Uiteindelik is dit September en amptelik lente! Hier teen die Weskus is die weer nog maar deurmekaar, en ons het alreeds ‘n paar hittige dae beleef net om dan weer opgevolg te word met yskoue reëndae of ‘n vinnige buitjie teen so laataand se kant. Rondom my, in die oop veldjie oorkant die huis en teen die koppie op, is die veld oortrek met ‘n blommekleed. Oranje, goudgeel; met spatsels pers en blou tussen-in. Jy kan nie ophou kyk na die mooi nie (ons het nie eens nodig om ‘n tree te ry om die blommeskouspel te beleef nie). Selfs my vetplant-tuintjie voor die huis is uitspattig getooi in veral bondels pers met die olyfbome en lourierboom wat baldadig hul nuwe groei wys. Vroegoggend kuier die voëls reeds in die tuin en as ek die agterdeur oopskuif, begroet ‘n pienk-oranje ligskynsel vanuit die ooste my. Dan weet ek, nou kan ek maar weer begin slaai maak – van altyd af mos nog een van my gunsteling kosse en tog so maklik om aanmekaar te timmer.
Lenteslaai
Hierdie eenvoudige slaai met lekker baie groenigheid smaak heerlik met ‘n sitrusslaaisous (ek het juis oor die naweek nog die lekkerste lemoene en sagtesitrus van die plaas af gekry). As jy wil, kan jy ‘n paar skyfies lemoen ook by die slaai inmeng.
Dis tog alte maklik om krakelinge te maak met sade en neute in – saam met ‘n kasie rond dit die slaai perfek af en is net reg vir ‘n ligte middagete.
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 10 min
LEMOENMOSTERD-SLAAISOUS
125 ml (1/2 k) lemoensap
Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
30 ml (2 e) soesji-asyn
30 ml (2 e) olyfolie
2 knoffelhuisies, fyngedruk
15 ml (1 e) korrelmosterd
5 ml (1 t) Dijonmosterd
15 ml (1 e) heuning
45 ml (3 e) vars gekapte pietersielie, koljanderblare en ment (opsioneel)
Sout & varsgeknakte peper na smaak
KRAKELING
125 ml (½ k) sonneblomsade
125 ml (½ k) pampoensade of amandelvlokkies
Groot handvol bruinsuiker
Spatsel balsamieke asyn
SLAAI
250 g vars jong groenbone, gehalveer indien nodig
1 pak (250 g) baba-spinasie en/of roketblare
Paar gekleurde jong bete en/of radyse, in dun skyfies gesny of andersins ‘n paar lemoensegmente
Halwe wiel camembertkaas of ‘n rol roomkaas, in wiggies of skyfies gesny
1 SLAAISOUS Plaas al die bestanddele in ’n beker en meng goed met ‘n staafmenger.
2 KRAKELINGE Plaas die sonneblom- en pampoensade saam met amandelvlokkies in ‘n droë pan en braai tot dit net-net ‘n ligte goudbruin kleur het – skud die pan gereeld en pasop vir aanbrand.
3 Sprinkel die suiker en asyn oor en verhit tot die suiker net-net gesmelt het.
4 Giet die mengsel op ’n silikoonmat of met oliegesmeerde pannetjie uit en laat afkoel tot hard.
5 Giet kookwater oor die bone en verhit tot effens versag maar nog baie bros. Verfris onder koue water. Giet bietjie van die slaaisous oor.
6 Rangskik die blare en groenbone op ’n opdienbord.
7 Sprinkel van die beet- en/of radysskyfies oor.
8 Plaas die camembert of roomkaas bo-op.
9 Kraak die krakeling in stukke en sprinkel oor die slaai.
11 Sprinkel van die slaaisous oor en sit voor met res van die slaaisous.
