MAAK SPORE KERAMIEK

Dierespore is uniek van die Napierse beeldhouer, Nelis Singels, se reeks handgemaakte keramiekware wat hy heel gepas “Maak spore” gedoop het. Dié ekoloog gebruik sy ruim kennis van die natuur- en dierelewe om sy stempel op sy eiesoortige kunswerke af te druk. Diere soos ystervark, skilpaaie, groot grys muishond en duiker pronk statig op die borde saam met inheemse plante, baie keer dit wat die spesifieke dier eet. Maar die uniekheid van hierdie borde lê veral in die voetspore wat saam met die lynsketse van die diere op die borde pryk. Nelis is veral lief vir spoorsny (waarvan mens veral ook afleidings kan maak wat help om diere se gedrag te bepaal). Vir sy kunswerke maak hy gipsafdrukke van die spore wat hy in die veld rondom Napier vind. Dit dra hy dan op die “regte manier” (bv van hoe die dier sal loop) op keramiek oor – nogals ‘n ingewikkelde proses wat baie presiesheid en kundigheid verg as ek hom reg beluister.

Dié borde is almal uitstalmooi, maar net so ideaal om jou geregte pragtig in voor te sit en sal beslis ‘n tafelgesprek of twee ontlok. Ekself gebruik graag die borde om veral groentegeregte in voor te sit, want dit voel vir my gepas saam met die natuurlike elemente. Buiten vir die resep vir die filogroentetert wat ek hier verskaf, is die ander heerlike groenteresepte almal te kry in die uitgawe van 31 Augustus 2023 van Huisgenoot en YOU.

Ook in die reeks is koffie- en espressobekers asook melkbekers en vase, veral die renosterveld-reeks is baie indrukwekkend met plantegroei en lyntekeninge van tipiese voëls en diere wat jy in die Napier-omgewing sal vind. Op die nuutste borde is daar ook plantegroei-afdrukke saam met die spore.

Nelis het ‘n boetiekstudio in Sarel Cilliersstraat in Napier waar mens sy werke (ook unieke beeldhouwerke) kan besigtig of gaan loer op sy webblad: ReWildArt. Hy hou ook verskeie uitstallings elders soos by Imoff-plaas in Kommetjie asook in Rondebosch, Greyton Art Walk en Creative Napier Pop-up Art en is veral opgewonde oor die uitstalling by die bekende Glen Carlou-wynplaas buitekant Klapmuts teen die einde van die jaar waar hy van sy keramiekborde sowel as beeldhouwerke gaan uitstal.  

‘n Heerlike nuutjie is ‘n unieke geleentheid om op Saterdag 16 September saam met Nelis die natuur in te vaar en eiehands te ervaar hoe hy afdrukke van die voetspore vir sy keramiekware maak en dit dan omskep in kuns. Vir meer inligting skakel Nelis by +27 79065 8664 of besoek sy webblad ReWildArt.

FILOGROENTETERT

Slegs die kors, waarvoor ek sommer filodeeg gebruik, word gebak. Vinnig en maklik om te maak vir wanneer gaste onverwags opdaag en ideaal saam met ‘n skemeraand wyntjie of by ‘n vinnige koffie.

Genoeg vir 4—6 mense

Bereiding: 15 min

Gaarmaak: 20—30 min

FILOGROENTETERT

4 velle filodeeg

Gesmelte botter of kossproei

VULSEL

Sowat 100 g sterk Cheddarkaas, gerasper

Olie

1 rooi ui, gekap

125 g spekvleis, in stukkies gekap

250 g sampioene, kleiner gesny

1 eiervrug, in klein stukkies gesny

4 gepiekelde songedroogde tamaties, opgekap

Handvol vars kruie soos basilie en platblaar-pietersielie

Spatsel balsamieke asyn en sojasous

Groot handvol swart en groen olywe

Paar langsteel kappertjiesade

Vars basilieblare vir afronding

Voorverhit die oond tot 180°C. Suit ‘n langwerpige losboom-tertpan met kossproei.

1 Smeer elke vel filodeeg met botter of spuit met kossproei en plaas binne-in die voorbereide tertpan. Bak sowat 15—20 minute lank of tot gaar en goudbruin. Sprinkel die kaas oor die kors.

2 Verhit bietjie olie in ‘n pan ben braai die spekvleis, sampioene  en eiervrug tot gaar en bruin.

3 Voeg die tamaties en kruie by en meng deur, geur met ‘n spatsel asyn en sojasous.

4 Meng die olywe by en verhit tot warm.

5 Skep die groentemengsel op die kaas in die filotertkors en plaas net weer vinnig in die oond tot die kaas gesmelt is, sowat 10 minute lank.

6 Rond af met kappertjiesade en basiliekruidblare.

Leave a comment