Ons versit na Mpaya 2, nie ver van ons vorige staanplek nie. Ek het die kamproetines nou al goed onder die knie en weet ook presies waar wat gepak is in die laaisisteem agter in die bakkie. Alhoewel ons meer as genoeg water saamgery het, besluit ons tog om vir die wis en die onwis water te gaan haal by die hek. Telkens word belowe dat die water wel op pad is, hulle moet net die lekplek in die pyp opspoor. Wat ‘n verligting toe daar laatoggend ‘n dun straaltjie lewensgewende water uit die bek van die kraan begin drup. Die diere is ook goed dors – die bye en voëltjies, tarentale, patryse en selfs ‘n meerkat of twee drommel om die kraan.
Met ons gebruiklike draaitjie deur die park word mens deeglik bewus dat die groot katte baas is in hierdie wêreld. Digby ‘n staanplek (waar mense wel kamp opgeslaan het) skuil ‘n maanhaar en sowat 4 leeuwyfies teen die versengende hitte onder ‘n bos (ek wonder of die kampbewoners bewus is van hul gaste).
Teen vroegmiddag is ons terug by ons plek en voordat ons sommerso half traakmynieagtig uitklim, bespied ons ook gou eers die nabye bosse vir moontlike besoekers.
Dis my beurt vir kosmaak vanaand en ons wil hierdie baie spesiale reis afsluit met ‘n behoorlik gedekte aansit-ete. Ons maak die opslaantafel in die middel van die A-raam staan en ek gooi my Apple Crumble-tafeldoek oor – hy werk lekker so in die bos, want die lap kreukel nie en absorbeer nie vuiligheid nie, jy vee alles sommer net so met ‘n klam doekie skoon. Ons dek met emaljeborde en lapservette wat by die tafeldoek pas asook ‘n paar sandkleur-papierservette wat ons sorgeloos in die akriel “kristalglase” druk. ‘n Groen doringtakkie in die middel af, rond die tafel mooi af (gaan kyk op die Swier-webtuiste onder Carmen vir so ‘n tafeldoek en servette en nog vele meer – daar is nuwe ontwerpe!)
Dis nog versengend warm en ek sien nie kans om die hoender-en-pruimedantepot oor die vuur gaar te maak nie. Gelukkig het ons twee gasbottels met plate ingepak en ek maak hulle onder die A-raam staan waar ek rustig in die koeligheid kan werk terwyl die res van die geselskap ‘n uiltjie probeer knip. Die vleis het ek vroegdag al ingelê in wyn saam met baie knoffel en uie. Nadat die vleis goed bruin gebraai is, kom daar net lekker baie pruimedante en koljanderpesto by, laastens ‘n goeie handvol groen olywe. Eenvoudig maar heeeerlik!
Ek maak gou eers die slaai, want die kan maar staan en sal niks oorkom in die hitte nie – beetslaai, die vakuumverpakte beetjies wat mens deesdae oral kry werk soos ‘n bom. Daarby pitmielies, agurkies en fyngekapte rooi uie waaroor ek ‘n mosterd-slaaisousie giet – ‘n bosbessiegegeurde asyn gemeng met goeie olyfolie en Dijonmosted is heerlik geurig hiervoor. Die ander bykos is koeskoes wat ek in Carmién se Energise-rooibostee (die hou ek ook deurentyd in my waterbottel om so tussendeur aan te teug) laat week en waarby ek teen die einde kekererjties en ‘n lekker skoot olyfolie asook skoot bosbessie-asyn inroer (die woudbessies in die tee werk goed saam met die bosbessie-asyn).
Piekenierskloof se vlagskip-Grenachewyne kon nog altyd hul man staan teen redelik gekruide kos, so vanaand drink ons ‘n verskeidenheid – van die Grenache Rosé, ‘n Grenache Blanc sal ook goed werk saam met die olywe in die pot en die rooiwyn met sy sagte tanniene, die Grenache Noir, is net reg om saam met hierdie hoenderpot te geniet.
Teen die sakkende son sit ons aan en geniet vir oulaas die samesyn van familie; ons kry spesiale besoek van ‘n paar silwervosse en jakkalse terwyl ons ore en oë immer gespits bly vir nog onverwagse gaste. Oral in die buitewyke om die ligkring blink groen en geel en selfs rooi ogies. Die diere is hier. Laatnag ontvang ons ‘n grootste bonus: ‘n dorstige luiperd en ‘n drietal hienas kom in die kamp water drink. So stil soos hulle gearriveer het, so stil verdwyn hulle weer die diep donkerte in terwyl ons hulle vanuit ons daktent dophou. Ons dag (nag) is gemaak.
HOENDER-EN-PRUIMEDANTE-POT
Genoeg vir 6 mense
Marineertyd: 1 uur
Gaarmaak: 1 uur of selfs minder
MARINADE
2 bolle vars knoffel
60 ml (¼ k) balsamieke asyn
60 ml (¼ k) olyfolie
1 sakkie (125 g) koljanderpesto
HOENDER
8—12 hoenderporsies, dytjies en boudjies (vel verwyder indien verkies)
Sout en peper
Olie
250 ml (1 k) wit wyn
30 pitlose pruimedante
125 ml (½ k) kappertjiesade
30 pitlose groen olywe
1 Rasper die knoffelbolle fyn in ‘n plastiekbak met stewige deksel.
2 Voeg die asyn, olyfolie en koljanderpesto by.
3 Voeg die hoenderporsies by en meng dit goed deur die vleis. Maak toe en marineer sowat ‘n uur lank.
4 Geur die vleis met sout en peper.
5 Verhit bietjie in ‘n pan en braai die hoenderporsies, ‘n paar op ‘n slag, in die olie tot goudbruin buite-om.
6 Voeg die marinade asook die wyn by en prut tot die hoender sag en gaar is.
7 Voeg die pruimedante halfpad deur die kookproses by sodat dit lekker kan uitplomp.
8 Voeg die kappertjiesade en olywe by en verhit tot warm.
9 Sit voor saam met die koeskoes en slaai.
