Op safari 1

Ons is weer veilig tuis na ‘n onvergeetlike kuier in die Kalahari van Botswana en oor die volgende week of meer móét ek net die lekker en die mooi met julle deel. Hierdie week oornag en reis ons tot net oor die Botswana-grens.

Dis nog stikdonker toe die bakkie sy neus noorde se kant toe steek, vir oulaas word die lysies afgemerk, die sonpanele en battery is gekoppel; ons het van water tot diesel en genoeg droë proviand vir ‘n week se “wild camping” in Mabuasehube in die suide van Botswana. Vleis en groente het ons vooraf by die vriendelike Johan van Zyl van Mokala Farmers Supplies in Tshabong bestel. By die huis het ek getoets hoe die slapery in die daktent sal werk en is aangenaam verras met die lekker knus blyplekkie wat van pakplek vir ‘n paar goedjies daarbo asook laaiplek vir selfone en kameras het. Die gerief waarmee dit oop- en toeslaan sekerlik die grootste bonus; o ja, die trap na bo is net so gemaklik. Die skadudakkie trek ruim oop rondom die bakkie met die storttent wat vinnig langs die kant van die bakkie neertuimel. Die laaisisteem agter in die bak (wat my man eiehandig met grootste presiesie gebou het) werk soos ‘n droom en alles het ‘n spesiale plekkie. Ek is gerus.

By VanRhynsdorp ry ons die res van die geselskap in en ons reis in konvooi verder. Glo dit as jy wil, maar toe ons VanRhynspas uitklim, begin dit reën en by die gebruiklike stopplek met die pragtige uitsig oor die Knersvlakte is alles dik toegemis. Maar ons pak ons padkos uit en lê weg aan die hardgekookte eiersslaai, frikkadelle, hoenderboudjies en toebroodjies.

Dis skemeraand toe ons goed uitgeput by die Molopo Kalahari Lodge net anderkant Askam/vanZylsrus en net sowat 5 km vanaf die Botswana-grens stilhou. Vernoem na die meestal droë rivierloop wat hier verbyloop, is hierdie ‘n groen oase in die rooi sand van die Kalahari wat hier met reg die groen groen Kalahari genoem word. Ons slaan ons stoele onder die paledak by die lapa op (elke staanplek het een), steek die vuur aan en maak ‘n yskoue wyntjie oop terwyl die Kalaharison agter die duin begin verdwyn. Vanaand braai ons sosaties (wat ons in ons haas vergeet het om in te pak, gelukkig is daar nog ‘n laaste pakkie by die Woolies by die petrolstasie in Upington.)

Die gedagte was ook om die res van ons padkos hier te geniet, maar die Molopo Lodge verras elke kampeerder vanaand met ‘n heerlike warm tuisgebakte brood. My skoonsus diep ‘n bottel tuisgemaakte appelkooskonfyt uit die koslaai van hul Cruiser op en ons bydrae is droëwors en biltong. Net reg om te geniet as versnapering saam met die pragtige ligte pienk Grenache Rosé van Piekenierskloof wat my broer spesiaal al vroegdag in sy kampyskas gepak het. Die aarbei-, kersie- en bessiegeure met ligte roosondertone werk heerlik saam met die soetsuur van die appelkooskonfyt en warm korserige brood en is ‘n lekker kontras met die soutige biltong en droëwors. Ons smul en drink op die avontuur wat voorlê. Vanaand “was” ons vir oulaas in die luukse van ‘n propperse badkamer wat daar by elke kampeerplek is.

Die broodresepte wat ek hier gee, is een vir ‘n volkoringroerbrood asook ‘n bruismeelbrood, albei kan diens doen vir potbrood wat jy oor die vuur kan gaarmaak. Bak die brood oor stadige kole en pa kook ‘n paar op die deksel van die pot om ‘n mooi korsie te gee.

TUISGEBAKTE ROERBROOD

Ek het onlangs ook ‘n navraag ontvang vir tuisgebakte brood. Hier is my weergawe vir ‘n lekker volkoringbrood wat wel met gis gemaak word, maar nie nodig het vir knie nie. Lekker maklik. Ek meng sommer die droë bestanddele vooraf saam (en pak dit in ‘n seëlbare sakkies vir wanneer ons op ‘n tentsafari die binneland invaar), dan’s dit net vir water bygooi as jy wil bak. Jy kan ook potbrood hiermee maak.

Lewer 2 medium brode of 1 potbrood
Voorbereiding: 5 – 10 min
Baktyd: 50-60 min

BAKMENGSEL
1 kg volkoringmeel, verkieslik klipgemaal
250 ml (1 k) semels
80 ml (1/3 k) elk sesam-, lyn-, sonneblom- en pampoensade
10 ml (2 t) sout
1 pakkie (10 g) kitsgis
VIR BAK
4—5 x 250 ml (4–5 k) louwarm water
30 ml (2 e) olie
Ekstra sade vir bo-oor sprinkel

1 BAKMENGSEL Meng al die droë bestanddele baie goed saam en skep in ‘n lugdigte houer of sakkie. Hou in die koskas.
2 Giet die bakmengsel in ‘n mengbak. Meng die water en olie en roer by die bakmengsel in. Die beslag is slap.
3 Voorverhit die oond tot 190° C. Smeer 2 medium broodpanne of ‘n groot swartpot en sy deksel. Skep die beslag in, sprinkel ekstra sade oor en laat rys tot dubbel die volume op ‘n warm plek. Plaas die deksel op.
4 Bak vir 50-60 minute tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die brood kom of tot dit hol klink as jy daarop klop. Keer uit op ‘n bakplaat, plaas terug in die afgeskakelde oond vir nog 15 minute. Dit help dat die binnekant van die brood te klam is.

JAPTRAPBROOD
Die brood word sommer met bruismeel en karringmelk, jy kan selfs bier gebruik, gemaak. Bo-op versier ek dit graag met groente. Vir nog minder moeite kan jy brooddeeg by die winkel koop en ook lekker rondspeel daarmee.
Maak 1 brood
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 1h20 min

500 g bruismeel
Knippie sout
250 ml (1 k) gekapte stingeluie
500 ml (2 k) karringmelk of bier
1 rooi ui, gehalveer of jong beetjies
Paar stingeluie
1 wiel feta-kaas, in growwe stukke gebreek
Peper en seesoutvlokkies

Voorverhit die oond tot 190°C. Smeer ‘n 20 cm-losboomkoekpan.
1 Meng bruismeel, sout, gekapte stingeluie met karringmelk tot ‘n sagte, maar nie slap deeg.
2 Skep in die koekpan.
3 Rangskik die ui bo-op en pak paar stingeluie langsaan. pak stukke peperfeta-kaas op. Sprinkel peper en seesoutvlokkies oor.
4 Bak sowat 1h20 minute tot gaar. Sit voor met ‘n eiervrugsmeer of olyfsalsa.

Leave a comment