Padkos

In my huis heers groot opgewondenheid, want dis byna tyd om te verkas op ‘n lang verdiende vakansie, al die pad Kalahari toe om daar ‘n bietjie te gaan ontspan en die natuur te geniet. Maar soos altyd die geval, is die reistyd vir ons net so lekker en spesiaal en geniet ons die ryery. Dis defnitief nie net ‘n gejaag om tot by ons bestemming te kom nie. Vir my is die mooiste om te sien hoe die natuur verander, die laaste van die Weskus blommeprag (alhoewel baie keer pak ons dié entjie pad in pikdonkerte aan), dan die groen bergagtigheid tot kort voor Vanrhynsdorp waar ons dan die Knersvlakte oor en op met VanRhynspas. Gewoonlik is ons eerste koffiebreek by die uitkykpunt bo-op die pas waar jy so mooi oor die vlakte uitkyk. En dis dan wanneer die padkossak te voorskyn gehaal word (een van my mooi koelsakke is ideaal om hiervoor te gebruik, nie net pragtig nie, maar hou koue en warm geregte ewe goed by die regte temperatuur. En hulle is lekker stewig – kyk op Carmién-webtuiste – hulle is nou beskikbaar teen ‘n spesiale prys).

Padkos is ‘n móét as ons op ‘n lang trippie gaan – buiten vir smaaklike toebroodjies (ek gebruik deesdae graag daardie vierkantige saadbroodjies hiervoor), is ons nogals lief vir ‘n hardgekookte eiertjie (glo dit as jy wil) wat ek saam met ‘n paar slaaigoed wat goed kan hou, inpak en maak ook ‘n suursousie daarby; andersins vorm dit bloot deel van die toebroodjievulsels. Daarby frikkadelle (wat lekker lossies gaargemaak is) – die suursousie is ook heerlik hierby. En dan die gewoontelike biltong en droëwors wat in porsiegrootte sakkies verpak is. Soetigheid bly ook nie agter nie: sjokolade-clusters en hawermoutcrunchies (wat ek intussen ook gesonder gemaak het – sien meer hieroor in volgende post). Ek hou ook daarvan om ‘n sakkie of wat neute-en-sademengsels in te pak, waaraan mens heerlik tussendeur kan peusel – as die tyd my nie inhaal nie verwerk ek dit soms ook in ‘n vinnige cluster deur donker sjokolade te smelt en die neutemengsel daardeur te roer en dit dan weer in hopies te laat hard word. Gewapen met al hierdie heerlike kossies in ons padkossak word die langpad een groot avontuur.

HARDGEKOOKTE EIERSLAAI MET SUURSOUS

Hierdie eenvoudige slaai is onbeskryflik lekker. Vir padkos pak ek die bestanddele apart in meng dit dan wanneer dit by ete kom. Andersins kan jy dit in lagies pak. Die sous, wat ons sommer bloot suursous genoem het, is ‘n ou-ou resep gemaak met eiers, asyn en suiker. Teen die Weskus kry jy dit saam met gebraaide lewertjies vir ontbyt. Ek het die suiker van die oorspronklike resep heelwat verminder en hou daarvan om bietjie jogurt by die sous te voeg om dit lekker romerig te kry, dan is selfs net blaarslaai genoeg daarby.

MOSTERDSLAAISOUS
3 eiers, geklits
60 ml (¼ k) water
60 ml ( ¼ k) appelasyn
60 ml ( ¼ k) suiker
20 ml (4 e) matige mosterdpoeier of 30 ml (2 e) klaarbereide mosterd
2 ml (½ t) sout
Sowat 80 ml (⅓ k) natuurlike jogurt
SLAAI
4 eiers, hardgekook
1 Iceberg (of Cos) blaarslaai, in wiggies gesny
2—3 wortels, in repe geskil met ‘n aartappelskiller
1 avokado, in repies gesny (opsioneel)
Bondel grasuie, gekap of andersins 1 klein rooi ui, in klein blokkies gesny

1 SOUS Plaas al die bestanddele in ’n swaarboomkastrol en klits goed met ‘n draadklitser. Roer aanhoudend oor lae hitte tot die sous glad en dik is. (pas op vir skif).
Laat afkoel en meng die jogurt in.
2 SLAAI Sny 3 van die hardgekookte eiers in skyfies. Skei die ander een se wit en geel en rasper dit apart. Hou eenkant.
3 Pak die blaarslaaiwiggies op ‘n groot slaaibord en skep bietjie van die slaaisous oor.
4 Rangskik die eierskyfies, wortel en avokado bo-op, druppel res van die sous oor en sprinkel die gerasperde eier en grasuie bo-oor.

Lekker los frikkadelle

Vir padkos of handkos kan jy die frikkadelle saam met blaarslaai en miskien ‘n skyfie tamatie en ui in ‘n pita sit en van die suursous oorskep (of andersins skep die jogurtpesto oor.)

Lewer sowat 18 middelslag frikadelle
Bereiding: 20 min
Rustyd: 20 min
Gaarmaak 20 min

FRIKKADELLE
1 kleinerige ui, gekap
1 knoffelhuisie, fyngedruk
olie
400 g elk gewone beesmaalvleis en ekstra-maer maalvleis
1—2 wortels, geskraap en gerasper
20 g pietersielie, gekap
1 eier
2,5 ml elk (½ t) komyn, paprika
5 ml (1 t) fyn koljander
15 ml (1 e) Worcestersous
60 ml (¼ k) hawermout
Gerasperde skil van 1 suurlemoen
Sout en peper na smaak
SOUS (opsioneel)
375 ml (11/2 k) natuurlike jogurt
30 ml (2 e) koljanderpesto

Voorverhit die oond tot 190°C.
1 Braai die ui en knoffel in klein bietjie olie tot sag. Voeg die kruie by. Koel af
2 Meng die maalvleis liggies maar goed – werk met ‘n vurk.
3 Voeg die uiemengsel asook res van frikkadelmengsel by.
4 Vorm middelslag frikkadelletjies. Plaas in ‘n oondbak, giet bietjie water in die bak en verf elkeen liggies met olie.
5 Oondbraai sowat 20 minute of tot net gaar maar nie droog nie.
6 SOUS Meng die jogurt en koljanderpesto en sit voor saam met die frikkadelle indien verkies.

Wenk: Dis belangrik om die vleismengsel bietjie te laat rus sodat die hawermout kan versag.
Wenk: Jy kan die frikkadelle ook in die Airfryer gaarmaak.

Leave a comment