Deel van die lekkerte om na jou vakansie-bestemming te reis is mos maar die eetgoed wat saam ingepak word en waaraan almal deurentyd kan peusel. Buiten vir padkos wat moet instaan vir ‘n ete (en waarvoor ons graag stop langs die pad), is dit altyd die houer met soetigheid wat goed aftrek kry. As dit by koekies kom, verkies ek om my eie te bak. Ek neig mos maar altyd na die gesonde kant, so ek bak veral graag koekies met hawermout in. Destyds se crunchies was nog altyd ‘n groot gunsteling, maar oeg, net die blote gedagte aan die baie botter en suiker, het klaar my maag op ‘n knop laat trek. Deesdae meng ek ‘n bietjie gekapte dadels by om soetigheid te gee en gebruik klapperolie vir die bros lekkerte. Vir die kinders is enige iets met bietjie sjokolade in altyd spesiaal en saam met hawermout is dit tog te lekker. Kleintyd het ons altyd self vir ons chocolate clusters gemaak en dis net sulke lekker inpak-soetigheid. Ek sien in een van my vroeëre Wenresepteboeke het ek dit die gepaste Afrikaanse naam van sjokolade-bondeltjies genoem. Die suikerinhoud daarvan was ook maar goed hoog – 2 koppies op 3 koppies hawermout!
Nou het ek dit reggekry om die suikerinhoud daarvan goed af te bring tot net sowat 300 ml en jy kan selfs ‘n suikerplaasvervanger soos eritritol gebruik wat ‘n heerlike brosheid aan die koekie verskaf en heel bekostigbaar is.
Vir drinkgoed is die koffiefles altyd byderhand, maar deesdae is ek net so lief om ‘n sakkie of wat van Carmién se Cold Brews in ‘n waterbottel te gooi en deurentyd daaraan te teug – niks meer is daarby nodig nie, want dis alreeds effe versoet met stevia-blaartjies (nie die poeier wat ‘n bitter nasmaak het nie). Sodoende bly jy lekker gehidreer gedurende die rit. As daar kinders by is, kies ek uit die Kiddies-reeks, want dis ewe lekker vir die kleingoed en grootmense!
DADEL-EN-SAADHAWERMOUTSTAFIES
Ek het ‘n verknogtheid aan oudag se ‘oats crunchies’, maar sjoe, dit wemel van suiker en vet. Hier verleen dadels die meeste soetigheid met net 3 eetlepels suiker en ‘n derde koppie olie wat bykom. Die sade verleen daardie nodige “crunch” aan die stafies. Hierdie en nog vele heerlike gesonder resepte is beskikbaar in my nuutste resepteboek: Lekker&Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid. Kyk uit daarvoor in boekwinkels asook op die Carmién-webtuiste.
Maak 18 stafies
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 30—45 min
250 g dadels, gekap
125 ml (½ k) warm lemoen-chai-rooibostee (3 sakkies)
1 eier, geklits
250 ml (1 k) hawermout
250 ml (1 k) klapper (helfte hiervan kan met nog hawermout vervang word)
60 ml elk (1/4 k) geroosterde sonneblomsaad, en pampoensaad
125 ml (1/2 k) koekmeel of glutenvrye meelmengsel
5 ml (1 t) koeksoda
5 ml (1 t) kaneel of gemengde speserye
Knippie sout
80 ml (1/3 k) klapperolie of botter
45 ml (3 e) bruinsuiker of heuning
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n 20 cm-vierkantige koekpan goed.
1 Plaas die dadels in ‘n bak, giet die warm tee oor. Laat staan minstens 5 minute, voeg die eier by.
2 Meng die droë bestanddele saam.
3 Smelt die klapperolie of botter en bruinsuiker of heuning saam. Meng met die dadels.
4 Voeg die droë bestanddele by die dadelmengsel en meng goed.
2 Druk vas in die voorbereide pan en bak 30–45 min tot goudbruin bo-op en stewig.
3 Koel heeltemal af en sny in stafies.
4 Verpak in ‘n lugdigte houer.
