘n Groot bonus is dat jou kombuis en apparate mos heeltyd saam met jou reis, so dis glad nie ‘n probleem om enige plek langs die pad iets te ete aanmekaar te slaan nie. Ek vind dat ‘n vistrommel ideaal is om jou messegoed in te hou saam met ‘n kapplankie en ‘n klein bakkie of ses.

Na nog ‘n paar draaie, verkas ons terug na ons staanplek sodat ons ‘n vinnige ‘sundowner’tjie by die watergat kan gaan geniet. Die yskoue Wilhelmina MCC van Piekenierskloof se vars aarbei- en bessiegeure is verkwikkend en ekstra spesiaal om te geniet hier in die natuur terwyl mens toekyk hoe die diere behoedsaam aangestap kom om hul dors vir oulaas te les voor die donkerte toesak. En ja, ons het akriliese “kristalglase” spesiaal hiervoor ingepak. Ons knibbel tussendeur aan ‘n heerlike verskeidenheid peuselkos wat Lise-Mari saamgebring het (die MCC is ook voortreflik saam met ‘n uitpakbord van saadbeskuitjies met ‘n paar kase, pesto, langsteelkappertjies, olywe en selfs konfyt of enigiets anders wat jy vanuit die koslaaie in jou voertuig kan opdiep).

Voordat die son behoortlik begin water trek, word daar al in die kamp gestort (die water in die waterkanne is so warm gebak in die son, dis nie eers nodig om water oor die vuur warm te maak nie). Na donker beweeg mens nie te veel rond nie en bly naby die voertuie of A-raam.

Skemeraand pak ons die gebruiklike vuurtjie, vanaand braai Calla steak en ons geniet dit saam met ‘n sampioensous en ‘n slaaitjie of twee. Die effens verkoelde Piekenierskloof Grenache Noir se liggehoute bessiegeure met sagte tanniene pas perfek by die rooivleis op so ‘n warm Kalahari-aand.

Dis goed donker toe ons “kombuis” begin opruim en alles wegpak sodat die hiënas en jakkalse dit nie kan bykom nie. Ons hou deurentyd ‘n fyn oog op die buitewyke van ons staanplek, ons weet immers van die maanhaar wat hier in die omtes ronddwaal. Met die blote oog lyk alles oraait toe ons na ons slaapplek verkas, maar toe ek met die spotlig net buite die ligkring lig, sien ek die vinnige beweging nie ver van ons voertuig af nie – dis beslis nie ‘n jakkals nie! Almal is soos blits in hul slaapplekke – ek en Lodewyk klim sommer saam-saam die trappie op na die daktent.

Dis doodstil en donker en vanuit die daktent bespied ons die omgewing, maar geen sien weer van die roofdier nie. Die mooi van die opkomende oranjerooi maan (wat ons aanvanklik laat dink dis ‘n veldbrand) verlig laataand die hemelruim. Ons hoor die maanhaar ook redelik naby brul en die volgende oggend tref ons hom dou voor dag by die watergat aan. Die voetspore by ons staanplek dui egter aan dat ‘n luiperd die kampbesoeker was.

STEAK MET ROMERIGE SAMPIOEN-EN-GROENPEPERSOUS
‘n Alles-in-een-sous smaak lekker saam met die steak.

SAMPIOEN-EN-GROENPEPERSOUS
‘n Pakkie klaarbereide kaassous werk goed in die bos om die nodige romerigheid te verskaf pleks van egte room (of jogurt wat ek meestal gebruik).

Maak sowat 500 ml sous
Bereiding: 10 min
Gaarmaak: 15 min

1 ui, gekap
Olie
250 g bruin sampioene, in skyfies gesny
Spatsel balsamieke asyn
1 pakkie (400 ml) goeie kwaliteit klaarbereide kaassous (ek het Ina s’n gebruik)
Sowat 15-30 ml (1-2 e) groenpeperkorrels

1 Braai die ui in ‘n bietjie verhitte olie in ‘n swartpot tot net sag, voeg die sampioene by en braai tot effe bruin en geurig, sprinkel ‘n spatsel balsamieke asyn oor.
2 Roer die kaassous en groenpeperkorrels by en verhit tot warm.
3 Sit voor saam met die steak.

STEAK
Bereiding: 5 min
Gaarmaak: sowat 5—10 min (afhangende van die verkose gaarheid)

SMEERSEL VIR STEAK
7,5 ml (1½ t) fyn knoffelpoeier
7,5 ml (1½ t) braaivleisspeserye
5 ml (1 t) bruinsuiker
30—45 ml (2—3 e) olyfolie
STEAK
1 steak per persoon soos T-been of kruisskyf
Sout en peper na smaak

1 SMEERSEL Meng al die bestanddele saam.
2 Geur die steaks sowat 10 minute voor die tyd liggies met sout – dit verseker ‘n lekker “bros” lagie buiteom. Verf alkant van die steaks goed met die smeerel.
2 Braai die steaks oor gloeiende warm kole tot gaar volgens elkeen se smaak. (ek begin gewoonlik deur die steaks op hul vetkante staan te maak sodat die vet lekker bros kan braai)
3 Sit die steak voor saam met die sous of andersins ‘n gekookte aartappel en ‘n lekker vars slaai. Ons het sommer fyngesnyde kool met appel en agurkie saam met ‘n strooisel neute en mosterd-slaaisous gemaak.

Leave a comment