Dit bly steeds vir my ‘n wonderwerk hoe alles in die planteryk baldadig aan die groei gaan sodra die lente aanbreek. Deur die winter moes ek my maar grotendeels verlaat op sakkies winkelkruie, maar nou het ek opnuut weer vir my ‘n lekker lot basiese kruieplantjies aangeskaf waarmee ek tog alte lekker in die kombuis woeker. Deesdae hou ek hulle sommer in potte wat ek op die kombuisvenster staanmaak, lekker naby vir wanneer ek kook. En soos ek alreeds voorheen genoem het, hou ek veral daarvan om verskillende soorte pesto’s daarmee te maak, want ja, die moontlikhede raak net nie op van hoe jy dit kan afwissel na gelang van watter soort kruie jy gebruik nie.
So kry ek ook mos gereeld sulke bevliegings waar ek my vir lang tye omtrent sal vergryp aan een tipe kos – my nuuste gier is ‘n tipe Caprese saad-volkoringbroodjie — dikgesmeer met basiliepesto en gelaai met skyfies tamatie, miskien ‘n slaaiblaar of roket met skyfies kaas en afgerond met ‘n basilieblaartjie of twee. My mond water sommer al weer soos ek hier skryf.
Die pesto’s kan egter met groot sukses ingespan word om vinnig geur te gee as jy kook. Ek is juis nou besig om ‘n paar resepte uit te toets vir wat ons wil maak tydens ons Botswana-trip einde van die maand waar alles of gebraai, of in ‘n pot gaargemaak moet word. My uiters gewilde oondgebakte Franse hoender het ek juis toe verwerk dat hy net so goed in ‘n pot werk deur pesto saam met die wyn te meng waarin die hoender dan moet marineer. Toe ek egter die pesto wil maak, kon ek nêrens koljander op kort kennisgewing opspoor nie (dit is nou een ding wat ek nie tuis gekweek kan kry nie, al het Cass Abrahams altyd gesê dit groei soos hare op ‘n hond se rug). Gekoopte koljanderpesto is toe maar al uitweg.
Maar pesto wil ek maak – my NutriBullet staan nie verniet permanent op die kombuistafel slaggereed vir gebruik nie. Ek werk vinnig deur my lot kruie en besluit om ‘n tipe Thaise pesto te maak met ment en pietersielie – en hoe lekker is dit toe nie – net reg om hoenderfilette mee geur te gee, maar van lamstjoppies of vark tot verskeie groentes soos groot bruinsampioene sal net so goed daarmee werk.
THAISE PESTO
3 knoffelhuisies, geskil
3 cm stuk gemmerwortel, fyngerasper
1 suurlemoen se gerasperde skil en sap
Sowat 20 g pietersielie (hoef nie Italiaanse platblaar te wees nie)
10 g mentblaartjies
Goeie skoot soesjie-asyn (rys-asyn)
Sowat 30—45 ml (2—3 e) sojasous
100 g sonneblomsade
Sowat 100 ml (of meer) olyfolie
1 Plaas al die bestanddele buiten die sonneblomsade en olyfolie in die NutriBullet en verwerk tot goed fyn.
2 Voeg die sonneblomsade en olie by en verwerk tot die sade bykans fyngekap is maar steeds effe grof.
3 Geur met sout indien nodig en skep in ‘n skoon botteltjie. Hou verkoel.
EENSKOTTEL-PESTOHOENDER
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 20 min
4 hoenderborsies, ontbeen en velletjies verwyder
Sowat 250 ml (1 k) Thaise pesto
sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
olie
450 g vars jong groenbone of 200 g baba-spinasieblare
250 g kersietamaties, gehalveer indien verkies
parmesaankaas vir bo-oor sprinkel (opsioneel)
1 Sny die hoenderborsies in repies en plaas in ‘n mengbak. Voeg die pesto by en meng deur. Laat staan te minste ‘n halfuur lank.
2 Geur met sout en peper.
3 Verhit bietjie olie in ‘n groot pan en braai die hoenderrepies vinnig daarin tot net gaar.
4 Voeg die groenbone of spinasie saam met die tamaties by en roerbraai tot goed warm en die tamaties effe oopgebars het. Geur met nog sout en peper soos nodig.
5 Skep op in ‘n bak en rond af met skaafsels parmesaan indien verkies. Sit voor met stywe mieliepap of polenta of selfs pasta.
