Vinnige pasta

Spaghetti bly my gunsteling pasta as ek vinnig moet kosmaak en deesdae gebruik ek nogals graag volkoringpasta wat nie net meer veel in het nie maar ook ‘n effense neuterige smaak het wat vir my heerlik is. Hierdie staatmakerresep met my geliefde vars Mediterreense geure van suurlemoen, olywe, balsamieke asyn, basiliekruid en songedroogde tamaties, is een van die staatmaakgeregte van ‘n groot kosvriendin van my, Elmarie Berry. Haar kos-en-wynblog het onlangs ‘n groot prys gewen by die internasionale Gourmand Awards vir kosskrywers en haar kookboek, Kosbaar, wat sy ‘n jaar of wat gelede uitgegee het, het ‘n spesiale staanplek in my kombuis. Die boek is nie net mooi nie, dis inspirenend, maar ook prakties om uit te kook. Sy vertel die resep is deur haar Lebanese ouma, Cedar Brink, geïnspireer. Sy was baie gesondheidsbewus en baie lief vir suurlemoen – buiten dat sy elke oggend ‘n glas suurlemoenwater gedrink het (‘n gebruik wat ek ook nogals deesdae graag doen – help veral om die PH-vlakke te alkaliseer), gebruik sy suurlemoen ruimskoots in haar kos.

MEDITEREENSE HOENDERPASTA

Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 20 min.

3 hoenderborsfilette, in blokkies gesny
sout en peper na smaak
1 knoffelhuisie, fyngedruk
olie
30 ml (2 e) Dijonmosterd
160 ml (⅔ k) room of romerige jogurt
5 ml (1 t) mielieblom
60 ml (¼ k) balsemieke asyn
60 ml (¼ k) vars suurlemoensap
125 ml (½ k) sondroë tamaties in vinaigrette, gekap
125 ml (. k) ontpitte swart olywe gedreineer
1 pak 500 g volgraanspaghetti, gaar gekook
2-3 LEbanese komkommers, in linte gesny
’n paar kersietamaties, gehalveer (opsioneel)
vars basilieblare, gekap
vars gerasperde suurlemoenskil van ‘n halwe suurlemoen

1 Geur die hoender met die sout en peper, en braai saam met die knoffel in ’n bietjie olie tot net gaar.
2 Meng die mosterd, room en mielieblom, voeg by die hoender, en roer tot die sous kook en effens verdik.
3 Roer die asyn en suurlemoensap by; laat weer kook.
4 Meng die tamaties en olywe by.
5 Meng die sous deur die pasta en stapel die komkommers en tamaties (indien gebruik) bo-op. Sprinkel die basilieblare en suurlemoenskil oor.
Sit warm voor.
Die byvoeging van mielieblom by die sous keer dat die suurlemoensap die romerige sous laat skif (ek gebruik somtyds romerige jogurt pleks van die room).

Leave a comment