Op safari 2

Dis vroeg op vir ons en na koffie en beskuit is ons fort, net sowat 5 km vanaf die Molopo Lodge steek ons die grens oor by Boksputs waar ons vriendelik en behulpsaam ontvang word aan beide kante van die grens. Vroegoggend bak die son reeds, ‘n voorsmakie van wat later op ons wag. Al is dit ‘n langnaweek in Botswana is Thabong, die administratiewe “hoofstad” van die Kgalagadi-distrik, steeds lekker bedrywig. Ons ry direk na Mokala Farmers Supplies waar die behulpsame Johan van Zyl reeds ons vleis- en vars groentebestelling vir ons reg het. Ons laai ook hout, klompe daarvan, op die Cruiser se dakrak, want in die “wild” maak mens voortdurend vuur. Ons ruil ook sommer geld. Vinnig-vinnig is ons geholpe en gereed vir die avontuur. Vanaand slaap ons net buite Thabong in die Camel Game Lodge waar klompe kamele (oorblyfsels van die destydse Botswana polisie-patrollies wat die gebied met kamele gepatroleer het) ook in die kampplek kom besoek aflê.
Elke drywer kies vir hom ‘n boom om onder te staan en met die middagson wat nou hittig neerskyn, maak ons ook die afdakkies oop. ‘n Warm briesie help tog dat mens effe afkoel. Ek het vroegdag ook alreeds gesorg dat daar ‘n paar blikkies van Carmién se rooibos-ystees in die yskas is. Die fyn sprankel en vars geure is ‘n heerlike verfrissende lafenis teen die warmte. En omdat hulle baie minder kilojoules as meeste ander ystees bevat, kan mens maar lustig drink sonder om skuldig te voel dat jy onnodig jou kilojoule-inname verhoog.
Skemeraand word die vure aangesteek – dis tyd vir ons eerste pot – ‘n heerlike tamatie-lamskenkelpot met Mediterreense geure saam met koeskoes. Omdat mens nie rou vleis oor die grens mag neem nie, het Hannalise alreeds die skenkels vooraf gaargekook, nou moet net die finale afronding gedoen en groente bygevoeg word wat ons by Mokala ingeskeep het. Terwyl broer Oubaas die vure stook en kyk dat die pot nie aanbrand nie, kom ons agter daar is WIFI-opvangs en kan ons die Wêreldbekerrugby op die rekenaar volg.
‘n Yskoue Piekenierskloof Grenache Blanc is vanaand ons keuse. Ek hou van die volronde mondgevoel met vars sitrusgeure van die wyn saam met die Meditereense kruiegeure van die tamatiepot wat die gereg lekker “lig” eerder as swaar en “vleiserig” maak. Grenache Blanc is uiteraard die ideale pasmaat vir die bekende Franse seekosdis, bouillabaisse, wat ook tamaties as basis het, Ons smul.
Die maan kom op oor die Kalahari en dis tyd vir bed toe gaan. Die houtkapper wat in die boom neffens ons staanplek vir hom ‘n slaapplekkie uitgekap het, protesteer luidkeels omdat hy vanaand sy slaapplek moet deel. Érens in die donkerte blaf die blafgeittjies en maak die kamele onaardse geluide. Hulle is nogals ‘n skrik op die sisteem as hulle jou onverhoeds betrap op pad “ablusie” toe. Vanuit ons daktentvenstertjies wat ons heeltemal oopgerits het, beskou ons die uitspansel se magdom sterre wat skitter blink teen die nagblou hemel. Salig en ons sê “good night” aan dag 1 in Botswana. Dou voor dag môreoggend durf ons die sandpad aan na Mabuasehube.

MEDITERREENSE SKENKELPOT
Hierdie is my weergawe van Hannalise se smullekker skenkelpot — ek prut die vleis en groente soos aartappels en wortel saam in een pot en maak die tamatiesmoor in ‘n ander een wat ek dan net teen die einde by die vleis voeg, want dit sukkel nogals om groente in tamatie saggekook te kry. Vir my potjie het ek die vleis met ‘n Griekse-droësmeersel (rub) ingesmeer voordat ek dit in die pot gebraai het. Die smeersel is van Simple Truth en bevat ‘n heerlike kombinasie van seesout, knoffel, kruie, paprika, mosterdsaadjies en bietjie suiker. Ek gebruik ook van Carmién se Revive rooibostee (met groen rooibosbasis) wat nie net ‘n effense kruiegeur gee nie, maar ook help om die vleis te versag.

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 1½uur

Sowat 45—60 ml (3—4 e) Griekse knoffel-en-kruiesmeersel (Simple Truth)
Olie
Sowat 3 kg skaap- of lamskenkels (met lang bene indien verkies) of in stukke gesaag
Paar spatsels balsamieke asyn en sojasous
Sowat 750 ml (3 k) m se Revive rooibostee met brandrissie en gemmer (sowat 4—6 sakkies)
1 bossie wortels, sowat 6—8, skoongeskraap en in stukke gesny
4—6 aartappels, geskil en in stukke gesny
3 uie, gekap
4—6 knoffelhuisies, fyngedruk
2 cm stuk vars gemmer, gerasper
2—3 groen, geel en/of rooi soetrissies, in stukke gesny
1 eiervrug, in stukke gesny (opsioneel)
6 vars tamaties, in stukke gesny
2 blikke tamatie-en-uiesmoor
4 sakkies (50 g elk) tamatiepasta
80 ml (⅓k) gekapte vars kruie soos roosmaryn, tiemie, ment, pietersielie en basilie
60—80 m l(¼–⅓k) blatjang (ek het my dadel-en-tamatieblatjang gebruik – sien resep hier)
Carmién se Revive rooibostee soos nodig
Bietjie suiker
Sout soos nodig
Gerasperde skil van 1 suurlemoen

1 Meng die smeersel met olie tot lekker loperig en vryf die vleis goed daarmee in.
2 Verhit klein bietjie olie in ‘n swartpot (ek het ‘n nommer 12 platpot gebruik) en braai die vleis bietjie-vir bietjie tot lekker bruin.
3 Spat balsamieke asyn en sojasous oor, verlaag die hitte (oor matige kole) en laat prut tot die vleis so te sê sag is. Voeg tee by soos nodig.
4 Voeg die aartappels en wortels by en laat prut tot net sag, maar nie stukkend gekook nie, voeg tee by soos nodig.
5 Braai die ui, knoffel, gemmer en soetrissie in ‘n aparte pot tot sag. Voeg die eiervrug by en braai effe.
6 Voeg dan die tamaties, tamatiesmoor, tamatiepasta en kruie by saam met rooibostee soos nodig.
7 Laat prut tot die eiervrug en tamaties heeltemal saggekook en stukkend is en ‘n lekker smoor gevorm het.
8 Voeg blatjang en suiker asook sout by na smaak en laat prut tot geurig.
9 Voeg die tamatiesmoor by die vleis en groente en laat net lekker deurkook.
10 Rond af met gerasperde suurlemoenskil en sit voor met koeskoes of basmati-rys.

Leave a comment